Geslagloosheid in keel afgedruk

*******

Geslagloosheid in keel afgedruk | Netwerk24

Norm, Limpopo

14 Mei 2022

Genade, dank die Vader! Ek het begin dink ek is buitengewoon.

Ek het die rubrieke van proff. Tanya van Wyk en Hennie van Coller in By (07.05) gelees. As dit nie vir die nugter uitroep van prof. Van Coller was nie, het ek werklik begin glo dat ek uit die hoofstroom in ’n systroom beland het.

Ek skryf dié brief onder ’n skuilnaam sodat ek nie volgens my ouderdom of beroep geoordeel mag word nie.

Ek is ’n wit Afrikaanse man.

Ek is verskeie jare met dieselfde vrou getroud en ons is geseën met twee kinders – ’n seun en ’n dogter. Hulle is op hul beurt onderskeidelik met ’n vrou en ’n man getroud en is ook geseën met kinders: seuns en dogters.

Daar is nie by een van ons twyfel oor ons geslag of seksualiteit nie. Ons is die gewone hy of sy. Ons word oorweldig deur mediaberigte, vermaak en alle vorms van massakommunikasie wat skynbaar probeer om ons te laat verstaan ons staan op die kantlyn, of soos prof. Van Coller impliseer, dat ons die randfigure en nie die norm is nie. Dit wil lyk asof ons nie meer deel vorm van die meerderheid nie; asof ons nie meer die norm is nie.

Desondanks is die meeste mense met wie ons te doen kry en met wie ek en my vrou selfs in ons beroepe werk, gewone, “normale” heteroseksuele mense, sommige getroud, sommige in verhoudings, maar die absolute meerderheid heteroseksuele mans en vroue.

Vanwaar dan die oordonderende geteem van mense met ander seksuele of geslagsoortuigings (of verwarring daaroor), dat ons die hele tyd aan hulle erkenning moet gee en ons lewe en uitsprake volgens hulle moet inrig en uitleef? En wee tog die arme­ siel wat durf waag om iets oor hulle kwyt te raak.

Soos Steve Hofmeyr gou geleer het, tref die Menseregtekommissie jou baie vinnig met ’n bliksemstraal nog voordat die ink droog is. Julius Malema kan verkondig wat hy wil, maar moenie iemand wat ander seksuele voorkeure het, enigsins bevraagteken nie.

Dan wil hulle dit ook in ons kinders se kele afdruk. Jy mag jou kind nie meer ’n “normale” opvoeding gee waar die kind geleer word van ander seuns of meisies nie, almal is nou ewe skielik geslagloos. Ons moet selfs almal baie liggies trap rondom mense wat daardeur verder verwar word en hulle die kans gun om “hulself te vind”.

Nee wat, dankie. Genoeg is genoeg. Ek weier om politiek korrek te probeer wees of om die ware randfigure as my norm te aanvaar. Daarom is ek baie selektief met wat ek op kykNET kyk of in die media lees of luister. Ek gun elkeen sy/haar/dit se plekkie in die son en respekteer elke mens se eie keuses in die lewe, maar moenie van my verwag om te aanvaar dat die son net skyn waar hulle is nie – of mag ek ook nie sê “hulle” nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui