Die Bybel het vir die NG Kerk ’n verleentheid geword

Kyk ook:

Jan Louw het die volgende op Facebook geplaas op 15 Oktober 2018.

*********

DIE BYBEL HET VIR DIE NG KERK ’n VERLEENTHEID GEWORD.

Dit is die gevolgtrekking wat ons moet maak in die huidige LGBT debat.

Die Bybel word vir alle praktiese doeleindes eenkant toe geskuif as daar gepraat word oor die LGBT kwessie en die hulp van die sielkunde word nou ingeroep om ’n pad vorentoe te vind.

Ek kan baie voorbeelde noem, maar ek wil net vertel van my ervaring by die Sinode van die Vrystaat van 2017 by Bothaville. Die hele land en die kerk was nog in beroering na die opponerende besluite van 2015 en 2016. Eers het die kerk besluit gay huwelike is in en ’n jaar later by ’n buitengewone Sinode is weer besluit gay huwelike is uit. Teen hierdie agtergond het die Sinode van die Vrystaat in 2017 vergader.

Die Moderamen van die Vrystaat het dit goedgedink om dr Fanie Cronjé van Pretoria te kry om met die Sinode te praat oor die onderwerp: HOE LEES EK DIE BYBEL?

Cronjé het in sy aanbieding woorde oor die Bybel gebruik soos “’n versameling antieke dokumente …. nog nooit duidelikheid oor die gesag van die Bybel nie …. relativisme …. voorveronderstellings… afstand tussen ons en die Bybel se mense …. ens.

Die onsekerheid oor die Bybel waarvan ons hier hoor, is dalk die rede waarom die Bybel nooit by die Sinode oopgemaak is om te vra na die wil van die Here, toe daar oor LGBT gepraat is nie. Dalk voel die kerk dat die Bybel nie meer bruikbaar is vir die moeilike etiese vraagstukke van die tyd nie.

Na die opspraak wekkende 2015 Sinode het Nelis Janse van Rensburg en Dirkie van die Spuy ’n pastorale brief aan die kerk uitgereik met die woorde: “Met oop Bybels en biddende harte het ons as gelowiges saam na die wil van die Here gesoek”.

Moet daar niks van glo nie! Die Bybel is wel oopgemaak, maar by die boek Rut! Rut vertel glo vir ons van “deernis en omgee vir mense, mense wat vir watter rede ook al, deur die kerk uitgestoot word”. Hulle noem hierdie lukrake manier van omgaan met die Bybel “geloofsonderskeiding”.

Die plekke waar Moses en die apostels pertinent oor homoseksuele gedrag praat word goed weggehou by kerklike vergaderings. Prof. Julie Claasens van Stellenbosch noem daardie gedeeltes van die Bybel “shooter texts”, wat “gays en lesbiers se diepste wese bedreig”.

So het die sinodegangers ook in 2017 by Bothaville uitmekaar gegaan sonder om ooit te luister na die Woord van die Here. Hulle het besluit om nogmaals ’n taakspan saam te stel om oor die gay-kwessie te besin. Die taakspan se doel moes wees om “wye gesprek in die kerk” te bevorder “oor ons verstaan van God, mensbeskouing en verhoudinge, waarin daar veral ook gefokus word op seksualiteit en selfdegeslagverhoudings”. Ander terminologie in die besluit was: “skep van waardes … veilige ruimtes …. waarbinne ons na die Woord, mekaar en ander kan luister …… kundiges op ander terreine as die teologie”.

Die NG Kerk sal aan die Here verantwoording moet doen vir hierdie minagting van sy Woord. Die Bybel is naas Christus, God se grootste geskenk aan die wêreld. Israel se Boek het bekend gestaan as die Wet en die Profete. Jesus het voortdurend die Wet en die Profete gebruik om vir die mense te leer wat God se wil is.

God praat nog al die eeue met die wêreld deur hierdie Boek. In hierdie Boek maak God aan die mensdom bekend, wie Hý is, wie óns is, wáár ons vandaan kom en baie belangrik wat sy wil vir ons is.

God het ’n wil. Hy het met respek gesê, ’n opinie oor sake, oor wat reg en wat verkeerd is, oor die manier waarop ons moet lewe en nie moet lewe nie. Hy het die laaste sê oor dinge. Wie hom nie aan God steur nie, sal aan God verantwoording doen oor sy optrede.

Sonder die Woord van God is ons almal uitgelewer aan die opinies van die wêreld – die wêreld wat Jesus, ’n owerspelige en sondige geslag noem (Mark 8:38). Die NG Kerk en sy leiers is besig om al verder verdwaal te raak in die wêreld se LGBT opinies. Nelis Janse van Rensburg, die moderator, gee ’n voorbeeld van sy eie onsekerhede oor die Woord van die Here, as hy in die Kerkbode vra dat die kerk “vashou aan Christus en aan die Skrif én aan diensbaarheid aan die gemarginaliseerdes van die samelewing”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui