‘Jy gaan hel toe. Gaan kerk toe’

Kyk ook:

Die volgende artikel het op Netwerk24 verskyn.

Ek het baie gemengde gevoelens oor hierdie berig. Wat Nataniël alles sê is waar, maar ek wil amper sê dat dit vanselfsprekend is. Wat my ongemaklik maak is die stelling: “Volgens dr. Jannie le Roux, voorsitter van die taakspan [van die algemene sinode] oor die onderwerp, het hulle verskeie bekendes genader om te help met innoverende idees om groei in die kerk aan te moedig.”

Dit is sekerlik so dat gemeentes moeite moet doen met kerkdienste: ’n predikant se boodskap moet interessant wees, geestelik verrykend en maklik om na te luister. Daar moet ook moeite gedoen word met die musiek in die kerk. Dit is alles dinge wat bydra om die kerkdiens keurig te maak en ’n heilige stemming te skep. Maar om die kerk te laat probeer groei deur akteurs in te huur is die verkeerde strategie. Natuurlik sal die getalle groei as daar elke Sondag een of ander vertoning van ’n aard is. Dit is die benadering wat ook by Willow Creek in Chicago gevolg word, die sogenaamde “seeker services”. Ek wonder egter oor die sukses van hierdie benadering.

Werklike groei sal slegs verkry word deur herlewing. En herlewing begin deur God se aangesig te soek deur gebed. Ek sien absoluut niks hiervan in hierdie artikel nie. ’n Mens hoop maar dat dit bo-aan die algemene sinode se lysie is om gemeentes in getalle te laat groei…

***********

‘Jy gaan hel toe. Gaan kerk toe’

Nataniël help lidmate trek

Deur Charlea Sieberhagen, Saterdag 16 Mei 2015 06:00

Nataniël

“Ons moet weet die publiek het vandag keuses tussen dobbelplekke, driemiljoen televisiestasies, aktiwiteite – goed wat nooit voorheen daar was nie.

“So, as ons hulle wil involve in ’n kerk-ding, moet ons kompeteer met ’n hele wêreld.”

Kyk die video hier.

So sê Nataniël in ’n video oor lidmaatbemagtiging in die kerk.

Nataniël, die aktrise Leandie du Randt en ander bekendes praat oor bemagtiging in ’n nuwe reeks video’s wat deel is van die algemene sinode van die NG Kerk se projek vir lidmaatbemagtiging.

Volgens dr. Jannie le Roux, voorsitter van die taakspan oor die onderwerp, het hulle verskeie bekendes genader om te help met innoverende idees om groei in die kerk aan te moedig.

“My gevoel was iemand soos Nataniël het so ’n unieke aanslag en ’n uit-die-boks-manier van doen.”

Die video’s is nog net ’n kort weergawe van die langer video’s wat in September beskikbaar gemaak sal word.

“In die ou dae het ons die Kerk eintlik laat groei en aktief gehou met ons gewete. My ma het net gesê: ‘Jy gaan hel toe. Gaan kerk toe’.”

Volgens Nataniël verwar verenigings die predikantspaar met die “Britse koningspaar”.

“Die predikant hoef nie daai vroutjie oral heen te sleep nie, veral as sy haar eie loopbaan wil hê. Party van hulle is bleker as melk en is skaam en wil eenkant wees.”

Hy meen daar is ander vroue wat graag betrokke wil raak en wil help met take by die kerk.

“Daar is ’n ledige vrou op die dorp. Daar is ’n ryk vrou op die dorp. Daar is ene wat sit en wag om gevra te word om take aan te pak. ’n Tipiese raakvatter.

“Gebruik hulle. Dit is nie meer verkeerd nie.”

Nataniël sê ook dit is belangrik om te onthou dat alle kerke se behoeftes nie presies dieselfde is nie.

“As daai tannie lewensmoeg al vir 40 jaar die orrel speel, sê vir haar: Hierso is vir jou ’n wekker en ’n blik koek, maar gaan nou. My ma sê vir my hoe lekker sing hulle, want hulle het ’n wille orrelis.”

Hy meen die musiek voor die diens hoef nie te klink asof “hulle enige oomblik ’n kis gaan indra nie”.

Volgens Nataniël moet mense genader word om betrokke te raak omdat baie mense skaam is en bloot wag om gevra te word.

Du Randt praat in haar video oor hoe moeilik dit kan wees om in die vermaakbedryf te werk en steeds ’n gelowige te wees, juis omdat daar so min gelowiges is.

“En dis ironies, want ek sou nie in dié bedryf kon gewees het as ek nie in die Here geglo het nie.”

Volgens Le Roux wil hulle met dié video’s, wat deur Bybel Media uitgereik word, kerklidmate aanmoedig om hul skouers en kop op te lig en innoverend te wees in ’n tyd dat die kerkbanke al hoe leër raak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui