NGK moet leer om te kommunikeer

Kyk ook:

In die volgende twee artikels wat op Netwerk24 verskyn het, is dit duidelik dat daar baie ongelukkigheid is oor die manier hoe die Belharkwessie in die NGK hanteer is.

*********

‘NGK moet leer om te kommunikeer’

WOORDFEES-GESPREK

Te veel teenstrydighede, sê Jean Oosthuizen

Deur Malani Venter, Donderdag 12 Maart 2015 05:00

Die NG Kerk moet leer om te kommunikeer. Hy slaag tans nie daarin om met sy lidmate te kommunikeer nie.

“En ’n mens kan dit sien as jy net kyk na die Belhar-nagmerrie wat tans aan die gang is. Die kerk se kommunikasie werk nie,” het Jean Oosthuizen, voormalige nuusredakteur van die Kerkbode, op die sesde dag van die Universiteit Stellenbosch se Woordfees gesê.

Die onderwerp was “Wie is die NG Kerk? Oor bastions en onsekerheid.”

Oosthuizen was twee jaar gelede betrokke by die debakel toe die Kerkbode hom as borg van gesprekke oor godsdiens aan die Woordfees onttrek het. Die paaie van die Tydskriftemaatskappy, uitgewer van die Kerkbode, en dié van Oosthuizen, toe nog nuusredakteur, het daarna geskei. [Kyk Jean Oosthuizen afgedank.]

Oor kommunikasie in die NG Kerk het Oosthuizen vervolg: “Daar is te veel teenstrydighede en daar word te veel met woorde gespeel. Vir die kerk om te slaag om sy boodskap oor te dra, is beter kommunikasie nodig.”

’n Medespreker by die gesprek, prof. Nelus Niemandt, voorsitter van die NG Kerk se algemene sinode, het oor die Belhar-belydenis gesê: “Die een verrassende ding wat na vore staan, is hoe baie NG-lidmate passievol hieroor is.

“Dit het my verwagtinge oortref . . . die intensiteit van die debat en die passie daaroor . . . daar is in die NG Kerk ’n soort energie oor hierdie saak wat baie intenser en meer is as wat ek verwag het.”

Hierop het Oosthuizen gesê: “Ek sien nie daardie passie oor Belhar nie. Ek dink mense is al moeg om daaroor te praat omdat hulle nie meer weet wat die kerk eintlik sê nie . . . Is dit opsioneel, of is dit nie opsioneel nie? Dit is die goed wat mense deurmekaar maak.”

[As ’n mens kyk na die persentasie van lidmate wat gestem het, is Jean waarskynlik reg en Nelus verkeerd. Kyk In Kaap sinode sê 56% ja vir Belhar.]

Kommentare

Riaan van Zyl

Nee, Jean, julle sit beide die pot mis. Die NGK moet leer om eerlik te kommunikeer. Hulle moet besef dat die gemeentelede nie breinlose stemvee is nie. Waarom stem vir ’n situasie waar Belhar as “opsionele belydenis” aanvaar moet word as dit niks gaan meewerk om (die ooglopende doelwit) eenheid met die VGK te bereik nie. Die moderator van die VGK is op rekord dat sy by herhaling gesê het dat dit nie vir die VGK aanvaarbaar sal wees nie.

Dit beteken dat, as dit ons nie by die doelwit uitbring nie, daar ’n tweede fase moet wees. Daar kan net een van twee moontlike agendas wees. In fase twee word met die VGK ooreengekom dat alle ampsdraers in die nuwe denominasie wel verplig word om Belhar te bely of, meer waarskynlik, word Piet Naudé se pleidooi aanvaar dat alle belydenisse opsioneel word.

Nee, dit is nie gebrek aan kommunikasie wat die probleem is nie. Daar is baie moeite (selfs ’n spesiale uitgawe van Kerkbode) gedoen om te kommunikeer oor Belhar. Die probleem lê by die openhartigheid daarvan.

Jean Oosthuizen

Ja wel Riaan ek verskil nie van jou nie. Dit gaan oor eerlike kommunikasie en eerlike kommunikasie beteken tog ook beter kommunikasie maar jy is heeltemal reg. Eerlike kommunikasie sou ’n beter woord gewees het.

B B

Sjoe. Hierdie Jean ou is darem maar kwaad vir die NG Kerk. Byltjies slyp.

Hein Bertram

Soos Gary North op ’n kol sê: “There’s always the hum of an axe grinding in the background…”

**********

Lidmate moeg vir Belhar

(Het oorspronklik in Volksblad verskyn.)

Vrydag 13 Maart 2015 05:00

Volksbladse verslag van ’n gesprek op die Woordfees waaraan mnr. Jean Oosthuizen en prof. Nelus Niemandt deelgeneem het, staan onder die opskrif “NGK ‘kommunikeer nie goed met lidmate’ ”.

In hoeverre daar ’n kommunikasiegaping in die Kerk ontstaan het, blyk dalk die beste uit prof. Niemandt se stelling dat lidmate se entoesiasme en passie vir die Belhar-dokument sy verwagtinge oortref.

Dit impliseer tog dat hy minder entoesiasme verwag het, maar waarop het hy dan sy uitgesproke verwagting van steun vir die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde gegrond? Die wysiging wat die Kerk se belydenisgrondslag opsioneel wou uitbrei?

My waarneming bevestig eerder mnr. Oosthuizen se stelling dat mense moeg is om daaroor te praat, deels omdat hulle nie kan agterkom presies wat die Kerk probeer sê nie – moet ons glo of moet ons nie?

Gemeentes en sinodes is toenemend besig om dié voorstel te verwerp. Die punt is dat prof. Niemandt nogeens probeer om die werklikheid kommunikatief te transformeer; ’n mens kan dit ook propaganda noem.

Lidmate, gemeentes en sinodes se oordeel oor die voorgestelde wysiging is ’n werklikheid wat nie weggekommunikeer kan word nie.

Carel Boshoff

Ouderling, NGK Orania

Kommentare

Willem Agenbag

Ek stem volmondig saam.

Joseph van eeden

Belhar is in elk geval net nog `n stok waarmee die Afrikaner geslaan gaan word grotendeels danksy meelopers van die ANC wat dit wil afdwing en daar is absoltuut niks goeds in die sogenaamde Belhar nie.

Fanie BRINK

Ek stem saam!! Ons is nou gatvol vir Belhar en het genoed gehad! Stop al die verdere gepratery daaroor!!

Daan Pienaar

Onder die ou bedeling is gesê dat die Ned Geref Kerk die Nasionale Party in aanbidding is. Nou moet Belhar die kerk so transformeer dat dit die ANC in aanbidding word. Wil die kerkleiers nie maar net wakker word en eerder aandag aan die bestaande belydenisse gee nie? Wie van die voorstanders van Belhar preek nog ’n kategismuspreek? Daan Pienaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui