Belhar en kerkeenheid

Kyk ook:

alt Vir nog artikels deur Jan Louw, kyk Wie is Jan Louw?.

My waarneming is dat daar oor ’n wye front ’n konsensus onder NGK lidmate is om ’n kerkstruktuur te kry waarin ons eenheid beter tot uitdrukking kom.

Waarom realiseer dit nie? Die vreemde werklikheid waarmee ons te doene het is dat die Belhar kwessie vandag die grootste enkele hindernis op die pad na eenheid is!

As die VGK nie ’n vierde Belydenisskrif aanvaar het, en so ’n onverbiddelike houding daaroor ingeneem het nie, kon ons waarskynlik lankal ooreengekom het oor ’n kerklike struktuur wat meer bevrediging inhou.

Die NGKA en die RCA het jare gelede al hulle bereidheid verklaar om oor kerkeenheid te praat. Die NGKA in die Noord-Kaap het inderwaarheid na 1994 gevra om op Ringsvlak te begin saamwerk, maar dit is van die hand gewys (!) omdat die NGK se moderatuur eers die VGK se samewerking wou kry.

Dit is ongelukkig nodig om daarop te wys dat die VGK grootliks verantwoordelik is daarvoor dat die eenheidsproses in die NGK familie nie op dreef wil kom nie:

  • Die VGK het op ’n stadium ’n moratorium op gesprekke met die NGK geplaas totdat ons, ons bereid verklaar om Belhar te aanvaar.
  • Die VGK het in stryd met ’n hofbevel voortgegaan om beslag te lê op pastorië en kerke van die NGKA en so groot bitterheid in die NGK familie veroorsaak.
  • Die VGK het hulle kerklike inligting eensydig uit die NGK se Jaarboek verwyder en daarmee hulself van die NGK familie gedistansieer. Hulle is steeds aan die NGK familie ’n verduideliking verskuldig waarom hulle daartoe opdrag gegee het.
  • Die VGK het deurlopend nog ’n aggressiewe houding teenoor die NGK en die res van die NGK familie geopenbaar. Toe ’n vorige moderator van die Algemene Sinode, prof Piet Strauss, met goeie bedoelings in 2008 ’n groeteboodskap namens die NGK aan die VGK wou oordra, is hy met openlike vyandigheid en venyn begroet. Die leiers van die VGK was op die voorpunt daarvan. Prof Strauss sê dat daardie gebeure vir hom ’n kerklike laagtepunt was.[1]
  • Die NGK is besig met ’n omvangryke proses om Belhar in die NGK goed te keur, maar die VGK is steeds onverbiddelik in hulle eise. Hulle het verklaar dat alle predikante en kerkraadslede Belhar binne een jaar moet onderteken. (Let wel dat die VGK nie vir die opsie te vinde is dat die NGK Belhar as opsionele belydenisskrif in die NGK aanvaar nie, soos die huidige voorstel tans staan.)

Die gevolgtrekking wat mens maak is dat dit vir die leiers in die VGK nie werklik oor kerkeenheid gaan nie, maar oor die bevrediging van hulle “eie ek”. Die ganse NGK familie moet buig om by hulle grille aan te pas. Hulle het ’n manier gekry om almal te manipuleer en in die beskuldigdebank te plaas. Die leierskap van die NGK het in so ’n mate vir hulle eise geswig dat hulle sover gegaan het om die eenheid van die hele NG Kerk op die spel te plaas deur die ingewikkelde stemmingsproses in al die gemeentes en Sinodes oor Belhar in werking te stel.

‘n Paar gedagtes oor kerkeenheid:

Kerkeenheid gaan ten diepste nie oor strukture nie, maar oor ’n onderlinge gesindheid van liefde. Die eenheid waarvoor Jesus gebid het in Joh 17:21 gaan oor eenheid in waarheid en in liefde. Prof Pieter Coetzen sê: Al vier die kerke wat nou in die Belhar proses betrokke is, se gesindheid weerspieël op die oomblik kwalik die gesindheid van Christus soos dit vir ons in Fil 2:1-11 beskryf word. Hy vra dat ons sal begin om met mekaar te praat oor “’n verband van trou” voor ons met mekaar kan praat oor ’n kerklike verband. Ons moet eers met mekaar praat oor “’n verband van trou aan mekaar en teenoor ons Here en Hoof, Jesus Christus”. Dit is waarmee ons op die hoogste vlak mee behoort te begin.

Intussen is daar niks wat gemeentes plaaslik verhoed om met die gemeentes van die VGK, die NGKA en die RCA saam te werk en projekte saam aan te pak nie. In al my jare as gemeentepredikant het ek ervaar dat die leraars en kerkraadslede van die Swart en Kleurling gemeentes graag met ons wil kontak maak. Hulle het graag hulle samewerking gegee as ons gesamentlike byeenkomste aangepak het.

My pogings as leraar om op Ringsvlak informeel of amptelik saam te werk was ongelukkig nooit baie geslaagd nie. Ons het nie verder gekom as groeteboodskappe op Ringsvlak nie. Gereelde broederkringe van leraars tussen die kerke kon ook nie lekker van die grond af kom nie. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie toegeskryf kan word aan ’n soort “sondigheid” by ons nie, maar daar was bloot praktiese dinge wat veroorsaak het dat dit nie van die grond af wou kom nie.

Ons verskillende kulture en tale en miskien geografiese verwyderdheid het meegebring dat samekomste nie op langtermyn basis wou realiseer nie. Daar was ook nie ’n behoefte aan gesamentlike Ringsvergaderings nie. Ons het verskillende agendas vir ons vergaderings gehad. Ons het op verskillende maniere vergadering gehou. Ons het verskillende wêrelde bedien, al het ons in dieselfde omgewing gebly. As ons tog saamgekom het, het ons ervaar dat ons wel een is, dat ons broers en susters in Christus is en dat ons mekaar lief het, al het ons kerklike struktuur dalk nie uitdrukking gegee daaraan dat ons een kerk is nie. Daar bly egter steeds by my ’n verlange dat ons as NGK familie op grondvlak beter met mekaar sal hande vat.

Ek het ook in my leeftyd probeer om met die ander leraars van ander kerke in ons dorp ekumenies saam te werk. Daar was weekliks ’n byeenkoms van pastore en leraars. Ons het jaarliks saamgewerk aan die “Global Day of Prayer”. Kerke uit die Swart en Wit gemeenskappe het hieraan saamgewerk. Daar was pastore wat in my tyd ook probeer het om as kerke ander projekte saam aan te pak, maar dit wou nie werklik van die grond af kom nie.

My ervaring was dat daar soveel energie vir ’n leraar ingaan om sy eie gemeente, met sy kerkraad en moontlike ringsverpligtinge en selfs sinodale verpligtinge na te kom dat die krag ontbreek om vaste verbintenisse met leraars van ander kerke aan te gaan. Vroeërjare het ons hard probeer om doodgewoon kanselruilings in ringsverband en selfs met ander kerke in stand te hou. Dit het mettertyd in die slag gebly. Baie gemeentes het met medeleraarskappe gefunksioneer en ons programme het so vol geword dat geskeduleerde kanselruilings nie gerealiseer het nie.

Dit is die prentjie soos ek dit op grondvlak in my leeftyd beleef het. My waarneming is dat die situasie soos ek dit beskryf het ’n redelyk algemene verskynsel is.

Beteken dit dat ons faal om die eenheid as kerk van Christus uit te leef? Ek dink nie so nie. Ek ervaar dat lidmate van kerke oor grense heen mekaar lief het en saamwerk. Lidmate doen saam Bybelstudie oor kerkgrense heen. Ons is bly om mekaar te sien. Daar bestaan oor die algemeen ook ’n hartlike verhouding tussen leraars van verskillende kerke.

Teen die agtergrond wil ek vra: Vanwaar die geweldige klem en skuldgevoel wat opgewek word oor die situasie in die NGK familie? Waarom word daar van ons almal verwag om sogenaamd ons eenheid te demonstreer deur ’n dokument (Belhar) te onderteken wat in ’n sekere kring in die kerk ontstaan het? Waarom die klem op ’n struktuur wat ons eenheid moet demonstreer? Ons is mos besig om laste op ons te laai, wat nie van die Here af kom nie. Ons wil ’n struktuur hê wat ons funksionering as kerk bemoeilik, net om een of ander punt daarmee te maak. Kan ons nie vir ’n slag net maar onsself wees en in eenvoud en blydskap voor die Here leef nie?

Ons kan in hierdie situasie die woorde van Paulus soos in 1 Kor 13:8 vir ons van toepassing maak:

Die gawe van kerke en kerkstrukture sal verdwyn, belydenisskrifte sal nie meer belangrik wees nie, sinodes en moderature sal verbygaan. Al wat die tyd sal oorleef is die liefde – die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Voetnotas

[1] Kyk “Opsomming van die boek “Belhar geweeg”, Hoe geslaagd is die kernwaarhede?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui