Die Bybel, God se woord en skrifgesag – enkele perspektiewe

Kyk ook:

Die volgende artikel is geskryf deur dr. Fanie Cronjé en is oorspronklik geplaas op www.teo.co.za. Dit gee mens ’n goeie begrip van hoe ontluikendes dink.

In hierdie artikel wys Fanie Cronjé dat hy die volgende glo:

  1. Homoseksualiteit is nie sonde nie.
  2. Redding word nie slegs verkry deur geloof in Jesus Christus nie.
  3. Hy glo nie in die Goddelike inspirasie van die Skrif nie.

*********

Die Bybel, God se woord en skrifgesag – enkele perspektiewe

Fanie Cronjé

2007-06

1. Die Bybelse getuienis van geloof as “weg”

Die christelike geloof is in sy wese ’n manier van lewe, ’n weg waarop ’n mens gaan, ’n pad wat die gelowige bewandel. Ons sien dit in die Ou Testament, by Jesus self, maar ook in die res van die Nuwe Testament. Dit is duidelik dat die vroegste Christene ook hul geloof as ’n wandel in die voetspore van Jesus verstaan het en dus ’n lewe in die weg van die Here. Om die waarheid te sê, die eerste naam wat aan Jesus se volgelinge gegee is, was “mense van die Weg” – aldus Handelinge.

2. Geloof – van ’n weg na die kop

Mettergang is die gedagte van die christelike geloof as ’n weg egter op die agtergrond geskuif en is geloof al hoe meer as die vashou aan die waarheid van ’n aantal aansprake gesien. Waarheid is vir ons as Westerlinge die korrelasie tussen wat gesê/geskryf is/word en dit wat ons sintuiglik kan bevestig as “feite”. So het ons groot geword met die oortuiging dat geloof beteken om ’n sekere stel uitsprake/oortuigings as feitelik waar te aanvaar.

Daarom dat die meeste Christene vandag meen dat mens alleen ’n ware gelowige is wanneer jy die Bybel letterlik verstaan, oortuig is daarvan dat ’n klomp bonatuurlike dinge werklik, presies soos die Bybel dit beskryf, gebeur het en dat God dit soms vandag nog laat gebeur – jou geloof moet net eg en sterk wees – en dat alle mense en ander gelowe wat nie hierdie dinge glo nie vir ewig in die hel gaan brand. [Dit is belangrik om daarop te let dat die Bybel verskillende genres bevat. As jy die verskillende genres nie lees soos wat dit bedoel is nie, dan gebruik jy nie die Bybel konsekwent nie. Kyk Die verskillende genres van die Bybel.]

So het die christelike geloof verander van ’n weg waar op ek gaan, na ’n saak van die kop. Jy is ’n gelowige indien jy die regte stel aansprake/oortuigings as waar beskou.

In sy meer resente gestalte hou hierdie verandering onder meer verband met die opkoms van die rasionalisme waar die klem op die menslike rede of verstand geplaas is – ek dink, daarom is ek en is dit vas gesement deur ons verbruikersmentaliteit – ek koop daarom is ek. Dit het tyd geword dat geloof weer vir ons ’n saak van die hart word.

3. Om ’n lewe in geloof te herontdek

Daar is vandag die vroeëre (heersende) visie op die christelike geloof en daar is die opkomende visie op die christelike geloof. Albei is in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, in Suid-Afrika en ook in ons gemeentes teenwoordig. Daarom dat ons vandag soveel verandering en konflik beleef.

Die vroeëre (heersende) visie op die christelike geloof sien die Bybel as die unieke openbaring van God, beklemtoon die letterlike betekenis daarvan, sien die kern en sin van die christelike geloof daaraan dat jy nou moet glo, sodat jy eendag die hemel kan beërwe, glo in God, Jesus en die Bybel as die enigste weg hemel toe, daarom is die christelike geloof die enigste ware geloof. Persone wat hierdie beskouing huldig wys graag daarop dat dit die tradisionele en enigste korrekte beskouing van die christelike geloof is.

Die opkomende visie op die christelike geloof is nou reeds vir meer as ’n 100 jaar aan’t ontwikkel. Dit kom onder Bybelwetenskaplikes, maar beslis ook onder mens op grondvlak, wat lees (onder meer ook die internet) en bewustelik lewe, voor.

Hierdie opkomende visie het beide ’n positiewe en negatiewe stimulus. Positief gesien is dit die gevolg van onder meer die moderne en postmoderne wêreld en ontwikkeling op gebiede soos wetenskap, tegnologie, vrye vloei van inligting, historiese Bybelwetenskappe, godsdienstige pluralisme en kulturele diversiteit. Vanuit ’n negatiewe perspektief gesien, groei dit uit ’n bewussyn van tot watter mate die christelike geloof bygedra het tot rassisme, seksisme, ekskluvisme, kapitalisme en ander vernietigende ideologieë.

Die verskil tussen die vroeër/heersende wyse van Christen wees en die opkomende/ontluikende wyse van Christen wees handel oor sowel spesifieke konflikte as meer fundamentele sake. Laasgenoemde sluit in hoe daar vanuit hierdie twee perspektiewe na die Bybel, God, Jesus, geloof en die christelike lewe gekyk word. Op sy beurt kan die volgende as voorbeelde van konflik dien:

Slawerny:
Die vroeër/heersende wyse van Christen wees beskou dit as Bybels en volkome in orde gesien. Dit is onder andere te danke aan die opkomende/ontluikende wyse van Christen-wees dat ons vandag nie meer slawe het nie. [Dit is bog. Kyk Die Bybel oor slawe.]

Toelating van vroue tot die amp:
Die vroeër/heersende wyse van Christen wees beskou dit as onbybels en verkeerd. Die opkomende/ontluikende wyse van Christen wees meen streng voorskriftelike rolle wat mans en vrouens van mekaar onderskei tot die kategorie van die sosio-kulturele behoort en nie tot die essensie van die Bybelse boodskap nie.

Homoseksualiteit:
Die vroeër/heersende wyse van Christen wees beskou dit as onbybels en verkeerd. Die opkomende/ontluikende wyse van Christen wees meen dat die Bybel nie oor homoseksualiteit, soos ons dit vandag ken, praat nie. [Kyk Die Bybel oor homoseksualiteit.]

Christelike eksklusiwiteit:
Die vroeër/heersende wyse van Christen wees meen dat net Christene die ewige lewe beërwe. Die opkomende/ontluikende wyse van Christen wees meen die christelike geloof kan nie daarop aanspraak maak dit die enigste ware geloof is nie. [Dit is absoluut skokkend dat gedink word dat redding verkry kan word sonder Jesus. Op grond waarvan word dit dan verkry? Uit dade? Kyk Die Nuwe Testament oor redding.]

In wese is hierdie konflikte op die oppervlak eintlik maar net simptome van ’n meer fundamentele konflik, naamlik hoe ons oor die Bybel, sy gesag, maar veral sy interpretasie dink.

Die vroeër/heersende wyse van Christen wees beskou die Bybel as God se geopenbaarde wil, geldig vir tyd en ewigheid. God is onfeilbaar, absoluut en ewig en daarom die Bybel ook. Die opkomende/ontluikende wyse van Christen wees praat meer genuanseerd en versigtig oor God se woord, wil en die gesag van die Bybel. Hier word daar gewaarsku om nie dit wat oor God bely word, sonder meer net so op die Bybel oor te dra nie.

4. Paradigma skuif

Hierdie verskille wat ons op die gebied van die Bybel en geloof beleef hou met ’n paradigma skuif verband. ’n Paradigma is ’n alles omvattende kyk na ’n bepaalde saak. Dit is ’n manier om ’n geheel te sien. ’n Paradigma skuif vind plaas wanneer die heersende paradigma as ’n alles omvattende kyk na die wêreld, nie meer genoegsaam is om nuwe vrae, probleme en uitdagings die hoof te bied nie.

5. Drie oortuigings

My oortuiging: Dit maak vandag steeds sin om Christen te wees. Daar is vir my geen morele of intellektuele hindernisse op die weg na oortuigde Christen-wees nie. Daar is ’n visie op die christelike geloof wat in ons dag, met al ons wonderlike wetenskaplike kennis en inligtingstegnologie steeds volledig sin maak.

My passie: Om vir die baie, maar baie Christene wat gewoon nie meer die vroeëre (heersende) visie met hul kennis en lewe van vandag kan integreer nie, so ’n blik op die opkomende visie van die christelike geloof te gee, dat dit hulle hoop gee.

My tuis voel: in die opkomende visie het ek onder meer te danke aan die werke van Ferdinand Deist en Marcus Borg. Hierdie is dus nie alles idees wat ek nuut uitgedink het nie.

Binne so ’n nuwe paradigma sien ek die Christelike geloof in drie oortuigings gegrond, te wete

  • die Bybel is die Hart van die christelike tradisie,
  • God is die Hart van die werklikheid en
  • Jesus as die hart van God.

Hierdie drie sake is onlosmaaklik met mekaar verbind. Ons leer die God van Israel en Jesus van Nasaret onder meer uit die Bybel ken. Ons leer op ’n baie beslissende manier iets van God se karakter en liefde deur Jesus ken.

6. Twee perspektiewe op die bybel

6.1 Die vroeër/heersende wyse en die Bybel

6.1.1 Die Bybel is ’n goddelike produk

Die Bybel kom van God af. Dit is God se unieke openbaring. Dit is die Woord van God. Dit is deur God geïnspireer. Daarom is dit die Heilige Skrif. Daarom is die Bybel gesaghebbend. Die Bybel het ’n goddelike waarborg. Die Bybel is ’n soort heilige ensiklopedie waarin jou inligting oor God opsoek en klinkklaar antwoorde vind – selfs vir die unieke vrae van ons dag. In sy sagter vorm, laat hierdie kyk na die Bybel wel toe dat daar wetenskaplike en historiese foute in die Bybel teenwoordig mag wees, maar niks wat met ons saligheid enige iets te doen het nie.

6.1.2 Die Bybel word letterlik verstaan

Die Bybel is letterlik en feitelik waar. Dit kom van God. God is onfeilbaar. Hy maak nooit ’n fout nie. God kan onfeilbaar praat in gedigte, metafore en mitiese verhale. In sy sagter vorm beduie dit dat die belangrike gebeure in die Bybel min of meer gebeur het soos wat die Bybel dit beskryf. Die wonders is veral binne hierdie verstaan van groot belang. Dit het alles so gebeur, want God kan as hy wil. Dit is veral ’n letterlike verstaan van die buitengewone, die spektakulêre.

6.1.3 Die Bybel en die Belydenisskrifte

Die Belydenisskrifte, dogmas en antieke etiese lering word ook verstaan as ’n letterlike en getroue weergawe direk uit die Bybel afgelei en geldig vir tyd en ewigheid. Die Bybel vertel ons wat God wil hê ons moet glo en die belydenisskrifte, dogmas en etiese lering vertel ons hoe God wil hê ons moet glo en lewe. Die belydenisskrifte moet nagesê kan word en, soos die Bybel, as letterlik waar aanvaar word – geldende vir tyd en ewigheid.

6.2 Die opkomende/ ontluikende wyse en die bybel

Hierdie is ’n manier van kyk, ’n perspektief op die Bybel waarin die Bybel en die christelike tradisie histories, metafories en sakramenteel gesien word. Hierdie is ’n manier van kyk, ’n perspektief op die christelike lewe waarin die Bybel relasioneel en transformerend gesien word.

6.2.1 Histories

Dit is die historiese produk van twee antieke gemeenskappe, te wete die van Israel en die van die vroeë Christene. Die Bybel is nie vir ons nie, maar vir hulle geskrywe. Hierdie geskrifte moet in hul sosiaal, kulturele en historiese konteks gelees en verstaan word.

Die Bybel het ’n heel spesifieke historiese en sosio-kulturele bedding. Dit het in tyd, tussen mense van ’n bepaalde sosio-kulturele agtergrond ontstaan. As ’n menslike geskrif, is die Bybel nie die “absolute” waarheid nie, maar getuig dit van die “Absolute waarheid”. In hierdie getuienis van hom, is die Bybel relatief en kultureel bepaald.

Hierdie terme word ongelukkig binne christelike kringe altyd negatief verstaan. “Relatief” beteken “in verhouding tot/in verband met”. Die Bybel staan in verhouding tot en hou verband met die tyd, plek en omstandighede van die Bybelskrywers. Wanneer ons sê dat die Bybel “kultureel bepaald” is, bedoel ons daarmee dat die Bybelskrywers in die taal en konsepte van hul kulture praat wanneer hulle oor God skryf. Wanneer ons die Bybel lees moet ons sensitief wees vir sy verhouding met die tyd en kulturele omstandighede waarbinne dit onstaan het.

6.2.2 Metafories

Die skrywers en mense van die twee geloofsgemeenskappe waaruit die Bybel ontstaan het, te wete die Joodse en die Christelike, het hulle belewenisse van hulself, hul omgewing en God onder meer in metaforiese taal uitgedruk. Ons kan ook sê dat die Bybel historiese geheue en metaforiese narratief kombineer.

Dit beteken nie die Bybel is onwaar nie. Dit beteken om die Bybel in sy meer-as-letterlike betekenis, in sy meer-as-feitelike betekenis te lees. Dit stel eerder belang in die betekenis van die Bybelse stories, gedigte, mites en geskiedenis as in die feitelike korrektheid daarvan. Wat het dit vir die gemeenskap van destyds beteken? Hoe en wat kan ons vandag nog hieruit leer en toepas?

Metafories beteken nie dat dit leuens is nie. Metafories beteken dat ons die Bybel in meer as sy letterlike betekenis lees. Metafories is meer, nie minder nie. Dit is eers later, toe die historiese konteks van hierdie metafore vervaag het, dat mense die Bybel in minder as sy metaforiese betekenis verstaan het.

Mens het die Bybel letterlik begin verstaan en dit literalisties begin interpreteer – ’n manier waarop dit nooit bedoel was om gelees te word nie. So is die betekenis van die Bybel uitermate verskraal. Om op die letterlike feitelike van die Bybelse teks te fokus, is om die waarde en boodskap van die Bybel baie te verskraal. Om die Bybel histories-letterlik te lees, is om by halwe waarhede uit te kom.

6.2.3 Sakramenteel

‘n Sakrament is ’n tydgebonde, fisiese, tasbare teken van die Heilige. ’n Sakrament is ’n manier waarop dit wat Goddelik is, vir ons mense teenwoordig word – hier en nou. Dink maar aan die Doop en die Nagmaal. Die Bybel is vir ons God se Woord, ook vir ons hier en nou. Deur die Bybel is God vir ons in byvoorbeeld die erediens of persoonlike stiltetyd teenwoordig.

Ons kerk het twee sakramente, te wete die Doop en die Nagmaal en dit is reg so. Die opkomende/ontluikende manier van kyk beskou die Bybel nie as ’n derde sakrament nie. Ons verstaan van die sakramente kan ons egter moontlik help om die Bybel na sy eintlike aard te verstaan.

Ons onderskei ons van die Rooms Katolieke Kerk, onder meer o.g.v. ons beskouing van die sakramente. So byvoorbeeld sê Rome in verband met die Nagmaal dat die brood werklik Jesus se liggaam word en die wyn werklik sy bloed (transsubstansiasie). Vir hulle het die Doop ten opsigte van ons verlossing ’n werking in sigself.

Ons lê egter baie sterk daarop klem dat dit tekens is en dat dit nie die werklik “ding” is nie. Dit herinner ons aan God se verbond met ons wat vloei uit sy genade, liefde en verlossing. Die Nagmaal is nie Jesus se kruisiging nie en die Doop is nie God se verbond nie. Die Doop bevestig dat God met ons in ’n verhouding getree het (‘n verbond gesluit het). Die Nagmaal bevestig dat Hy in Christus Jesus ons Verlosser is.

Hoekom kan die Bybel nie vir ons ’n teken van God se Woord wees nie, ’n simbool daarvan dat hy met ons is en dat sy Gees ons inspireer nie? Ek kry egter die indruk dat ons met die Bybel doen presies waarvan ons die Rooms Katolieke Kerk beskuldig hulle met die betrokke twee sakramente doen. Ons verletterlik ’n simbool, ’n teken, die verwyser.

In die Bybel vind ons die neerslag van mense wat deur God se Gees geïnspireer is. Dieselfde Gees van God inspireer ons wanneer ons die Bybel lees. Daarom bely ek dat die Bybel deur God geïnspireer is.

7. Die Bybel: die hart van die tradisie

7.1 Bybel, basisdokument van die Christelike geloof

In die Christelike geloof is die Bybel die basisdokument. Dit is as’t ware die padkaart van die weg. Dit beduie hoe vervloë mense hulle op weg wees met God verstaan en uitgeleef het en moedig ons aan om hierdie beproefde weg te volg. Die Bybel getuig van God se genade, liefde en verlossing vir alle mense en moedig ons aan om as verloste mense tekens van sy genade en liefde in woord en daad te wees. Die Bybel getuig van die beproefde weg en moedig ons aan om daarop te hou. Die Bybel getuig en leer ons wat dit beteken om God onder alle omstandighede te dien.

7.2 In die Bybel leer ons God ken

In die Bybel leer ons God op ’n besondere manier ken. God is ook op ander maniere en deur ander gelowe bekend. Om ’n Christen te wees, is egter om die God van wie die Bybel getuig, as die middelpunt van jou lewe te ken. Laasgenoemde is egter nie ’n teken van Christelike eksklusiwiteit nie, maar van Christelike identiteit.

8. Die Bybel as geïnspireerde woord

Wanneer ons sê dat ons die Bybel histories, metafories en sakramenteel moet sien, sê die opkomende/ontluikende visie nie daardeur dat die Bybel nié deur God geïnspireer is nié. Dit verstaan die Goddelike inspirasie net anders.

Die inspirasie van die Bybel verwys naamlik na die beweging van die Gees in die lewens van die mense wat die Bybel daargestel het. Die klem is nie op woorde wat deur God ingegee sou wees nie, maar op mense, te wete die antieke gemeenskappe en hul skrywers, wat op grond van hulle belewenis van die Gees van God, beweeg is.

Daardieselfde Gees, so getuig die Bybel, leef ook in ons en bring ook ons in beweging. Daarom dat ons soveel aanklank by die gemeenskappe van die Bybelse tyd vind. Dit is waarom ons die Bybel as Goddelike waarheid en geïnspireerde Woord bely. Dit is waarom ’n gelowige ’n Gees vervulde mens is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui