Beswaar nie teen Kerk, maar teen die sinode

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Beswaar nie teen Kerk, maar teen die sinode | Netwerk24

Prof. Johan Janse van Rensburg, Bloemfontein

Volksblad, 31 Januarie 2024

’n Getuienis van verskeie predikante in die Vrystaat is op 14 Januarie bekend gemaak.

Nadat die voorsitter van die Vrystaatse moderamen versoek het dat die predikante se getuienis van die amptelike netwerk verwyder moet word, het baie aanvaar dat die saak afgehandel is.

Nou het dr. Leon Foot, die sameroeper van die groep, dit goed gedink om RSG se godsdiensprogram (25 Januarie) te gebruik om die saak uitvoerig te bespreek.

Die programleier het dit as ’n goeie dokument beskryf en die luisteraars aangemoedig om dit te lees.

Daar is geen poging aangewend om aan die audi alteram partem (“luister na die ander kant”)-beginsel erkenning te gee nie.

Selfs my poging om met Foot persoonlik in gesprek te tree, het onbeantwoord gebly. Daarom maak ek noodgedwonge die volgende opmerkings:

Daar is ’n opsigtelike poging om die verskille in die NG Kerk met onbenullighede af te maak. Besware word “valse voorstellings” en “halwe waarhede” genoem. Dit skep die indruk dat beswaardes in die Kerk onnodig ontsteld is en dat daar geen rede tot kommer is nie.

Só ’n benadering doen geweld aan die erns van besorgdhede en verkleineer die integriteit van bekommerde leraars.

Die sake waaroor ander predikante beswaar maak en deur die getuienis van hierdie groep predikante verswyg word, gaan inderdaad oor die interpretasie van die Skrif.

Is daar dan by die opstellers geen besorgdheid oor die implikasie van besluite van die algemene sinode (AS) wat onteenseglik met Skrif en belydenis teenstrydig is nie? Enkele voorbeelde: Die AS besluit lidmate kan sélf besluit of daar ’n duiwel is of nie (teenoor die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), art. 12); die AS se besluit oor kindernagmaal (teenoor 1 Kor. 11 en die NGB, art. 35); die AS-besluit om die beginsel van “diversiteit” te aanvaar, op grond waarvan dosente allerlei uitsprake oor die opstanding en ander prinsipiële sake kon maak (teenstrydig met die Skrif en die NGB, art.7), ensovoorts.

Voeg daarby die onlangse verslag van ’n kommissie van die AS om intergeloof-aanbidding in gemeentes aan te moedig (teenoor die Heidelbergse Kategismus, vraag 94-95).

Dit is nie waar dat bekommerde predikante die openbare media gebruik om hul saak te stel nie. Hoeveel gravamina word nie by elke algemene sinode ingedien nie? Hoeveel briewe en artikels het nie oor baie jare in kerklike blaaie verskyn nie?

Die beswaar is nie teen “die Kerk” nie, maar teen besluite van die algemene sinode. Die algemene sinode is nie die Kerk nie.

Die getuienis van die Vrystaatse predikante het nie gehelp om die lug te suiwer nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Dit is interessant dat daar steeds ‘n onderskeid gemaak word tussen “die Kerk” aan die een kant en die algemene sinode aan die ander kant.

Artikel 38 van die Kerkorde bepaal hoe die algemene sinode saamgestel word:

  • Die algemene sinode bestaan uit maksimum 370 afgevaardigdes.
  • 200 hiervan bestaan uit 20 afgevaardigdes van elkeen van die tien streeksinode (20 × 10=200)
  • 160 afgevaardigdes word proporsioneel volgens die aantal belydende lidmate van
    elke samestellende sinode aangewys.
  • Die Algemene Kuratorium wys 10 afgevaardigdes
  • Dus 200 + 160 + 10 = 370

Dus word die algemene sinode altyd so goed moontlik verteenwoordig deur alle streeksinodes.

Dit mag dalk moontlik wees dat een algemene sinode toevallig uit liberale afgevaardigdes kan bestaan, maar die kans dat dit jaar na jaar sal gebeur is uiters skraal.

Dus kan ‘n mens wel sê dat die algemene sinode die NG Kerk is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui