Gemeente steier onder doop-twis

Kyk ook:

Ds Neil Olwagen is afgedank omdat hy die grootdoop aan lidmate bedien het. Streng gesproke verbreek ds Neil Olwagen sy legitimasie-eed. Daarin staan onder andere die volgende:

“…glo dat al die artikels en stukke van die leer vervat in die Belydenisskrifte en Formuliere van Eenheid – naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls,… Ek belowe om die voorgenome leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe.”

Die Heidelbergse Kategismus, Vraag 74 onderskryf die kleindoop. Hy kan dus nie ’n predikant van die NG Kerk wees en mense weer doop nie.

MAAR!!!

Die NG Kerk kan egter ruimte maak vir die grootdoop deur middel van dieselfde proses as waarmee die belydenis van Belhar aanvaar wou word – gemeentes en sinodes moet dit met ’n tweederdemeerderheid aanvaar. Dit hoef nie noodwendig ’n duur proses te wees nie, maar dit bly ’n omvangryke proses.

Alhoewel die groot doop glad nie onbybels is nie, sien die NG Kerk leierskap dit glad nie as ’n prioriteit om ruimte te maak daarvoor nie. Instede daarvan is hulle prioriteit om Belhar goed te keur en ruimte te maak vir homoseksualiteit. En dit is nie al nie – kyk ook Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite.

Dan is daar ander predikante en teoloë wat openlik hulle legitimasie-eed verbreek op baie belangriker kwessies wat steeds in die NG Kerk is. Kyk Wie is wie?

*********

Gemeente steier onder doop-twis

Deur Jean Oosthuizen 08 Mei 2016 00:15

‘n Vuurwarm twis oor die doop het die rustige NG gemeente in die Wes-Kaapse dorpie Stanford in die Overberg tot in sy fondamente geskud.

Die gemeente staan op die punt om in duie te stort weens ’n hewige twis tussen die gemeente en die NG Kerk se amptelike strukture.

Neil Olwagen, die gemeente se dominee, is vroeër vanjaar deur ’n ondersoekliggaam van Caledon se ring afgedank omdat hy ’n vriendin buite die NG Kerk tydens ’n private seremonie bedien het met die belydenisdoop.

Die kerkraad en die gemeente staan egter bankvas agter hul afgedankte dominee.

Hulle sê in sy eie gemeente het hy nooit oor die belydenis- of bekeringsdoop gepreek of dit toegepas nie terwyl baie NG gemeentes wel die belydenisdoop bevorder en toepas.

Hy wou slegs ruimte skep vir diegene wat anders voel oor die doop.

Sedert Olwagen se ontslag preek naburige dominees Sondae vir feitlik leë kerkbanke in Stanford se NG kerk. Skaars vyf mense, onder andere twee kerkraadslede en die koster, woon nog Sondae se eredienste by, sê van die gemeentelede met wie Rapport gepraat het.

Die res gaan luister na Olwagen wat ’n uur later met die goedkeuring van sy vorige kerkraad ’n diens in die kerksaal hou.

Maar nou het die ring van Caledon ’n stokkie daarvoor gesteek. In ’n ongewone stap het die ring onder wie se beheer die gemeente nou val die hele kerkraad in die pad gesteek.

Olwagen is verbied om die kerksaal langer te gebruik of om sy voete op die kerkterrein te sit.

Die gemeente betwis egter die ring se besluit en sê wat hulle betref, is hy steeds in hul diens.

Die ring is ook vies omdat al die dankoffers nie meer in die NG Kerk se sak beland nie.

In ’n kwaai brief aan die kerkraad sê hulle daar was die afgelope maand of twee geen inkomste nie terwyl die kerkraad “willens en wetens” toelaat dat mense dankoffers in ’n “donasieboks” gooi wanneer Olwagen in die aangrensende kerksaal preek.

‘n Aanbod deur Olwagen se ondersteuners om die saal te huur en te help met instandhouding is van die hand gewys.

Olwagen, wat sedert sy afdanking met die kerkraad se goedkeuring steeds in die pastorie woon, is die afgelope week deur die ring aangesê om die pastorie te verlaat. Maar die kerkraad sê hy mag aanbly.

Een van die gemeentelede, Gerhard Burger, sê hul dominee word tans fyngemaal deur die prosesse wat die NG Kerk teen hom aan die gang gesit het. Hy sê die gemeente staan ongetwyfeld op die rand van ’n skeuring.

Chrisjan Franken, die gemeente se afgedankte leierouderling en kerkraadslid, sê die hele gemeenskap is kwaad vir die ring.

“Deur die jare is geld ingesamel, geboue is uit eie geld opgerig en in stand gehou sonder enige sent se bydrae deur die NG Kerk. En nou kom verjaag die ring van Caledon die gemeenskap uit hul eie geboue.”

Hy sê die behandeling van die klein gemeente is ’n skreiende skande veral omdat groter NG gemeentes soos Roodekrans, Kerk­sondermure, Moreletapark, Rant-en-Dal en ander se dominees nie dieselfde behandel word nie.

Caledon se ringsvoorsitter, ds. Kobus Pretorius, sê pogings van die ringskommissie om die bediening in die gemeente met die kerkraad se samewerking te laat voortgaan, was vergeefs en die kommissie het geen keuse gehad nie as om die funksies van die kerkraad oor te neem.

Hy sê Olwagen het nie ’n eerlike, deursigtige pad met die NG Kerk gestap nie en was bereid om leuens te vertel net om bevoegdheid as predikant te verkry.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui