Gay-gesprek in die NG Kerk is taai verby

Kyk ook:

Cas Wepener is professor en hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria. Dus het hy ’n wesenlike aandeel in die opleiding van teologiese studente by die Universiteit van Pretoria.

Kommentaar verskyn in [rooibruin blokhakies] tussen die teks.

********

Gay-gesprek in die NG Kerk is taai verby

Deur Cas Wepener | 19 Mei 2018

Die Bybel trek met taai tekste ’n kruis deur die samelewing se boksies wat mense oor seksualiteit uitsluit, skryf Cas Wepener oor die voortslepende debat oor die onderwerp.

altCas Wepener, professor en hoof van die departement praktiese teologie aan UP.

Daar is ’n taai debat wat tans in kerke soos die NG Kerk rakende seksualiteit woed. Tog besef almal nie altyd dat dit ’n taai gesprek is nie.

In menige skrywes en debatte is daar al in argumente na Bybeltekste verwys en in studiestukke teologies besin oor Skrifverstaan en -interpretasie. Daar word selfs van die sogenaamde bullet-tekste in die Bybel gepraat wat soos koeëls in gesprekke afgevuur word. [Kyk ook Om die “shooter texts” te ontwapen.]

Soms wil dit voorkom asof daar weinig vordering in hierdie gesprek is, wat baie jammer is.

Taai soos stroop, heuning

Ek is van mening dit kan die gesprek dalk help as ons opnuut beset dat dit ’n taai gesprek is. Nie taai soos in moeilik nie (dit is dit vir seker ook), maar taai soos goue stroop of heuning of daai lekker ribbetjies van braairestaurante.

Daar is een ding waarvan sommige mense niks hou nie, en dit is taai goed. Dit is nie solied soos ’n stukkie biefstuk nie, ook nie vloeibaar soos ’n glasie rooiwyn nie, maar tussenin. Dit is soos daardie sous wat restaurante op ribbetjies smeer en sommige plekke noem dit selfs sticky ribs.

Hoe water my mond nie nou nie. Wanneer ek in ’n restaurant rondom my kyk, kan ek sien dat die idee om daardie taai sous op hul vingers te kry, vir party mense spanning bring.

Vaste substansies kan almaI hanteer en so ook vloeistowwe, maar taai goed is vir sommige mense ’n moeilike saak. Ek kan sien dat hulle sukkel om hulle net oor te gee aan die eet van die ribbetjies en hul vingers agterna uit pure plesier af te lek.

As dit nie in my boksie pas nie

Een van die kernprobleme, of eerder – uitdagings, in die gay-gesprek, is die feit dat waaroor, nee(!), oor wié gepraat word, vir vele mense in hierdie taai kategorie val.

Ons werk in ons koppe met stelsels wat uit kategorieë bestaan. Ons kan die mooi woord kategorieë ook met boksies vervang. Alles en almal moet in my boksies pas (gewoonlik het ek net twee) en indien hulle nie lekker inpas nie, dan word daar na ’n jammerlappie gesoek en daarvan ontslae geraak soos die taai ribsousie op my vingers.

So hoort ’n man by ’n vrou en basta. [As die Bybel so sê hoekom moet ons dit enigsins bevraagteken?]

Ek ondersteun dan ook dikwels hierdie denke met ondeurdagte cliches soos “hy wat vir niks staan nie, sal vir alles val”.

Te veel mense staan slegs vir een saak.

Mary Douglas en sin vir orde

Die persoon wie se werk ons baie help om hierdie neiging beter te verstaan, of gewoon net te sien waarmee ons voortdurend besig is, is die antropoloog Mary Douglas. Sy het baie werk gedoen oor taboes en skryf baie insiggewend oor vuilis. In haar bekende boek Purity and Danger beskryf Douglas vuil (“dirt”) as materie wat nie op sy plek is nie (sy noem dit “matter out of place”).

Volgens Douglas het dit wat vuil is in ons samelewing nie soseer te make met higiëne en vrees vir siekte nie, maar eerder net met die feit dat iets nie volgens ons boksies op sy plek is nie.

Wanneer iets nie op sy plek is nie, bestaan die gevaar dat grense oorgesteek word wat nie volgens die samelewing oorgesteek mag word nie. ’n Stukkie appel op ’n bord is skoon, maar wanneer dieselfde stukkie appel op ’n hempsmou geplaas word, dan is dit materie wat nie op sy plek is nie en is dit dus “vuil”.

Vir Douglas veronderstel hierdie definisie van vuil ’n onderliggende stelsel van geordende verhoudings, daardie boksies waarna ek eerder verwys het, waarin alles kom wat moet inpas.

En, gaan sy voort, waar daar vuil in ’n samelewing is, beteken dit dat agter daardie vuil ’n sisteem skuilgaan.

Ten einde dus ’n bestaande sisteem in stand te hou, word sekere sake en dinge wat nie in daardie sisteem inpas nie, as vuil geklassifiseer en kan dus daarmee weggedoen word.

Vuilis is dus bykans soos ’n sonstraal wat op ’n spinneweb (ons sisteem van boksies) val en so die hele web sigbaar maak.

Douglas verduidelik voorts die rede vir die wyse waarop mense en gemeenskappe teenoor dit wat vuil is, reageer.

Volgens haar kan hierdie vuil ons bestaande en dikwels gekoesterde klassifikasies, ons boksies wat die lewe vir ons maklik en eenvoudig maak, uitdaag. En hierdie klassifikasiesisteem reageer op die uitdaging van sake wat nie inpas nie deur gewoon die onklassifiseerbaarheid uit te wys, dit te benoem as vuil, materie wat uit sy plek is, en dit so uit die bestaande sisteem te ban.

Sodoende is dié aspekte in ’n samelewing wat nie binne die aanvaarde sisteme en klassifikasies pas nie, aldus Douglas, potensiële magte en gevare wat ’n gemeenskap se sin vir orde bedreig.

Dit is net soos taai goed wanneer dit by byvoorbeeld kos kom. Taai is bedreigend, want dis baie moeilik om met taai goed te werk. Hou maar die ribbetjie-eters dop. Om water in ’n glas te tap is maklik, om ’n skyf boudvleis af te sny en op my bord te skep, is ook nie moeilik nie, maar o weë, die taai goed, dit is moeiliker om te hanteer en te beheer.

Mense vermy dit dus verkieslik, maar indien dit nie anders kan nie, word die vingerbakkies, suurlemoen, seep, jammerlappie en servette vinnig nader gebring sodat ’n rituele reiniging gedoen kan word. So kom alles dus weer op hul plek (soos dit mos hoort), en dit is in die samelewing se boksies. Saam daarmee skud ek my kop, lig my wysvinger en sê met outoriteit: “Ja-nee, hy wat vir niks staan nie, sal vir alles val.”

Dié opmerking staaf ek dan ook met ’n bullet-teks om die een wat reeds voor my lê, ’n kopskoot te gee.

Taai Bybeltekste

Afgesien van die sogenaamde bullet-tekste wat skrams verby sommige se kop vlieg en ander weer in die hart tref, is daar ook taai tekste in die Bybel. Tekste waarin ’n doek vol “vuil” vleis uit die hemel afsak met die opdrag: slag en eet.

Taai tekste wat beweer dat daar in Christus nie meer man of vrou of slaaf of vry is nie, dus geen meer sulke boksies nie. Taai tekste wat sê dat God in Christus alles met God self versoen het. Tekste wat dus suggereer dat God self taai is.

Miskien is die kruis taai, is dit “matter out of place”, deurdat dit ’n kruis trek deur alle boksies wat mense uitsluit. [Jesus se kruis trek verseker nie ’n kruis deur alle boksies nie. Jesus (en dus die Bybel) is baie duidelik daaroor dat sekere boksies taboe is. Die sondeboksie word verseker nie toegelaat nie. Kyk Die Bybel oor sonde en Die Bybel oor oordeel.]

Daar is heelwat hoopvolle tekste in die Bybel wat, soos Douglas se werk, ons help om die spinneweb van ons samelewing se boksies te eien vir wat dit is – ’n strik.

  • Cas Wepener is professor en hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui