Wanneer gaan die ASM doleer?

Wanneer gaan die ASM doleer? | Kerkbode

18 Augustus 2022

Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Die ASM Dagbestuur se persverklaring van 12 Augustus laat ’n mens wonder wanneer die ASM gaan begin doleer oor die waarheid wat struikel in hulle eie geledere.

Ons is ook dankbaar vir baie mooi dinge in die NG Kerk, maar:

  • Wanneer begin hulle doleer oor diegene wat op verhewe wyse hulleself met ’n krom vinger regverdig deur te wys na ander se “Vreemde taal van verdagmaking en dreigemente het in die kerk opgeklink …”?
  • Wanneer gaan hulle doleer oor alles wat bloot as “talle valse bewerings” afgemaak word, terwyl die ware feite swart op geskryf staan in sinodale besluite en ander uitsprake? Wanneer sal hulle besef dat die vrede in die kerk nie weggeneem is deur sogenaamde “valse beweringe” nie, maar deur on-Skriftuurlike uitsprake en besluite wat selfs die klippe al begin om uit te roep?
  • Wanneer gaan hulle treur oor eie oortreding van die negende gebod deur lidmate te vertel: “Die waarheid is dat die Algemene Sinode nie in 2019 ’n beginselbesluit geneem het ten gunste of teen selfdegeslagverhoudings nie.”? Wat beteken die AS se opdrag dan dat ’n formulier opgestel moet word om saam met ons doop- en nagmaalformulier die seksuele verhouding tussen twee persone van dieselfde geslag kerklik te sanksioneer, bevestig en in te seën?
  • Wanneer gaan hulle treur oor die beledigende taal waarmee telkens na Kairos Netwerk verwys word? Die ware graad van “welwillendheid” waarop hulle roem word duidelik wanneer hulle ook hier na KN verwys as “drukgroepe … wat op ’n nie-kerkordelike wyse die kerk as gemeenskap van gelowiges se integriteit met verdagmaking en drukgroepvorming ernstig aangetas het.” Dit terwyl KN juis onder leiding van ’n span van die kerk se mees bekwame kerkregkundiges, deurentyd gepoog het om die regte kerkordelike pad te loop en gemeentes wat wou wegbreek ook so gelei het.
  • Wanneer gaan hulle begin treur en doleer omdat hulle na buite die foutiewe indruk skep dat hulle na KN uitgereik het, terwyl die teendeel waar is en naamlik dat ons reeds meer as ’n jaar sonder vrug wag om terugvoer te kry oor die omvattende skriftelike voorleggings wat ons aan die ASM gerig het?
  • Wanneer gaan die ASM begin doleer en treur oor hulle eie jaloesie (wat duidelik sigbaar word in die persverklaring) dat verskeie ander behoudende kerke plaaslik en internasionaal (bv Alliance of Reformed Churches in Amerca) reeds openlik toenadering en samewerking met Kairos Netwerk soek terwyl verskeie gereformeerde kerke hulle die afgelope tyd openlik van die NG Kerk gedistansieer het, weens sy teologiese dwaling? Weet ons lidmate al dat die ganse CRCA (Christian Reformed Churches in Australia) in Mei 2022 alle bande met die NG Kerk en Hervormde Kerk verbreek het weens hulle standpunte oor homoseksualisme? Dit nadat hulle reeds sedert 2018 sonder sukses die NG Kerk tot bekering geroep het.

Kom ons bid vir ’n dolerende ASM dan sal hulle persverklarings anders lyk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui