Radio-onderhoud met Hennie Mouton oor evolusie

Kyk ook:

Onderstaande telefoniese gesprek is met Hennie Mouton gevoer vir uitsending op Radio Pretoria op Sondagoggend, 16 November 2014:

******

V: U was ’n elektroniese ingenieur en stelselontwerper voordat u dosent geword het. Ons verneem van kragtige simulasietaal wat u vir missiele ontwikkel het, wat ook vir simulasies van die sonnestelsel en verwante kinematika gebruik kan word. Vertel ons so ’n ietsie daarvan.

Ek was van redelik vroeg in my loopbaan by beheerstelsels betrokke en om rekenaarsimulasies van ontwerpe te doen, word dan baie vinnig ’n vereiste, want mens kan soveel deegliker ’n ontwerp daarmee behoorlik toets, nog voordat dit gebou word wat baie duur kan wees.

Simulasies kan dus beter ontwerpe tot gevolg hê, en kan baie ontwikkelingskoste spaar.

Die destydse Kentron, wat later Denel Dynamics geword het, het reeds ’n simulasietaal gehad toe ek dit begin nodig kry het, maar hulle was van plan om dit te verander omdat dit gebaseer was op ou basissagteware.

Ek het toe self ’n simulasietaal begin ontwikkel op nuwer basissagteware, wat ook later verander het van BASIC na PASCAL na C, en het dit oor meer as 20 jaar bly uitbrei soos ek nuwe funksies nodig gehad het.

Dit kon uiteindelik sekere elektronika, beheerstelsels, kinematika en dinamika simuleer, en ’n gedeelte van die program word nou ook gebruik deur my 4de jaaringenieurstudente by UCT in die vak Beheerstelsels.

Ek het in ’n stadium in my lewe ’n BSc met toegepaste wiskunde en sterrekunde as hoofvakke by UNISA gedoen, en omdat ons sonnestelsel maar basies met die gravitasiewet en kinematikawette aan die gang gehou word, wou ek graag ’n dinamiese simulasiemodel daarvoor saamstel.

Daarmee bedoel ek dat alle hemelliggame daarin ’n effek op mekaar het – mens kan dus byvoorbeeld ’n hemeliggaam van baie ver af in die dwarste deur die sonnestelsel laat beweeg, en kyk hoe verander dit die bane van die planete.

Ek kon in die proses die feit bevestig dat die effek van gravitasie oombliklik is, want enige doelbewuste vertraging wat ek in die model ingebou het, soos dat gravitasie se effek dalk ook net teen die spoed van lig gebeur, het die sonnestelsel uitmekaar laat spat. Maar ek dink nie ons moet nou in daardie tipe detail hier ingaan nie.

V: Is daar enige verband in hierdie werk van u en u publiksie oor evolusie? Hoe het u belangstelling en navorsing oor die onderwerp van evolusie posgevat?

Op ’n indirekte wyse het my werk eintlik direk veroorsaak dat ek ’n belangstelling in skepping en evolusie begin ontwikkel het.

Die Christelike Vereniging by die werk het op ’n kol ’n Amerikaner – prof Grady McMurtry – wat toe die land besoek het, uitgenooi om oor skepping en evolusie by ons weeklikse etenshalfuur te kom praat.

Dit het vir my en ’n kollega – Koos van der Westhuyzen – onmiddellik gefassineer, en ons het op die tydskrif wat later die Creation-tydskrif geword het, ingeteken, videos begin kry en wys by die werk en elders, en dan later ook aanbiedings daaroor begin ontwikkel en doen.

Dit het toe gelei tot my skrywe van ’n paar boeke, waarvan “Skepping en Evolusie – onversoenbaar!” die omvattendste en bekendste een is.

(Evolusie – die onwetenskaplike leuen, Evolution – the unscientific lie, Verken Lewenswetenskappe verder – ’n kritiese evaluering van evolusie)

V: U stel in u boek dat dit onder meer geskryf is vir mense wat onder die indruk verkeer dat evolusie wetenskaplik bewys is. Brei asb. kortliks hierop uit.

Daar is soveel aansprake wat evolusioniste maak wat eenvoudig nie waar is nie.

Byvoorbeeld:

  • Een soort het nog nooit in ’n ander soort verander nie, ook nie deur die pad van klein veranderinkies van honderde of 1000de subspesieveranderings nie.
  • En ek praat nie nou net van die aap-mens-voorganger wat nooit in ’n mens of aap verander het nie, ek praat van alle soorte.
  • Let wel, hiermee bedoel ek nie dat een oorspronklike Bybelse soort nie in verskeie variëte kon verander nie – daarom kon die hond en wolf oorspronklik een voorganger gehad het, maar dit was nie ’n slang, ’n padda of ’n dinosourus wat in ’n hond verander het nie.
  • Die wetenskaplike probleem gaan oor die natuurlike vermeerdering van genetiese inligting om vanuit een soort ’n nuwe soort te ontwikkel.
  • Dit is teenstrydig met een van die grootste genetiese effekte wat in die natuur waargeneem word, naamlik dat genetiese inligting agteruitgaan of verlore raak.
  • Selfs al trek mens al die stoppe uit om evolusie te probeer help, en beskou slegs moontlike voordelige mutasies, maw ignoreer alle nadelige mutasies, is die genetiese verskille tussen ons en die sjimpansee ver te groot om ’n gemeenskaplike voorganger te kan hê selfs in die tydperk van 4.5 miljard jaar wat evolusioniste glo die aarde se ouderdom is.
  • Genetiese verandering is in die verkeerde rigting en die tydperk benodig om dit evolusie te laat gebeur, selfs al ignoreer mens die 180° verkeerde rigting, is selfs vir evolusioniste ver te lank.
  • Hierdie probleem is aanvanklik deur ’n evolusionis JBS Haldane ter tafel gelê, en staan bekend as Haldane se dilemma, en is nog nooit opgelos nie, inteendeel – die probleem is nog groter in terme van tydskale as wat Haldane aangetoon het.
  • Daar bestaan wel gemeenskaplikheid in genetiese kode tussen verskillende organismes (onder andere dieselfde 4 basisletters) – selfs tussen die mens en ’n piesang – maar dit kan eerder aan ’n gemeenskaplike Ontwerper toegskryf word as aan ’n gemeenskaplike voorganger.
  • ’n Mens kan tientalle aanhalings vind van evolusionistiese paleo-antropoloë wat erken dat daar geen uitgesorteerde stamboom vir die mens se ontwikkeling uit ’n aapsoort of enige veronderstelde aap en mens-voorganger bestaan nie.
  • Omtrent elke nuwe fossielontdekking “werp nuwe lig” op die evolusiepad volgens media-uitsprake, maar in werklikheid beteken dit die evolusieproses raak al meer onmoontlik om te verdedig.
  • Die sogenaamde familieboom word al meer ’n baie deurmekaar bos, sou evolusie waar wees.

Het die geologiese kolom met sy fossiele nie evolusie bewys nie?

  • Nee, daarvoor is daar heeltemal te veel fossiele in totaal verkeerde rotsstrata gevind.
  • ’n Wêreldwye vloed is ’n baie beter wetenskaplike verklaring vir meeste van die geologiese kolom en die volgorde van fossiele daarin.
  • Om maar een voorbeeld te noem – die selakant moes volgens evolusioniste se interpretasie van die geologiese kolom 65 miljoen jaar gelede saam met die dinosourusse uitgesterf het.
  • Maar dis in die vorige eeu springlewendig soos ’n vis in die water (wat dit is) aan die kus van Madagaskar ontdek.
  • En evolusie het oor 65 miljoen jaar omtrent niks aan die selakant verander nie.
  • Die vinne het toe nooit in pote verander soos evolusioniste gehoop het nie.
  • As hierdie tydsinterpretasie van die geologiese kolom so hopeloos verkeerd was betreffende die selakant, is dit nie dalk ook hopeloos verkeerd betreffende meeste ander fossiele nie?

V: U stel ook dat u selfs met diegene in gesprek wil tree wat van mening is dat daar ’n redelike kans is dat evolusie waar kan wees?

Ek het al ’n paar skriftelike gesprekke gevoer met evolusioniste, waarvan sommige opgeneem is op die webwerf www.glodiebybel.co.za.

Julle kan gerus gaan kyk na my gesprek met Dr Francis Thackeray, en Mail and Guardian wat dit aangelê het om ’n artikel te skryf, maar dit toe nooit gedoen het nie.

Ek moet sê ek het die afgelope amper 2 jaar wat ek by UCT is, bitter min kans om goed op datum te bly met die nuutste bevindings en aansprake.

Maar ek kan ’n webwerf www.creation.com aanbeveel waar wetenskaplikes voortdurend bydraes maak en alle belangwekkende nuwe ontdekkings bespreek.

Die antwoorde is daar vir almal wat oë het om te sien, en ore om te hoor.

V: En nou kom ons by ’n punt wat nog dieper sny. U het selfs duidelike standpunte oor die vraag of daar werklik goeie wetenskaplike waarnemings bestaan wat op ’n jong aarde en heelal dui. Verduidelik asseblief, met verwagting dat daar bepaalde ander teenargumente na u teruggegooi gaan word.

Baie mense dink radiometriese datering (onder ander koolstof-14-daterings) het miljoene en miljarde jare bewys. Dit is glad nie so nie:

  • Bekende historiese lawa-uitstortings se radiometriese daterings was hopeloos verkeerd – miljoene jare is bepaal met die metode ipv die werklike duisende, honderde of selfs net tientalle jare.
  • Sommige van die groot probleme met radiometriese daterings is dat die aanvanklike verhouding van moeder- en dogter-atome onbekend is, en daar kon ook lekkasie of insypeling plaasgevind het.
  • Indien hierdie hoeveelhede verkeerd geskat word, gaan die antwoorde heeltemal verkeerd wees.
  • Koolstof-14 toetse wat gedoen is op diamante wat in die onderste rotsstrata van die geologiese kolom gevind is, het gedui op ouderdomme van slegs enkele duisende jare.
  • In terme van radiometriese daterings, behoort hierdie van die meer betroubare antwoorde te wees, want diamante het ’n baie digte struktuur sodat lekkasie of insypeling baie moeilik sou kon gebeur.
  • Dit beteken die hele geologiese kolom is slegs duisende jare oud.
  • Geen steenkool is al ooit gevind wat geen koolstof-14 bevat nie. Weereens weerspreek dit die miljoene jare aansprake.

Om aan te voer dat die heelal slegs duisende jare oud is, is nie so eenvoudig nie.

Soos meeste ander skeppingsleerders aanvaar ek dat die verste hemelliggame wel miljarde ligjare weg van ons af is.

Onthou dat ’n ligjaar ’n afstand is – die afstand wat lig in 1 jaar trek.

Maar hoe kan ons hierdie baie ver hemelliggame dan nou sien as die heelal, soos die aarde, maar net enkele duisende jare oud is?

Hoe het hulle lig in so ’n kort tyd hier gekom, veral as aanvaar word dat die spoed van lig konstant is en was?

Ek het in my boek ’n paar moontlike verklarings vir hierdie probleem bespreek, maar ek wil nou hier ’n nuwe moontlikheid noem.

  • Eerstens wil ek net daarop wys dat die aanhangers van miljarde jare ’n soortgelyke tydsprobleem het.
  • Volgens hulle is die sigbare radius van die heelal om die aarde ongeveer 15 miljard ligjaar.
  • En op die rand van hierdie sigbare heelal sit wat genoem word die agtergrondstraling.
  • Die lig wat ons nou hier ontvang wat van daar af kom, het daardie posisie 15 miljard jaar gelede verlaat.
  • Ons kyk dus na die begin van die oerknal, en sien sy grootte soos hy was, 15 miljard jaar gelede.
  • So hoe groot was die heelal 15 miljard jaar gelede? Wel hiervolgens, tenminste ’n sfeer met ’n radius van 15 miljard ligjaar.
  • Nou is die probleem die volgende – die oerknal word beskryf as ’n ontploffing uit so ’n geweldige digte materie- en energiebondel, dat die hele huidige sigbare heelal aanvanklik in ’n verskriklike klein puntjie vervat was.
  • En dit het 15 miljard jaar gelede gebeur.
  • So hoe groot was die huidige sigbare heelal toe? Wel, dit het ’n radius van ver minder as 1 mm gehad.
  • Maar net daarna, ook 15 miljard jaar gelede, het dit ’n radius van 15 miljard ligjaar gehad, soos ek nou net gewys het die oerknallers glo.
  • So hoe het die sigbare heelal gegroei van minder as 1 mm radius tot 15 miljard ligjaar radius, in nul tyd?
  • Dit is die oerknallers se soortgelyke tydsprobleem.
  • Oerknallers se antwoord is dat daar ruimterekking plaasgevind het, en ruimterekking is nie beperk tot die spoed van lig nie.
  • Dit beteken dat materie effektief vinniger (baie vinniger) as die spoed van lig kan beweeg tydens ruimterekking.
  • Nou as dit dan aanvaarbaar is, is ruimterekking net so ’n goeie verklaring waarom ons vandag lig van hemelliggame kan sien wat miljarde ligjare ver is, al is die skepping net ’n paar duisend jaar oud.
  • Siende dat ons die agtergrondstraling, wat teen ’n verbysterende spoed weg beweeg het, se lig kan sien, behoort ons enige ander hemelliggaam wat nader is, se lig ook te kan sien.

Laat ek net dadelik byvoeg – hierdie is my eie moontlike verklaring en dit het nog glad nie die bespreking en ontwikkeling deurgegaan van die ander bekende skeppingsmodelle nie.

Die interessante is dat daar sekere waarnemings in die heelal is wat baie beter met skeppingsmodelle as met die oerknalmodel verklaar kan word.

  • Een daarvan is dat die heelal nie ’n oud-na-jonk-struktuur vertoon soos mens verder in die hemelruim kyk, soos die oerknalmodel vereis nie.
  • Sterrekundiges is verbaas om te sien dat van die verste hemelliggame, volledig gevormde sterrestelsels is, anders as wat hulle verwag het op die ver afstand en gevolglik verwagte jong ouderdom.
  • Sterrestelsels moes eers later ontwikkel het volgens hulle model.
  • ’n Tweede is dat rooiskuifkwantisering wat waargeneem word, sin maak in ’n skeppingsmodel maar teenstrydig is met die oerknalmodel.

V: Ten slotte, as u dit bondig moes saamvat, waarom is die evolusieteorie na u mening ’n gevaar en waarom is dit belangrik om dit te weerlê?

’n Belangrike probleem is dat die evolusiehipotese goeie wetenskap belemmer.

  • Hoe langer sommige wetenskaplikes ’n leuen najaag en probeer bewys as waarheid, hoe meer mors hulle geld en tyd wat baie beter benut kon gewees het.
  • Sonder die evolusiehipotese sou die wetenskap al baie verder gevorder het.

Die grootste probleem met die evolusiehipotese is dat dit in wese alles natuurlik probeer verklaar, geen ruimte laat vir die Skeppergod nie, en direk teenstrydig is met wat in die Bybel staan oor die skepping.

  • Dit laat mense dus twyfel oor die waarheid van die Bybel, eerstens wat betref Genesis en die eerste boeke, en daarna lei dit dikwels ook tot wantroue in die res van die Bybel.
  • Jesus het gesê: Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo My nie, hoekom sal julle my glo as Ek julle van die hemelse vertel?
  • Ek dink dis vandag nog net so waar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui