Van Coller se mening oor ‘randfigure’ in kinderboeke sy eie – Akademie

*******

Van Coller se mening oor ‘randfigure’ in kinderboeke sy eie – Akademie | Netwerk24

AJ Opperman

20 Junie 2022

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom Sondag gedistansieer van prof. Hennie van Coller se onlangse rubriek waarin hy skryf dat “randfigure” in kinderboeke “die norm raak”.

Verder vind daar tans “indringend” gesprekke plaas weens die wye reaksie op die rubriek.

Van Coller, voorsitter van die Akademie se letterkundekommissie, se rubriek het op 7 Mei op Netwerk24 verskyn en handel onder meer oor die skaarsheid van “funksionele gesinne” in kinderliteratuur en skryf verder ras- en geslagsverhoudings weerspieël “politieke korrektheid”.

Volgens ’n verklaring van prof. Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Akademie, verwelkom dié instelling die “oop gesprek” wat tans op sosiale media oor Van Coller se rubriek woed.

“Ons beklemtoon graag dat die rubriek nie die Akademie se siening verteenwoordig nie, maar wel dié van die rubriekskrywer,” lui die verklaring.

“Oop gesprek en debat lê sekerlik aan die wese van intellektuele diskoers en word nie net deur die Akademie verwelkom nie, maar trouens aangemoedig. Dit wil blyk dat hierdie gesprekke gefasiliteer sou kon word deur agtergrondinligting te verskaf oor die aard en funksie van ons kommissies.

“Hierdie gesprekke van die SA Akademie word gevoer in die gees en letter van konstruktiewe intellektuele interaksie. Ons strewe is om voortdurend die integriteit en prestige van al ons gesogte toekennings te beskerm en te handhaaf. Dit geld in die besonder ook ons literêre pryse, byvoorbeeld die Hertzogprys vir letterkunde, wat reeds sedert 1914 toegeken word en as een van die heel belangrikste pryse in Afrikaans beskou word.

“Die Akademie vertrou dat die raad se verbintenis tot gesprekvoering en die bostaande agtergrondinligting verdere gesprekke oor ons letterkundekommissie ter verheldering sal dien. Ons verwelkom en sien uit na voortgesette konstruktiewe gedagtewisseling oor kwessies van belang op ons dinamiese Afrikaanse literêre landskap.”

Die Akademie bestaan uit ses kommissies wat die Akademieraad bystaan om sy take uit te voer.

“Die Letterkundekommissie (LK) adviseer die Akademie-raad in die algemeen oor letterkundige aangeleenthede en in die besonder oor die tien gesogte literêre pryse waarvoor die SA Akademie bekend is.”

Van Coller se pos is nie in die gedrang nie.

’n Kommissie word vir drie jaar aangestel en lede kan herbenoem word.

“Die uittredende kommissie kan name van nuwe kandidate aan die raad vir oorweging voorlê,” lui die verklaring verder.

“Die lede van ’n nuutverkose kommissie verkies telkens ’n voorsitter uit eie geledere en lê die naam dan vir bekragtiging aan die raad voor. Voorsitters kan twee termyne dien en daarna een termyn oorslaan voordat hulle herverkiesbaar is.”

Van Coller het aan Netwerk24 gesê die rubriek is in sy persoonlike hoedanigheid en nie namens enige instansie of organisasie geskryf nie.

“Gekonfronteer met die beskuldiging ‘slaan jy steeds jou vrou?’ is enige kriptiese antwoord onvoldoende. Ek het my daarom bereid verklaar om my rubriek (en elke woord daarin) op ’n openbare forum – wetenskaplik – te verdedig. Dit sal later geskied tydens ’n simposium oor kinder- en jeugliteratuur wat op my versoek gereël sal word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Vanselfsprekend is elkeen wat van my verskil dan welkom om ’n stuiwer in die armbeurs te gooi. Wat my betref, moet die saak oorstaan tot dan.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui