Voordrag voor die buitengewone vergadering van die Vrystaatse Sinode (Belhar)

VOORDRAG VOOR DIE BUITENGEWONE VERGADERING VAN DIE VRYSTAATSE SINODE

Prof. Johan Janse van Rensburg

29 JULIE 2014

altJohan Janse van Rensburg is ook die outeur van die boek Jesus is die EEN!

Voorsitter en geagte vergadering,

Meer as enige ander plek sal ’n mens by die kerk van Jesus Christus integriteit verwag. Integriteit beteken dat jou woord en jou optrede betroubaar moet wees. Dit is vir my ’n hartseer oomblik in my verbintenis met die N.G.Kerk dat ek vandag moet sê dat die proses om die Belydenis van Belhar as ’n opsionele belydenisskrif vir die N.G.Kerk aanvaar te kry, nie bo enige verdenking is nie. Die integriteit in die proses is geskend en die speelveld is ongelyk gemaak. Ek besef dat dit ’n radikale stelling is. Daarom moet ek dit konkreet bewys. Ek noem kortliks die volgende:

1 WAS DIT NET ’n VRAAG?

Die Algemene Sinode het in 2013 reeds besluit dat die belydenisgrondslag in artikel 1 met die Belydenis van Belhar uitgebrei moet word. Dit is betekenisvol dat die moderator van die vorige AS reeds vóór 2013 ’n onderneming aan die Algemene Sinode van die VGK gegee het dat Belhar deur die NG.Kerk aanvaar sal word (Kerkbode, 17 Oktober 2012).

Ek kan nie anders nie as om die besluit van die Algemene Sinode (AS) 2013 as ’n planmatige prejudisering van die proses te beskou. Die Presbyteriale kerkregering maak die plaaslike gemeente die uitgangspunt. Belangrike besluite oor die belydenisgrondslag moet van onder bepaal word en nie van bo af bestuur word nie. Artikel 44 van die Kerkorde verskans hierdie teologiese vertrekpunt: gemeentes, sinodes en dán eers die Algemene Sinode. Die besluit van die Algemene Sinode het hierdie proses omgekeer. Dat dit voortydig was, word bewys deur die feit dat, as die vereiste persentasie stemme nie verkry word nie, die besluit van 2013 herroep moet word. Die besluit van 2013 is jubbelend deur die openbare pers, Kerkbode en moderators van die VGK begroet.

Ná die besluit rondom artikel 1 is die moderator van die VGK, dr. Mary-Anne Plaaitjies van Huffel, om kommentaar genader. Sy, sowel as dr. Thias Kgatla, het aangedui dat hulle verheug is dat Belhar nou aanvaar is. Kerkbode (18 Oktober 2013, bls.6) berig: “Daar kan min twyfel wees daaroor dat die NG Kek se Algemene Sinode ’n voorstel aanvaar het wat ruimte vir die belydenis van Belhar in die kerk wil vind. Die besluit moet nou deur die sinodale strukture …aanvaar word”. Selfs die korrespondensie van die VGK oor die besluit van die AS van 2013 bewys dat die VGK dit so verstaan dat die AS 2013 ’n besluit geneem het om Belhar te aanvaar.

Om hierdie voortydige handeling te regverdig, word die indruk nou geskep dat die Algemene Sinode in 2013 nie die proses vooruit geloop het nie maar net die vraag geformuleer het waarmee gemeentes getoets moet word. Die waarheid is egter  dat Kerkbode in Januarie van 2014 (maande ná die AS) rapporteer het dat die vraag vir die toetsing van gemeentes nog nie geformuleer is nie. Die besluit was dus nie geneem bloot om as vraag vir die proses te dien, soos nou voorgegee word nie.

2 IS OPSIONEEL ’n OPLOSSING?

Die besluit van 2013 om Belhar ’n opsionele belydenisskrif te maak, is as ’n kompromie aangebied. Persone wat nie Belhar wil aanvaar nie, kan “ja” stem omdat hulle nie Belhar hoef te onderteken nie. Die opsionele aard het ’n lokaas geword om lidmate te oorreed om ten gunste van die wysiging van artikel 1 te stem. Die probleem hiermee is egter dat lidmate onbewustelik mislei word. Die moderamen van die VGK het reeds besluit dat die opsionele aard van Belhar nie vir hulle aanvaarbaar is nie en dat lidmate wat dit nie wil onderteken nie, begelei moet word om dit te aanvaar. Die volle teks van die besluit van die VGK word in die Addendum weergegee sodat daar geen onduidelikheid oor die bedoeling van die VGK kan wees nie. Kan u dink watter ontnugtering dit vir lidmate sal wees wat “ja” stem omdat hulle nie hoef te teken nie, net om later met die werklikheid gekonfronteer te word dat die VGK die onvoorwaardelike aanvaarding van Belhar sal vereis? Sal hulle nie voel dat hulle mislei is nie? Ek stel dit kategories dat elkeen wat lidmate aanmoedig om “ja” vir Belhar te stem omdat dit opsioneel is, ook moreel verplig is om die konsekwensies van die VGK se besluit aan hulle te verduidelik. Om daaroor te swyg impliseer dat hulle oningelig gelaat en dus mislei word.

3 IS OPSIONELE BELYDENISSKRIFTE VERSOENBAAR?

Die gereformeerde onderskeid tussen die “quia” en “quatenus”-benadering tot belydenisskruifte is algemeen bekend. Gereformeerde Kerke wêreldwyd kies vir ’n quia-standpunt. Belydenisskrifte word aanvaar omdat dit met die Woord ooreenstem. Dit impliseer dat die opsionele aard van ’n belydenis vreemd aan die gereformeerde teologie is. Die antwoord van die moderamen van die VGK is betekenisvol. Hulle beskou die opsionele aard van Belhar as ’n poging om twee teenstrydige konfessionele posisies te versoen “…and in the process created the danger of the authority of the Confessions to be challenged” (punt 5). Selfs die VGK aanvaar dus nie die opsionele aard van ’n belydenis nie en beskou dit as ’n bedreiging vir die gesag van belydenisskrifte!

4 HOE WYD WORD BELHAR AS BELYDENISSKRIF AANVAAR?

Die indruk word soms geskep dat die Belydenis van Belhar wyd in die gereformeerde wêreld aanvaar word. Min besef dat daar om en by 80 gereformeerde kerke wêreldwyd is. Slegs ’n paar van die kerke het Belhar as belydenisskrif aanvaar. Betekenisvol is die feit dat die AS van 2013 Belhar aanvaar het sonder dat daar met die NGKA en die RCA eenstemmigheid hieroor bereik is. Die NGKA het nie Belhar aanvaar nie en die RCA het in beginsels aanvaar dat Belhar ’n belydenis ná die kerkhereniging kan wees. Hierdie sinode moet ook weet dat daar by sogenaamde “roadshows” in die Oos-Kaap verkeerde inligting hieroor gegee is. Op ’n vraag aan die persoon wat daar opgetree het, of die NGKA en die RCA Belhar aanvaar het, het die persoon “ja” geantwoord. Op die vraag of die VGK met die opsionele aard van Belhar tevrede is, het die persoon ook “ja” geantwoord. Was dit doelbewuste verdraaiing van die waarheid of blote oningeligtheid?

5 LEES JY DALK DIE VERKEERDE BOEK?

Daar is onweerlegbare bewys dat inligting (geskrifte en standpunte) wat teen die aanvaarding van Belhar is, op verskillende maniere van lidmate en predikante weerhou word. By een van die “roadshows” vertel ’n leraar van my boekie wat hy gelees het. Die ander persoon antwoord. “Man, jy lees die verkeerde boeke”. Nog ’n leraar van die Vrystaat (in hierdie vergadering) wil graag ’n resensie van my boek in Vrypos plaas. Die versoek word geweier met die verskoning dat die boek nie deur ’n amptelike uitgewer uitgegee is nie. Ek is as ’n amptelike verskaffer by Exclusive Books geregistreer. Die bestuurder van een van die takke in Pretoria stem telefonies in om van my boekies in die winkel te plaas. Toe sy nie die boekies bestel nie, doen ek navraag. Sy deel my mee dat sy inligting ingewin het en beslis nie my boek in die winkel sal plaas nie. Sy is duidelik deur iemand beïnvloed om nie die boek in die winkel beskikbaar te hê nie. Daar is in Exclusive Books boeke oor allerlei onheilige temas (towerboeke; okkulte boeke, twyfelagtige tydskrifte, ens.) maar ’n boek wat teen Belhar is, mag nie aangehou word nie. Iemand wat by ’n inligtingsgeleentheid oor Belhar as spreker opgetree het, het redelik ongeduldig verklaar: “Ons is nou verby Johan van Rensbrug se standpunte en boekies”. Getuig só ’n optrede van die versoenende houding waarop die sinode van die Vrystaat besluit het?

6 VOLDOEN BELHAR AAN DIE VEREISTES VIR ’n BELYDENISSKRIF?

’n Vergelyking tussen die bestaande belydenisskrifte en Belhar toon die teologiese verskil. Die Algemene Sinode (1998) het die volgende onderskeid getref: “Terwyl die beoefening van teologie altyd tydgebonde, feilbare mensewerk is, het ons in die kerlike belydenis met meer as net die akademiese menings van teoloë te make. In die belydenisskrifte herken ons die algemene ongetwyfelde christelike geloof, soos die kerk dit op grond van die Skrif bely” (Handelinge van die Tiende vergadering van die Algemene Sinode:517; 11.1.3). Belhar handel op ’n horisontale vlak oor die sosiaal-etiese konsekwensies van die geloof maar nie oor die “algemene ongetwyfelde Christelike geloof” nie. Dit is ’n eietydse getuienis maar nie ’n belydenis nie. As teen-argument word na die Barmen-en Laudiumverklaring verwys wat ook oor sosiaal-politieke onreg gehandel het. Feit is egter dat nie een van hierdie verklarings as belydenis aanvaar is nie.

7 HET ONS DIE KOSTE BEREKEN?

Christus het in Lukas 14:29-30 gevra: “Want wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie, sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie”. Natuurlik het hy dit gesê om die koste van dissipelskap te illustreer. Maar hy gebruik ’n algemeen-geldende beginsel wat ongelukkig ook op die proses rondom Belhar geldig is. Hoe sterk mense ookal ten gunste van die aanvaarding van Belhar voel, sal ons moet rekening hou met die feit dat daar ook lidmate is wat sterk negatief oor Belhar is. Talle lidmate het reeds uit die kerk bedank terwyl ander gedreig het om te loop as Belhar aanvaar word. Selfs gemeentes het laat blyk dat hulle hulle van die aanvaarding van Belhar sal distansieer. Kan die N.G.Kerk in die Vrystaat bekostig om lidmate te verloor terwyl daar baie gemeentes is wat reeds sukkel om hulle leraars te onderhou?

SLOT

Die Sinode van die Vrystaat het besluit dat die proses rondom Belhar met integriteit moet verloop. Tog is daar duidelike onverdraagsaamheid en selfs ongeduld wanneer iemand nie die Belydenis van Belhar wil aanvaar nie. Al bogenoemde getuig nie van die integriteit wat ons in die proses by die Here se kerk verwag nie. Vir my is dit ’n donker uur in die geskiedenis van ons geliefde N.G.Kerk.

ADDENDUM VGK BESLUIT OOR DIE OPSIONELE AARD

1. The General Synodical Commission of URCSA in session in Durban has taken note of the decision of the DRC General Synod 2013 on the Confession of Belhar.

2. The GSC acknowledges and respects the right of the DRC to formulate its own confessional basis.

3. In the light of the developments in the DRC in the recent past URCSA appreciates and respects the growth and change that has taken place in the DRC with deep gratitude to God.

4. It is the conviction of the GSC that the proposed wording of Article 1 clause 2.2 in the confessional basis of the DRC is not acceptable as it stands for a church order of a finally re-united church.

5. The DRC has attempted to reconcile two contradictory confessional positions and in the process created the danger of the authority of the Confessions to be challenged.

6. The GSC supports the desire of the DRC to avoid division in the Church.

7. The GSC decides the following more adequate basis of dealing with the Confession and Church re-unification.

7.1 The Confession of Belhar is recognized as the confession with the same authority as the formularies of unity;

7.2 The content of the Confession of Belhar, namely visible church unity, true reconciliation in Christ-overcoming racial divisions in Southern Africa and the world and God’s preferential option for the poor-is proposed for full subscription by every office in the new re-unified Church;

7.3 The content of the Confession of Belhar will be taught in catechism, preaching, theological education and embodied in a transforming Church;

7.4 Every minister/office in the Church is given time of one recess after re-unification to consider and subscribe to the confession of Belhar formally;

7.5 Ministers that have an objection against the Confession on a particular point be allowed to submit an gravamen while they continue to be bound to their oath not to propagate their objections in any way;

7.6 Every new minister will be licensed only after subscribing to all four Confessions.

8. The GSC commits itself anew not to let go of the DRC, but to continue on the mutually critical and mutually affirmative journey on which we have embarked together, as spelled out in the Road map to Church Re-Unification and the Memorandum of Agreement.

&&&&&&&&

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui