Die Groot Gedagte (Gideon Joubert)

Gideon Joubert (4 September 1923 tot 27 Oktober 2010) was ‘n Suid-Afrikaanse verslaggewer en skrywer. Hy was wel ’n Christen, maar hy het evolusie só omarm dat ’n mens wonder watter invloed dit op sy geloof gehad het.

In sy boek Die Groot Gedagte, skryf hy die volgende oor die geskiedenis van die mens:

Bladsy 18:

Niemand weet wat lewe is nie. Niemand weet hoe die eerste lewe ontstaan het of waarvandaan dit gekom het nie. Al wat ons weet, is dat een mooi dag, naastenby 4550 miljoen jaar gelede, lewe op aarde opgewek is.

En verder op bladsy 20 en 21:

Die Alpe en Himalaja stoot soos molshope uit die aarde op, gepaard met geweldige aardbewings. Dit word kouer. Harige olifante verskeur die bome. In die omgewing van Saldanha en Hopefield groei ruie oerwoude. Sabeltandtiere jag op oerolifante, -renosters, en -buffels. Dit is 10 miljoen jaar gelede.

Eeue en eeue gaan verby. Die eerste perd wei in die gras, en jou waarlik, daar tussen die ruigtes is die eerste aapagtige mens wat regop loop. ’n Miljoen jaar later sal sy beskaafde nakomelinge hom die spesienaam Homo erectus gee.

Tiene miljoene spesies van diere het sedert die ontstaan van lewe bestaan. Die meeste het uitgesterf. Vandag is sowat twee miljoen spesies oor. Van die primate is daar sowat tweehonderd. Diere het gespesialiseer om hulle by omstandighede aan te pas. Primate het harsings ontwikkel wat hulle goed te pas kom. Die groep of spesie van die Orde Primate met die grooste harsings, is dié van die hominide.

Toe het God gesê: Kom Ons maak die mens as Ons verteenwoordiger, Ons beeld

Dit was al laat in die Skepping toe God volgens die Bybel die mens geskape het. Wetenskaplikes stem met hierdie chronologie saam. In terme van die Skepping was dit soos gister dat Homo sapiens, die mens van ons tyd, sy verskyning gemaak het. Dit was minder as ’n halfmiljoen jaar, waarskynlik eers ’n kwartmiljoen jaar gelede. In terme van die ouderdom van die aarde, net ’n oogknip.

Soos alle lewende en dooie dinge, is ook die mens van die stof van sterre gemaak, die atome en molekule wat in die tweede fase van die Skepping in die kookpotte van sterre ontstaan het. Elkeen van ons is uit sterstof geformeer.

Een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die aarde was toe die mens met geluide begin kommunikeer het. Dit het beteken dat hy kennis kon oordra, van mens tot mens en van geslag tot geslag. Mense kon met mekaar praat. Spraak het tot ’n verdieping van denke gelei en die mens het geestelik ontwikkel.

Eers 35 000 jaar gelede het die mens voldoende ontwikkel om eenvoudige voorwerpe soos spiese en else van klip en been te maak. Presies hoe lank gelede is onseker, maar daar was ’n groot deurbraak toe die mens ontdek het dat organiese materie met suurstof verbind as dit verhit word. Hierdie chemiese proses, wat intense en langdurige hitte opwek, word vuur genoem.

Nóg ’n groot deurbraak kom 10 000 jaar gelede. Die mens vind uit hoe om ’n pyl en boog te maak. Hy word ’n jagter en ’n moordenaar. Eers 5 500 jaar gelede is hy slim genoeg om met eenvoudige beeldskriftekens boodskappe neer te krap. Dit was die begin van ’n baie groot deurbraak. Kennis kon opgeteken, bewaar en sonder spraak oorgedra word. Die eerste munte word 2700 jaar gelede gebruik.

Die Gutenberg-pers is in 1440 ontwerp. Boeke kon op groot skaal geproduseer word. In 1609 kry die mens die eerste keer ’n helderder beeld van die planete en sterre toe Galileo die eerste teleskoop ontwerp.

Toe James Watt in 1765 die eerste stoommasjien bou, begin die nywerheidsrevolusie met al sy ellendes en deurbrake. Die eerste ysterbrug word in 1779 gebou en die eerste vliegtuig vlieg enkele treé in 1903.

Eers in 1948 maak die eerste transistor sy verskyning …

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui