Brief nav kerkleiers wat progay is

Kyk ook:

Die volgende brief van Daniel Louw in in Junie 2007 in Kerkbode geplaas na aanleiding van Ope brief: teoloë pleit vir gays.

************

Brief nav kerkleiers wat progay is

Mei 2007

Aan die moderator van die sinode van die NG Kerk

Ek is teleurgesteld dat sommige van ons kerkleiers (onder andere Frits Gaum en Willem Nicol) daarvoor is dat openlike gay leraars toegelaat word in die NG Kerk. Ek het op die volgende 5 verse in die Bybel afgekom wat handel oor homoseksualiteit:

  1. Lev 18:22
  2. Lev 20:13
  3. Rom 1:27
  4. 1 Kor 6:9
  5. 1 Tit 1:10

Die vraag is: Hoe moet ons dit interpreteer en wat doen ons daarmee:

  • Ignoreer ons dit bloot? Ek dink nie so nie (kyk Openbaring 22:18-19)
  • ‘n Mens kan tog nie hierdie vergelyk met 1 Kor 11 waar Paulus sê vroue moet hoede kerk toe dra en dit afmaak as nie meer van toepassing op ons vandag nie.
  • Die Bybel sê nie net dat dit sonde is nie, maar gebruik sterk woorde soos: “afstootlike sonde”, “afskuwelike sonde”, “skandelikhede” en “perversiteit”.
  • Dit word nie slegs noem om losse sedes te veroordeel nie. Dit gaan duidelik oor homoseksuele verhoudings – maak nie saak of die twee getrou aan mekaar is of nie.
  • God het (en sal) ook nie sy siening verander hieroor nie, want God bly altyd dieselfde (sien Ps 102:27, Mal 3:6 en Heb 3:8)
  • Veronderstel dit is ’n sonde om ’n homoseksuele verhouding te hê, hoe moet die Bybel dit duideliker stel?

‘n Argument is nou dat mense met homoseksuele neigings nie ’n vervulde lewe kan lei nie. Verskillende mense het verskillende sondige neigings: as ek ’n neiging het om seksuele verhoudings met ander vrouens te hê, kan ek nie sê: “Ek kan nie ’n volle lewe lei sonder hierdie opwinding in my lewe nie”, en dan voort gaan daarmee nie.

In die brief aan die NG Kerk word die volgende stelling gemaak: “Waar daar haat en onreg is – tussen en teenoor rasse, geslagte, nasies, heteroseksuele en gays – is God bedroef. ’n Kerk, veral ’n kerk, moet haat en onreg afwys.” Ek stem heeltemal saam met hierdie stelling. Ek wil net weet waar die haat teen die gays is? Die kerk se standpunt is dat hierdie mense met liefde aanvaar moet word, maar hulle lewenswyse kan nie goedgekeur word nie. Dieselfde geld vir mense met drank en egbreek probleme.

Moontlik sal ons nooit met 100% sekerheid weet waar homoseksualiteit vandaan kom nie, maar ons kan mos nie ons eie wette maak omdat ons onkundig is nie. Indien jy homoseksuele neigings het, hoef dit jou nie te verhoed om ’n verhouding met God te hê nie. ’n Homoseksuele verhouding gaan wel verhoed dat jy ’n verhouding met God het. Ek kan nie glo dat “christen gay paartjies” die bogenoemde verse in die Bybel met ’n skoon gewete kan lees nie.

Die NG Kerk moet nie as onverdraagsaam en liefdeloos gesien word nie, ja, maar nie ten koste van God se Woord nie. Dit sal ’n fatale fout wees.

Daniel Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui