Brief aan NG Kerk: ‘Laat gay leraars toe’

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Beeld verskyn.

****************

Brief aan NG Kerk: ‘Laat gay leraars toe’

30 May 2007 09:36:50:313AM

Verskeie bekendes pleit in ’n ope brief aan die algemene sinode van die NG Kerk dat die kerk openlike gay predikante op die kansel moet toelaat.

Neels Jackson

Verskeie bekendes pleit in ’n ope brief aan die algemene sinode van die NG Kerk dat die kerk openlike gay predikante op die kansel moet toelaat.

Dr. Frits Gaum, gewese redakteur van die Kerkbode en skriba van die algemene sinode, is een van die organiseerders van die brief wat deur sowat 500 mense onderteken is.

Onder hulle tel bekendes soos die sanger Steve Hofmeyr, mnr. Johnny die Lange, adjunkminister van justisie, die letterkundige prof. Elize Botha, die akteur Nic de Jager en die rubriekskrywers dr. Cecile Cilliers en haar suster, Madeleine van Biljon.

Onder die talle teoloë wat die brief onderteken het, is proff. John de Gruchy, Andrie du Toit, Yolanda Dreyer, Etienne de Villiers, Christina Landman en Elna Mouton, sowel as drr. Willem Nicol, Allan Boesak en Nico Smith. Ds. Laurie Gaum, Gaum se seun, bevind homself midde-in die kwessie nadat hy vroeër as predikant ontslaan is omdat hy in ’n gay-verhouding betrokke was. Die algemene sinode moet aanstaande week oor homoseksualiteit besin en ook Gaum jr. se appèl teen sy afsetting aanhoor. Die brief sê die vorige algemene sinode in 2004 het tekens van hoop vir gays begin oprig met die besluit om opnuut na die kwessie te kyk. Dit vra vanjaar se sinode om daarop voort te bou. “Ons pleit dat u gay mense, nes heteroseksuele, as volwaardige mense en as volwaardige lidmate sal erken, dat u vir die diversiteit wat onder mense bestaan, ruimte sal gee, en dat u die deur ook sal oopmaak vir dié kerkrade wat gelei word om openlike gay mense as ampsdraers te verkies of te beroep sonder om eise te stel wat nie vir ander mense geld nie.”

Die eis waarna verwys word wat volgens een voorstel aan gays gestel word, maar nie aan ander mense nie, is dat hulle selibaat moet bly as hulle in enige kerklike ampte wil dien.

Die ondertekenaars sê in die brief hulle aanbid ’n God van liefde en geregtigheid.

“Waar daar haat en onreg is – tussen en teenoor rasse, geslag-te, nasies, heteroseksuele en gays – is God bedroef. ’n Kerk, veral ’n kerk, moet haat en onreg afwys.

“Die algemene sinode word nou geroep om haat en onreg teen gays, in die samelewing én in die kerk, in die duidelikste taal af te wys.”

Die brief vra ook dat die algemene sinode ’n gestruktureerde proses van versoening tussen gays en heteroseksuele in die kerk begin. Daarby word gevra dat die algemene sinode nié deur sy besluite vanjaar die verskoning wat die vorige algemene sinode gays gevra het, ongedaan maak nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui