Opsomming van ds Theo Danzfuss se boek: Belhar – Bely of Bestry?

Jan LouwDeur Jan Louw

14 September 2014

Enkele afkortings wat in die dokument gebruik word:

  • NGK: Nederduitse Gereformeerde Kerk (historiese blanke NGK)
  • NGKA: Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (historiese swart NGK)
  • VGKSA of VGK: Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (historiese kleurling NGK)
  • RCA: Reformed Church in Africa (historiese Indiër NGK)

***********

altTheo Danzfuss is leraar van die NG Gemeente Witfield. Hy is ook aktuarius van die Sinode Hoëveld. Die boek is in 1998 uitgegee deur Veritas Publikasies in Hatfield, Pretoria.

Die subtitel van die boek is: ’n Evaluering van die Belydenis van Belhar met spesifieke verwysing na die historiese konteks, die gebeure tydens die Sinode van Belhar 1982, die Status Confessionis asook die teologie van Belhar.

Dr Allan Boesak, die moderator van die 1986-sinode van die VGK het in die Die Ligdraer van die VGK as volg geskryf: “Geen besluit was egter so belangrik soos die aanname van die Belydenis van Belhar nie. Dlt was ’n geskiedkundige besluit. So iets doen ’n kerk slegs by hoë uitsondering. Die verklaring dat apartheid sonde is, en die teologiese regverdiging daarvan kettery, wat vervat is in die afkondiging van ’n status confessionis, was belangrik, maar nog slegs ’n besluit. Dit sou selfs moontlik kon wees om hierdie besluit by wyse van revisie te verander. Nou egter is hierdie besluit in ’n belydenis vasgelê. Dit is die hoogste woord wat die kerk kan spreek. Die daarstelling van ’n belydenis is ’n daad van geloofsgehoorsaamheid wat onherroeplik is.” Boesak het selfs nog verder gegaan toe hy sê: “Hiermee begin die NG Sendingkerk om belydende kerk te wees. Ek sê begin, want ’n belydende kerk is nie slegs ’n kerk met ’n belydenis nie …

Dit het vir Boesak oor apartheid gegaan. Hy het ook later in die Ligdraer geskryf: “Agter die Belydenis is ’n lang geskiedenis van pyn en lyding en onderdrukking; ’n lang worsteling met ons eie identiteit: wie en wat is ons as kerk, en waarheen is ons op weg?” En verder: “Daaragter (Belhar 1986) lê ’n lang stryd teen apartheid en teen ons angs en onsekerheid … Die Belydenis van Belhar het gegroei uit die rou wonde wat apartheid geslaan het.”

Apartheid is dus die eintlike saak waarmee Belhar vir eens en vir altyd wou afreken.

APARTHEID IN SUID-AFRIKA VIND NIE SY OORSPRONG IN ‘N PSEUDO-RELIGIEUSE IDEOLOGIE VAN DIE NED GEREF KERK OF DIE AFRIKANER NIE, MAAR WEL IN DIE HARDE WERKLIKHEID VAN DIE KONTAK-ERVARING TUSSEN BLANK EN NIE-BLANK IN SA.

Nico Smith word as volg aangehaal:

“Wanneer die Nederlanders as verteenwoordigers van die 17de eeuse Wes-Europeër hulle aan die suidpunt van Afrika kom vestig bestaan daar vir hulle geen ander skeidingsfaktor tussen hulleself en die inboorlinge wat hulle hier aantref as die godsdiens nie. … Kerstening het beteken dat ’n persoon, ongeag kultuur en beskawingspeil as gelykwaardig aanvaar is.. Die Nederlanders .. het dus met geen gevoel vir rasseverskille hier gearriveer. Die ontwikkeling van nouere kontak met die inheemse bevolking moes die nedersetters egter spoedig bewus gemaak het van die konkrete andersoortigheid van hierdie soort mense. Hiervan getuig talle aanhalings uit die Dagregister van Van Riebeeck waarin hy oor hierdie andersoortigheid … dikwels in skerp taal geskryf (het). Trouens slegs ’n jaar na sy aankoms aan die Kaap, skryf hy in ’n brief aan die Here XV11, waarin hy o.a. sy verplasing na elders aanvra, dat die Hottentotte ’n botte, plompe ende luije stincende natie is. … Hierdie kontak-ervaring het veroorsaak dat daar spoedig na die begin van die volksplanting reeds ’n spontane skeiding in die vorm van ’n natuurtike afsondering ontwikkel het.”

Wie dus apartheid wil benader asof dit sy oorsprong het in ’n pseudo-religieuse ideologie van die NG Kerk en die Afrikaner hou nie rekening met die werklike historiese feite nie.

Die ontstaan van afsonderlike kerke vir die nie-blankes het op ’n spontane wyse geskied as noodwendige uitvloeisel van die NG Kerk se besondere sendingywer. ’n Teenstander van apartheid (as ’n skeidingsbeleid), dr Ben Marais het bv gesê: “Nie afsonderlike kerke nie, maar eksklusiewe apartheidskerke is die probleem.”

DIE ONTWIKKELING VAN KERKLIKE EN SOSIALE APARTHEID WAS OP ‘N TYD OOK DIE NG SENDINGKERK SE EIE BELEID.

Ds C.J. Loff van die NG Sendingkerk verwys na die amptelike beleid van die sinode van die NG Sendingkerk van 1950 as hy sê: “… kerklike apartheid is deur die Sinode (van die NG Sendingkerk!) differensiasie genoem en as ’n praktiese reëling wat Skriftuurlik geoorloof is, goedgekeur. Verder is die wet teen gemengde huwelike beoordeel in die raamwerk van die regering wat sorg vir die orde en welwese van ons samelewing. In wese het ons kerk (Die NG Sendingkerkl) in 1962 hierdie wet goedgekeur toe uitgespreek is dat die lidmate van die NGSK in SA … geen openlike vermenging deur huwelike (soek) nie.”

DIE AGTERGROND EN BETEKENIS VAN DIE BEGRIP STATUS CONFESSIONIS.

Die begrip is bv gebruik tydens die Nazi-bewind in Duitsland toe rassistiese wette teen die Jode ingestel is. Karl Barth en Dietrich Bonhoeffer het daarop gewys dat die kerk ’n status confessionis bereik het. Die kerk moes ’n standpunt inneem oor die situasie in Duitsland en die sg Barmen Verklaring is opgestel. Beyers Naude het ’n parallel getrek tussen die Duitse kerkstryd in die dertiger jare en die situasie in SA in 1965.

Na ’n voordrag van dr Allan Boesak in Ottawa 1982, besluit die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) soos volg: “Therefore the General Council declares that this situation constitutes a status confessionis for our Churches, which means that we regard this as an issue on which it is not possible to differ without seriously jeopardizing the integrity of our common confession as Reformed Churches . We declare with black Reformed Christians of South Africa that apartheid (separate development) is a sin, and that the moral and theological justification of it is a travesty of the Gospel and, in its persistent disobedience of the Word of God, a theological heresy.”

Enkele dae ná die vergadering in Ottowa het die Sinode van Belhar plaasgevind. Dit was toe nog die NG Sendingkerk. Boesak is by die geleentheid óók verkies as voorsitter. Die NG Sendingkerk het ’n soortgelyke besluit as by Ottowa geneem en ’n Status Confessionis is verklaar.

Eers na die besluit geneem is, het prof G Bam aan die sinode verduidelik wat die implikasies van die besluit is en dat ’n nuwe belydenissskrif opgestel moet word. Ds Mentor, dr AA Boesak, dr DK Smit, prof JJF Durand en prof G Bam is deur die moderatuur aangestel as ad hoc-kommissie om ’n belydenisskrif op te stel.

DIE ROL VAN VERSKEIE EKUMENIESE VERGADERINGS EN ANDER INTERNASIONALE INSTANSIES

Op internasionale vlak het die hele kwessie van menseregte al meer begin om die ekumeniese vergaderings se agendas te oorheers. Die Suid-Afrikaanse regering het na die 2e Wêreldoorlog en veral na 1948 internasionaal in die kollig gekom oor sy beleid van apartheid. Alle vorms van rassediskriminasie moes uitgewis word sodat Suid-Afrika ’n pluralistiese, demokratiese, nie-rassige, nie-seksistiese, Westerse en internasionaal-georiënteerde land kon word.

Die NG Kerk van Transvaal en van Kaapland, sowel as die Hervormde Kerk was lid van die Wêreldraad van Kerke tot 1961 toe hulle uitgetree het vanweë die WRK se finansiële ondersteuning van verskeie politieke bevrydingsbewegings in SA soos die ANC en die PAC.

In SA het die spanning begin oplaai oor die paswette en opstande by Sharpville en in Langa. Daar was ook ’n mislukte sluipmoord-aanval op dr Verwoerd. Kerkleiers van die Anglikaanse Kerk soos biskop AR Reeves en dr Joost de Blank, die aartsbiskop van Kaapstad het gevra dat die NG Kerk van Transvaal uit die WRK geskors word. So raak die WRK almeer betrokke by die bevrydingstryd in SA.

In 1960 het die WRK die Cottesloe Beraad in Johannesburg gereël. Die sinodes van die NG Kerk het grootliks die besluite van die Cottesloe Beraad verwerp.

Die stigting van die Christelike Instituut van Beyers Naude en die SA Raad van Kerke kan gesien word as direkte gevolg van die Cottesloe Beraad. Hulle het groot bedrae geld van die WRK ontvang om apartheid in SA te beveg. (In 1988 was dit R4.5 miljoen!).

In 1977 het die Lutherse Wêreldfederasie in Dar-Es-Salaam plaasgevind. Hulle vra dat die blanke kerke die apartheid sisteem sal verwerp.

In 1981 is ABRECSA (Alliance of Black Reformed Churches in SA) gestig met die doel om ’n verenigde front teen die NG Kerk te vorm.

In die NG Kerkfamilie is die Broederkring of later die Belydende Kring in die lewe geroep.

In 1970 het die WBGK in Nairobi plaasgevind. Prof J Moltman het daar ’n belangrike rol gespeel wat tot gevolg gehad het dat ’n uitgebreide studieprojek oor die teologiese basis vir menseregte en bevryding begin is. In 1975 het die WBGK lank gepraat oor die teologie van menseregte. Lidkerke is opgeroep om by hulle regerings aan te dring op deelname aan die wapen-, ekonomiese- en finansiële boikot teen SA.

Die WBGK se byeenkoms in 1982 was ’n baie vernederende geleentheid vir die afgevaardigdes van die NG Kerk en die Ned Herv Kerk.

  • Die vergadering is geopen met ’n nagmaalsgeleentheid. Kort voor die diens sou begin, staan die afvaardiging van die NGKA op en lees ’n verklaring waarin hulle onttrek van die nagmaal vanweë die afgevaardigdes van die blanke NG Kerk se teenwoordigheid. Hierna stap 11 van die Suid-Afrikaners, waaronder dr Allan Boesak uit die diens uit.
  • Allan Boesak het ’n vurige pleidooi teen apartheid gelewer en gesê die blanke NG Kerk moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
  • ’n Brief van Beyers Naude is voorgelees.
  • ’n Direkte TV uitsending is na die wêreld uitgesaai van die verslag Racism and SA toe dit aan die orde gekom het.
  • ’n Status confessionis is verklaar en die lidmaatskap van die NG Kerk en die Hervormde Kerk is opgeskort.
  • Dr Allan Boesak is as voorsitter verkies.

BELHAR: GEBEURE TYDENS DIE SINODE – 1982

Dit is duidelik dat daar drukgroepe by die sinode was wat ’n verborge agenda gedryf het.

  • Die kwessie van ’n nuwe belydenisskrif het nie op die agenda verskyn nie.
  • Voor die sinode nog amptelik geopen was het ds J de Waal en LA Appies (albei ondertekenaars van die revolusionêre Kairos dokument) ’n ordemosie ingedien dat die blanke leraars, wat nog lidmate van die NG Kerk is geen sittingsreg op die sinode mag hê nie. Die vergadering van 528 lede, wat nog nie eens gekonstitueer was nie, moes vir ’n volle dag verdaag sodat die regskommissie eers met advies kon kom.
  • Daar was openlike ontevredenheid in die vergadering omdat ds Mentor as voorsitter gekies is en nie dr Boesak nie. Daar was soveel rumoer dat die skriba ds Sinclair gesê het: “Ons het so iets nog nooit beleef nie”.
  • Die besluit oor die status confessionis is geneem, sonder dat die saak op die agende verskyn het. Daar was groot verdeeldheid oor die saak en selfs skok wat uitgespreek is oor die veroordelende besluite.
  • Die besluit oor ’n nuwe belydenis was ook nie op die agenda nie, maar prof G Bam was gereed om ’n lang verduideliking te gee volgens Karl Barth oor die vier vereistes waaraan ’n belydenis moet voldoen.

’n Bejaarde en senior kleurlingleraar van die Sinode, ds JG Smith van Upington, het aan die einde van die Sinode ’n verklaring voorgelees waarin hy onder meer die volgende gesê het:

“Ek het gekom by die aand van my lewe en byna by die einde van my bediening. … Na 30 jaar in die bediening is dit met verontrusting in my gemoed dat ons die gebeure in hierdie Sinode vir die afgelope dae waargeneem het. Ons worsteling dat ek indien ek nie die sluitingsrede moes waarneem nie, ek die Sinode sou gevra het om die sitting te verlaat met verbeuring van dag- en reisgelde … die diep onderliggende tone van botsende standpunte lê nou onbedek op die oppervlakte … ek is met verslaentheid geslaan om in ’n vergadering van ’n Kerk soveel liefdeloosheid, venyn, bitterheid en onverdraagsaamheid te kon waarneem … Die hoop wat ons gekoester het dat die kerk’n versoenende rol in die samelewingsbestel sou speel, blyk nou vir my ’n illusie te wees …. Die gees en gesindheid wat hier geopenbaar is, het die Kerk op ’n pad geplaas waarop ons die vrugte nog sal pluk … As hierdie gees en gesindhede voortduur, dan gaan ons mekaar op die pad vorentoe verteer, as ons voortbou op die ingestane weg sal ons voordat ons kerkeenheid bereik, in ons eie geledere disintegreer en verbrokkel.”

BELHAR: IS DIT ENIGSINS ’n GEREFORMEERDE BELYDENIS?

Danzfuss bespreek die karakter van ’n belydenis en toets Belhar daaraan. Hy sluit af met die vraag: Is Belhar ’n formulier van eenheid of ’n formulier van verdeeldheid. Hy wys op die volgende:

  • Onenigheid binne die NG Sendingkerk tydens Belhar sinode 1982
  • Bande tussen NG Kerk en NG Sendingkerk word verbreek a.g.v.Belhar.
  • Skeuring in die NGKA: Vrystaat se sinode met ongeveer 123 gemeentes, sowel as Phororo (Noord-Kaap) sinode weier om met NG Sendingkerk te verenig. Een van die vername redes is die aanvaarding van die Belydenis van Belhar.
  • Onaangename hofsake wat nou reeds ’n lang tyd aan die gang is tussen die VGKSA en die NGKA. Die VGKSA wil die NGKA dwing om die vereniging te aanvaar en om al hulle eiendomme oor te dra aan die VGKSA. ’n Groot stuk van hierdie saak sentreer ook rondom die probleme wat deur Belhar veroorsaak is.
  • Die dreigende skeuring binne die NG Kerk-geledere wanneer gepraat word oor die moontlike aanvaarding van Belhar.
  • Die dooie punt wat bereik is met pogings tot kerkvereniging is grootliks a.g.v. Belhar.

Ds Kue Kue moderator van die NGKA in die Vrystaat het in 1994 ’n verklaring van vier bladsye uitgereik met die opskrif “Ontevredenheid oor die stigting van die VGKSA.” In die verklaring staan onder meer:

“Die totstandkoming van bogenoemde kerk op 74 April 1994 is vir baie van ons kerkrade en gemeentes en selfs ringe van die Ned Geref Kerk in Afrika ’n oorsaak van groot smart en ’n rede tot groot kommer. Die NGKA het met hierdie vereniging baie verloor. Die volgende kan genoem word:

  • Hy het sy naam verloor …
  • Hy het sg kerkblad verloor ,..
  • Hy het sy teologiese opleiding verloor …
  • Hy het sy selfstandigheid vertoor: Met die vereniging met die NGSK het hy vanselfsprekend ook lid van die Wêreldraad van Kerke met al sy Liberale sieninge geword.
  • Hy het sy ware eenheid in Christus verloor. Hierdie nuwe kerk het onder ons as broeders in Christus in ons gemeentes, ringe en streeksinodes nou verdeeldheid gebring en geen eenheid nie.”

Die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES) het in 1992 in Athene vergader. By die geleentheid moes ’n studiekommissie terugrapporteer oor die vraag of die GES die Belydenis van Belhar moet aanvaar of nie. Een van die belangrikste besware teen die aanvaarding van Belhar was dat Belhar te plek- en tydgebonde is om as ’n ekumeniese belydenisskrif vir die kerke van die wêreld opgeneem te word. Belhar kon nie die vereiste twee-derde meerderheid stemme kry om as belydenis aanvaar te word nie.

Danzfuss bespreek die teologiese inhoud van Belhar in 12 bladsye. Hy sê in sy konklusie: “Belhar is ’n soort wettiese reglement wat groot geloofsbeginsels soos eenheid, versoening en geregtigheid binne ’n baie smal kader probeer reglementeer.

  • Eenheid is gelyk aan: geen aparte kerkformasies nie.
  • Geregtigheid is gelyk aan: God is die God van die armes en verdruktes, en daarom moet die kerk ook kerk wees van die armes en verdruktes.
  • Versoening is gelyk aan: totale integrasie op alle lewensterreine.

Wie dit nie so doen nie, is ’n ongelowige en ’n ketter – ’n vyand van Christus.

Belhar is in sonde ontvang en gebore. In die lig van die historiese konteks waarin Belhar ontstaan het is daar baie waarop die ondertekenaars van Belhar nie trots kan wees nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui