Die Ou Testament oor die lewe na die dood

As ’n mens na die Ou Testament gaan kyk, dan lyk dit soms of die mense van daardie tyd nie geglo of geweet het van die hemel hierna nie. Liberales gebruik soms hierdie argument om twyfel te saai of daar werklik ’n hemel en hel bestaan.

Hierdie dokument wys dat dit nie waar is nie.

Inhoudsopgawe

  • Ou Testamentiese skrywers glo skynbaar nie aan ’n hemel nie
  • Ou Testamentiese skrywers verwys na opstanding en lewe na die dood
  • Fariseërs vs Sadduseërs

 

Ou Testamentiese skrywers glo skynbaar nie aan ’n hemel nie

Eers kyk ons na sommige skrifgedeeltes waar die skrywers blykbaar nie geglo het aan ’n hemel nie.

Genesis 37:35

Hy het gesê: “Ek sal bly treur oor my seun tot ek by hom in die dood is.” So het Josef se pa bly treur oor hom.

Job 19:25-27

(25)Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! (26)Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. (27)Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe.

Job 26:5-6

(5)“Dié wat reeds dood is, bewe, die doderyk en al sy bewoners. (6)Die plek van die dood lê oop voor God, niks bedek die doderyk vir Hom nie.

Psalm 6:6

(6)Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam bely nie. Kan iemand in die doderyk U prys?

Psalm 9:18

(18)Die doderyk is die bestemming van die skuldiges, van al die nasies wat aan God nie dink nie.

Dit lyk of hierdie vers ’n onderskeid maak oor die bestemming van gelowiges en ongelowiges.

Psalm 30:10

(10)Watter voordeel is daar in my ondergang as ek die graf moet ingaan? Kan stof U loof? Kan dit u trou verkondig?

Prediker 3:18-19

(19)Een en dieselfde lot tref mens en dier, hulle gaan almal dood, die een soos die ander. Almal het net een asem. Die mens is nie beter daaraan toe as die dier nie. Alles kom tot niks. (20)Almal is op pad na dieselfde plek toe, almal is van stof en almal word weer stof. (21)Wie weet of die asem van die mens opstyg boontoe en of die asem van die dier afgaan onder toe?

Prediker 9:5

(5)Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die dooies weet niks; daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet;

Dit is baie duidelik dat beide Job en Dawid aan die hiernamaals geglo het, maar of hulle van ’n hemel en hel geweet het, weet ons nie. Dit is duidelik dat hulle siening oor die hiernamaals nie ooreen gestem het met wat die Nuwe Testament oor die hemel verkondig nie. As Job en Dawid byvoorbeeld dieselfde siening oor die hiernamaals gehad het as Paulus in Filippense 1:21 (“want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins“) sou mens verwag het dat hulle sou uitsien na die dood om by hulle geliefde God te wees. Kyk ook byvoorbeeld Openbaring 4:10-11, 5:11-14, 7:9-17, 11:15-17, 14:2-4, 19:1-7.

Hierdie is ’n voorbeeld van progressiewe openbaring in die Bybel. Dit is die idee dat God nie alles reeds in die Ou Testament openbaar het nie, maar dat sekere dinge of detail eers later in die Bybel openbaar is. Die Drie-eenheid is nog ’n voorbeeld van progressiewe openbaring.

Ou Testamentiese skrywers verwys na opstanding en lewe na die dood

2 Samuel 12:23

(23)Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”

Psalm 16:10-11

(10)U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. (11)U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

Handelinge 2:22-27 verwys hierna:

(26)Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, (27)want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

Spreuke 15:24

(24)’n Verstandige mens se pad loop boontoe, na die lewe toe; hy ontkom die doderyk daar onder.

Jesaja 14:9

(9)Die doderyk daaronder kom in beroering omdat jy soontoe kom. Dié wat reeds daar is, word wakker gemaak, almal wat leiers op aarde was; almal wat konings van nasies was, moet van hulle trone af opstaan.

Jesaja 26:19

(19)Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here, hulle sal opstaan. Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is! Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here, die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee.

Daniël 12:1-4

(1)“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. (2)Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. (3)Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre. (4)“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die eindtyd toe. Baie mense sal oor die gebeurtenisse navraag doen om begrip daarvan te probeer kry.”

Fariseërs vs Sadduseërs

Matteus 22:23-32

(23)Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie ’n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: (24)“Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en ’n nageslag vir sy broer verwek.’ (25)Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou. (26)Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe. (27)En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe. (28)Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” (29)Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. (30)Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. (31)En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: (32)‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.”

Hier gebruik Jesus self die Ou Testament om te redeneer vir die opstanding van die dooies en ’n lewe hierna. Kyk ook Lukas 20:37-38.

Handelinge 23:8

(8)Die Sadduseërs ontken dat daar ’n opstanding uit die dood is en dat daar engele en geeste bestaan, maar die Fariseërs aanvaar wel albei hierdie dinge.

Onthou dat die Fariseërs hulle leringe op die Ou Testament gebaseer het. Dus móés die Ou Testament verwys het na die opstanding en lewe na die dood.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui