Skrifinterpretasie: Wat is die norm of gesag vir my lewe?

Kyk ook:

*******

Skrifinterpretasie: Wat is die norm of gesag vir my lewe? | Kerkbode

Kerkbode

19 Augustus 2022

Chris Smith van Westonaria skryf: Ek reageer op die brief van prof Jonker van Stellenbosch insake die herinterpretasie van die Bybel.

Dit is duidelik dat daar ontwikkeling in die Bybel is. Dink gerus aan die rol van die vrou en ook die huwelik. In die Ou Testament is die vrou amper as ’n slaaf of besitting van die man beskou en sommige patriarge het selfs meer as een vrou gehad. Dit het verander met die voortgaande openbaring van God aan sy volk. In die Nuwe Testament word die vrou volkome erken en is die huwelik duidelik ’n band tussen een man en een vrou.

Lees ook: Inklusiewe taal: ’n Praktiese manier om geregtigheid te help bevorder

Die groot fout wat Jonker egter maak, is dat hy voel die ontwikkeling (hy noem dit herinterpretasie) moet voortgaan na die finalisering van die Bybel. Met ander woorde “ons weet nou beter as die Bybelskrywers”. Dit is in direkte kontras met die belydenisskrifte. Ons bely tog in die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 7, dat: “Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is.” En dan aan die einde van die artikel word die erns daarvan beklemtoon met: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie … (2 Joh :10).”

Die Nuwe Testament gooi ook nie die Ou Testament weg nie. Jesus se woorde in hierdie verband is duidelik in Matteus 5:17: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.”

Lees ook: Die geskenk van liggaamlikheid

Die groot probleem, en ek glo ook die groot verskil, met die dolerendes word saamgevat deur die volgende: Wat is die norm of gesag vir my lewe?

a. Moet die Bybel geherinterpreteer word deur omstandighede? – dit is hoe ek Jonker verstaan. Dan word my omstandighede die norm en tas dit die gesag van die Bybel aan. Of

b. Moet die Bybel die nuwe omstandighede interpreteer? Dan is die Bybel se lering, en die Bybel se norme, die gesag.

Daarom dat baie dolerendes voel die gesag van die Bybel word bevraagteken.

Indien die gesag van die Woord ondermyn word, word die fondament ondermyn, en gebeur dit al te dikwels dat sulke persone maklik ook hulle geloof verloën.

Mag ons getrou bly aan ons Koning Jesus Christus en buig voor sy gesag in gehoorsaamheid. Selfs al is dit onaanvaarbaar vir sommige mense of selfs vir menslike wette.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui