Is daar regtig ’n duiwel?

Kyk ook Frits, hoekom glo jy nie in die duiwel nie? (Jan Louw, 14 Okt 2021)

******

Is daar regtig ’n duiwel? | Netwerk24

Deur Frits Gaum

14 Oktober 2021

Bestaan die duiwel regtig? Frits Gaum bekyk die vraag na aanleiding van ’n hernieude debat oor die saak.

Daar is niks nuuts onder die son nie. Of in elk geval baie min.

Honderd jaar gelede was daar ’n verwoestende griep-epidemie soos nou met Covid-19.

En 60 jaar voor dit, in 1862, is in die NG Kerk rusie gemaak oor die bestaan van die duiwel (nes nou weer). Ouderling P.J. Joubert van Colesberg het ds. Thomas Francois Burgers (toe predikant van Hanover en later president van die Zuid-Afrikaansche Republiek) by die sinode aangekla oor, onder meer, sy siening van die duiwel. Burgers sou gesê het daar is geen Bybelse bewys dat die duiwel oor ’n stert beskik nie.

Op die ou end het dit tot groot onenigheid in die kerk gelei en uiteindelik tot ’n hooggeregshofsaak – wat die kerk verloor het – en tot appèl na die Geheime Raad (Privy Council) in Londen – wat die kerk ook verloor het. Burgers is uiteindelik met groot teensinnigheid deur die kerk in sy amp as predikant herstel.

Maar die vraag bly: Hét die duiwel ’n stert? Of duideliker: Is die duiwel ’n “persoon” soos dr. Bernhard Ficker en ander met drif betoog? En ook: Ontken die algemene sinode van die NG Kerk die bestaan van die bose en die duiwel?

Die bose om jou, ín jou

Om by die laaste vraag te begin: Die algemene sinode ontken nié die bestaan van die bose nie. Hulle het bloot besluit dat gelowiges self kan nadink of hulle reken die bose is ’n persoon of ’n mag wat in die wêreld, en in ons almal, woeker. Ons saligheid hang nie af van ons siening van die bose nie, wel van ons verhouding met Jesus Christus.

In sy aangrypende gedig “Ballade van die Bose” het N.P. van Wyk Louw die bose in eerste persoon laat praat: “Ek is in jou / gevleg, gerank / soos ’n wortel in / in die donker bank / en van voor die daeraad / se blank begin / straal ek by albei / jou oë in”.

Daar kan tog nie die minste twyfel wees dat die boosheid ’n werklikheid is nie. Kyk rondom jou, en jy sien die boosheid welig tier. Kyk in jouself, en jy sien die boosheid ook dáár “gevleg, gerank”.

Mense kan kies

Die bose se oorsprong is te vinde in die breuk tussen God en mens vanweë die mens se opstand teen God.

Dit duur vandag nog voort, ten spyte van die brug wat Jesus Christus tussen God en mens kom span het. Die bose skuil steeds in die gedagtes (“hart”) van mense. God het die mens na God se beeld gemaak, en daarom ook die vryheid gegee om vir of teen God, vir of teen goed en kwaad, te kies.

Mense kan kies en hulle kies dikwels teen God, teen goed. Dit is wanneer magsug en eersug uiteindelik by sommige oorloop in haat en vyandskap en oorlog.

Die Tweede Wêreldoorlog is hiervan ’n voorbeeld. Die ideologie van rassesuiwerheid en die magsug van Hitler en die Nazi’s het gelei tot die gruwelikste dade van onmenslikheid en tot die waansinnige optrede van mense wat op geen ander manier as “boos” beskryf kan word nie.

Geskep volgens Sy beeld

Is daar dus ’n duiwel? ’n “Persoon” wat êrens in die donkerste hoeke van die heelal hou, ’n ou (vrou?) met ’n vurk en ’n stert wat gereeld bose dinge in mense se ore fluister?

Nee, ek glo nie. Nie ’n “persoon” nie, maar wel ’n “mag” veroorsaak deur die mens se volgehoue opstand teen God, ongehoorsaamheid aan God en ontkenning van God.

Mense kies self om, in plaas van om God en die naaste lief te hê, God en die naaste te haat.

Dan het die mens se Godgegewe keusevryheid in boosheid ontaard. In die uiterste vorm kan die boosheid heeltemal beheer oorneem sodat die betrokkene ’n “duiwel” word. Dit kan seker van Nero en Hitler en Stalin gesê word.

Maar ook “mindere geeste” kan “duiwels” wees as hulle ander mense doelbewus leed aandoen en ander in hul menswaardigheid – as mense geskep volgens God se beeld – kwes.

Die Bybelskrywers praat, in aansluiting by die destydse premoderne denke, oor die duiwel op maniere wat nie vandag meer so kan geld nie. Dinge word soms in die Bybel aan bose geeste toegeskryf wat ons vandag weet waarskynlik mediese toestande soos vallende siekte of bipolariteit was.

*Vandag se denkwêreld*

Die bose het in daardie tyd op hierdie maniere voorgekom omdat dit in die destydse denkwêreld ingepas het. Vir postmoderne mense kom boosheid weer op ander maniere na vore, soos in sommige se vergoddeliking van die wetenskap. Dit is weer iets wat in vandag se denkwêreld pas.

Die Bybel praat soms wel van die boosheid as individu, ’n “persoon” – selfs iemand wat met die Here God kan redeneer, soos in Job se verhaal.

Dit is in sulke gevalle goed om vas te stel met watter genre (literêre soort) ons te doen het en wat die eintlike boodskap van die betrokke Skrifgedeelte is.

Die boosheid bestaan, soos ek dit sien, nie onafhanklik van mense nie. Die bose is ’n kanker in mense wat op hulle teer omdat hulle mense is.

Die boosheid kan daarom net “ek” sê as hy/sy/dit ’n mens in besit geneem het sodat daardie mens se “ek” die stem van die boosheid word. (Soos in Van Wyk Louw se gedig.)

Maar – en dit is so belangrik! – na die mate dat Jesus se Gees in ons woon en ons al hoe meer syne laat wees, na daardie mate sal die boosheid al hoe minder ’n bedreiging vir ons inhou. Want Jesus het, toe Hy op aarde was, nié aan die boosheid toegegee nie.

Terloops, die “duiwel” het nie ’n stert nie. Burgers was destyds reg.

* Dr. Gaum is die skrywer van_ *God op soek? – Oor geloof in ’n taai tyd (Naledi, 2016). Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui