‘Gewone mense’ word al hoe meer randfigure

Kyk ook Van Coller se mening oor ‘randfigure’ in kinderboeke sy eie – Akademie (20 Junie 2022) waarin prof Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Akademie haarself distansieer van Hennie van Coller se opinie.

*******

‘Gewone mense’ word al hoe meer randfigure | Netwerk24

Hennie van Coller

07 Mei 2022

Selfs in kinderboeke sluip politieke korrektheid ál meer in, skryf Hennie van Coller.

Onlangs buk ’n klompie letterkundiges hulle oor ’n hele gerf kinder- en jeugverhale. “Gerf”, want dis inderdaad die uitsoekboeke wat beoordeel word vir belangrike pryse.

Die boeke bevat ’n wye verskeidenheid temas, is vernuftige, verbeeldingryke stories en meestal boeiend. Die treurmare dat daar min boeke vir Afrikaanstalige kinders sou wees, is lank reeds agterhaal. Sulke verwyte getuig van onkunde.

Verhale vir jong lesers is lank­al nie meer soet, didaktiese vertellings van kinders met geringe probleme wat ’n geselsie met die dominee moet hê, hulle net moet “regruk” en dan gaan alles weer klopdisselboom nie. Daar is geen maatskaplike of persoonlike probleem wat nie deur die boeke onder oë geneem word nie: molestering, verkragting, owerspel, siekte, dood, geestesprobleme, die verlies van ledemate of sintuie, homoseksualiteit, rasseprobleme en dergelike.

Wel word dikwels teruggeskram van plaasaanvalle, korrupsie, die verval van dienslewering, beurtkrag, staatskorrupsie, gewelddadige (en misdadige) openbare optrede van bepaalde groepe, regstellende aksie en die kwotastelsel. Gevolglik voel die meerderheid boeke bietjie na wêreldvreemde tekste wat onder die hande van ’n sensor deurgeloop het: soos weermagbriewe tydens die grensoorloë.

Die rede is afleibaar: Uitgewers gee implisiet (of eksplisiet) opdragte wat “hoort” in tekste en wat liefs vermy moet word. Die gevolg is ongelukkig ’n hoop politiek korrekte boeke wat óf handel oor ’n realiteit wat erg verteken is óf een wat geïdealiseer word.

Geen regdenkende mens kan beswaar maak teen die representasie van die genoemde maatskaplike of persoonlike probleme nie; wel teen die feit dat dit so oorheersend raak dat die vraag met reg geopper kan word of daar êrens dalk nog funksionele gesinne bestaan, met hardwerkende, liefdevolle ouers wat bloot soos honderdduisend ander gewone mense hul bes doen om eties en sinvol te lewe.

Selfs feëverhale ontsnap nie aan die eise van politieke korrektheid nie. Wee die skrywer wie se feetjies nie heuning uit blommetjies van álle kleure versamel nie; reënboë is immers dié metafoor vir ’n maatskaplike idille.

Een boek oor grootword se hoofpersoon is ’n meisie met voorbeeldige ouers wat die droom is van elke feministiese sosioloog of teoloog. Boonop was haar oupa ’n pro-struggle-joernalis, haar beste vriendinne swart en bruin én leer sy om ’n egpaar, bestaande uit twee mans, “te omhels”. ’n Mens verwag die hele tyd dat ’n gestremde Chinees en ’n tweeslagtige Oekraïense vlugteling hul opwagting moet maak; dan is alle “boksies getik”.

Die versugting van een kollega is na Tarzan of Rooi Jan. Net vir ’n verandering ’n man wat nie versukkeld, gekweld of paranoïes is nie; die droom – steeds – van baie seuns (én meisies). ’n Droom wat egter deesdae nie geopenbaar mag word nie.

Want jy lees nooit van hulle nie en sien ook nooit een TV-program van dié soort nie; randfigure raak immers die norm.

  • Van Coller is ’n emeritus professor en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat en buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui