Gay lidmate praat terug

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Netwerk24 verskyn.

***************

Gay lidmate praat terug

Kerke se afkeer van dié troues ‘open deur vir promiskuïteit’

Deur Jean Oosthuizen Sondag 24 Mei 2015 05:10

Die NG Kerk moet sy gay lidmate se menswaardigheid herstel en hul grondwetlike reg erken om permanente verbintenisse aan te gaan.

So het dr. Marietjie van Loggerenberg die afgelope week by ʼn dinkskrum oor seksuele oriëntasie by die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit teologie gesê. Van Loggerenberg is ʼn pastorale terapeut van Pretoria wat haar PhD-studie gedoen het oor gay studente wat nie gelegitimeer kon word nie. Sy glo ander kerke behoort dieselfde te doen.

Sy was een van verskeie deelnemers aan die gesprek “Talking Back” wat by die Beyers Naudé-sentrum vir publieke teologie in samewerking met Inclusive & Affirming Ministries en die sentrum vir Christelike spiritualiteit aangebied is.

Gay proponente en predikante van verskillende geslagte, denominasies en rasse van regoor die land het ook die geleentheid bygewoon.

Die NG Kerk se algemene sinode besin in Oktober opnuut oor homoseksuele lidmate en predikante se posisie in die kerk.

Sommige van die deelnemers aan die gesprek wou nie in die media geïdentifiseer word nie omdat hulle bang is hulle word deur die kerk of gemeenskap geviktimiseer. Die afgevaardigdes is in verskillende kleurkodes ingedeel om aan te dui wie kon aangehaal word en wie nie.

Mense met groen plakkers op hul naamkaartjies het nie omgegee om aangehaal of afgeneem te word nie. Diegene met geel plakkers kon aangehaal word, maar wou nie geïdentifiseer word nie, terwyl sommige glad nie in die openbaar aangehaal wil word nie.

As die kerk aanhou om gayhuwelike af te keur, open hulle eintlik die deur vir groter promiskuïteit, het Van Loggerenberg gesê. ʼn Narratiewe terapeut en genderspesialis, dr. Nickie Spies, het gesê kerke is in groot moeilikheid oor seks omdat hulle so ronddans daaroor.

Sy sê kerke moet leer om openlik oor alle seks te praat en nie net oor homoseksualiteit nie.

Die vraag of kerke teen gays mag diskrimineer op grond van hul seksuele oriëntasie is deur prof. Karin Calitz van die US se regsfakulteit geopper.

Die land se Grondwet verbied diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie, maar sy sê howe is huiwerig om aan kerke voor te skryf hoe hulle hul huishoudelike sake moet hanteer.

Calitz wat in arbeidsreg spesialiseer, sê dit beteken nie kerke kan maak wat hulle wil nie.

Sy wou haar nie uitlaat oor die uitkoms van die saak wat later vanjaar voor die konstitusionele hof dien nadat ʼn predikant van die Metodistekerk, Ecclesia de Lange, in 2010 deur die kerk afgedank is omdat sy met ʼn vrou getrou het nie.

[’n Predikant wat sulke arrogansie toon (om haar kerk hof toe te sleep) verdien nie om ’n predikant te word nie. ’n Mens wonder hoe Jesus hierdie kwessie sou hanteer.]

Calitz het na verskeie hofuitsprake verwys en gesê die wyse waarop teen gay predikante soos De Lange gediskrimineer word, behoort ernstig deur die konstitusionele hof oorweeg te word.

Verskeie sprekers het gesê dit is opvallend dat die land se Grondwet en howe in die algemeen liefdevoller teenoor homoseksuele mense optree as die kerk.

[Daar is ’n verskil tussen liefdevol en verdraagsaam. Die kerk moet liefdevol wees teenoor alle mense, ja, maar die kerk kan nie verdraagsaam wees teen ’n leefstyl wat direk teenstrydig is met die Bybel nie.]

ʼn Gay NG proponent, Hennie Pienaar, het gesê hy is kwaad vir die NG Kerk, want dié maak ʼn groot ophef van menswaardigheid, terwyl daar nog op ʼn onmenswaardige manier teen mense soos hy gediskrimineer word.

Volgens Van Loggerenberg het die NG Kerk sedert 1986 verskeie progressiewe stappe geneem om gay lidmate welkom te laat voel. Sy sê hulle word egter steeds as tweedeklas-lidmate behandel omdat hulle nie soos heteroseksuele paartjies toegelaat word om permanente verbintenisse aan te gaan nie.

“By elke sinode ná 1986 sê die NG Kerk aan sy gay lidmate jammer vir die seer en pyn wat hulle aangedoen word, maar die verskonings is sonder enige konteks.

“Baie gays en hul ouers leef steeds met vrees en verwerping.

“Hulle word met die hel bang gemaak of word nie as volwaar­dige lidmate in die kerk aanvaar nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui