ASM videoreeks: So glo, leer en getuig ons

Kyk ook:

Die dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het ’n reeks van meer as 13 video’s gemaak waarin lede van die Moderamen, asook dosente van die NG Kerk aan die ekumeniese fakulteite bydraes lewer onder die tema: So glo, leer en getuig ons.

Die gesprek gaan oor die NG Kerk se oortuigings, praktyke en prosedures, volgens ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die ASM.

“(Ons) vertrou dat die video’s benut sal word deur leraars en kerkrade om die NG Kerk se standpunte te belig, te bespreek en perspektief te bied waar dit nodig is,” het Janse van Rensburg gesê.

Indeks:

  1. Die identiteit van die NGK | Nelis Janse van Rensburg (22 Okt 2021)
  2. Hoe gaan ons om met ons verskille | Maartje van der Westhuizen (22 Okt 2021)
  3. Christus het opgestaan | Prof Marius Nel (22 Okt 2021)
  4. Selfdegeslagverhoudings: Die betekenis van die AS 2019 belsuit | Dewyk Ungerer (22 Okt 2021)
  5. Geregtigheid, Humanisme en Menswaardigheid | Prof Robert Vosloo (22 Okt 2021)
  6. Die NG Kerk en Teologiese Opleiding | Frederick Marais (26 Okt 2021)
  7. Gereformeerde Skrifbeskouing en -hantering | James Kirkpatrick (26 Okt 2021)
  8. Deel die Goeie Nuus van die Evangelie | Leon Westhof (27 Okt 2021)
  9. Die rol en aard van die belydenisskrifte | Jan Lubbe (27 Okt 2021)
  10. Erediens en Liturgie | Cas Wepener (27 Okt 2021)
  11. ‘n Geskiedenis van ‘regsinnigheid’ sowel as ‘vroomheid’ in die NG Kerk | André Olivier (28 Okt 2021)
  12. Geloofsvorming in ’n tyd soos hierdie | Anriëtte de Ridder (29 Okt 2021)
  13. Gemeente en Gemeenskap | Nioma Venter (29 Okt 2021)

Kommentaar

Jan Louw

Ek het met ‘n swaar hart na die eerste vyf videos wat beskikbaar gemaak is gekyk. Ek sê met ‘n swaar hart, want ons het hierdie mense al leer ken as mense wat dinge sê sonder dat hulle dit bedoel.

1. Ons identiteit as gereformeerdes | Nelis

Nelis sê die NG Kerk se identiteit lê in ons gemeenskaplike belydenis. Ons het ‘n gedeelde geloof wat vervat is in die belydenisskrifte. Ongelukkig klink dit vir my net na woorde.

By ons ontmoeting by Moreleta het ons die Dagbestuur spesifiek gekonfronteer oor die Sinode se besluite oor die Skrif, LGBT en die duiwel. Hulle het nie antwoorde nie, maar wil ook nie standpunt inneem nie.

2. Onderlinge verskille | Maartjie

Maartjie argumenteer dat ons in liefde van mekaar moet verskil. Sy kom weer na vore met die argument uit Handelinge 15 en stel dit voor dat die kerk daar in liefde van mekaar verskil het. Dit is doodgewoon nie waar nie en dit is reeds in ons antwoord op hulle Gids uitgewys. (Sien beoordeling van ASM se Gids).

Dieselfde met Romeine 14. Maatjie wil voorgee dat ons mekaar moet aanvaar al verskil ons met mekaar. Dit gaan daar egter oor randsake nl oor wat mens mag eet en drink. Onkuisheid is egter ‘n heel ander saak.

3. Die opstanding | Marius Nel

Ek is in die versoeking om dinge tussen die lyne te lees, omdat ek skepties is oor Marius. Dit val my op dat hy baie uitgaan van die vroeë kerk se siening oor die opstanding. Hy gebruik terme soos die vroeë kerk se opstanding “ervaring”. Hy praat nie van die opstanding as ‘n historiese werklikheid nie. Hy praat van “historiese belang”.

Wat Lasarus betref het hulle geglo in n fisiese liggaamlik opstanding. Wat Jesus betref het hulle geglo dat Hy die dood oorwin het. Hulle moes nuut en anders oor alles dink.

Hy sê dit is vir ons moeilik om te glo in die opstanding. Ons moet dit sien vanuit ons posisie hoe ons die werklikheid ervaar. Die werklikheid waarin ons leef is die gevalle werklikheid. Die opstanding daag ons uit om te dink vanuit God se herstelde wêreld, ens.

4. SGV besluite  | Dewyk

Hy gee ‘n oorsig oor die geskiedenis van 2015, 2016 en 2019.

Dit gee erkenning aan die selfstandigheid van leraars en kerkrade om hulle eie besluite te neem. Ons is ‘n ruim huis waar elkeen sy eie besluite kan neem.

Hy sê dat burgerlike verbintenisse nie ‘n alternatief vir die huwelik is nie.

5. Geregtigheid, Humanisme en Menswaardigheid | Robert Vosloo

Robert Vosloo is Julie Claassens se man. Hy praat oor genade, menseregte en geregtigheid. Sy punt is dat ons na die beeld van God geskape is, wat behels dat ons anders na ons naaste moet kyk. Hy gee voor dit is in ooreenstemming met wat Calvyn geleer het.

6. Teologiese opleiding | Frederick Marais

Kyk Die NG Kerk en Teologiese Opleiding | Frederick Marais (26 Okt 2021)

*********

Die videoprojek lyk net na nog ‘n poging om die lidmate tevrede te stel dat alles in die kerk nog in orde is.

Chris van Wyk

Ek het na die meeste van die video’s gekyk en hier is 4 opmerkings daaroor:

1. Die gevaar van identiteitspolitiek en die kerk se verskille met die heersende kultuur word geïgnoreer. Die verskille is baie sigbaar rondom die oorsprong van alles (Skepping of Evolusie), die uniekheid van Jesus Christus (Jesus vs die gode), die visie op die lewe (aborsie en genadedood), die visie op die huwelik en seksualiteit (Goddelike instelling vs menslike instelling), en die bestemming van alles (Uitverkiesing vs Universalisme). Wat die wêreld dus dink oor diversiteit of inklusiwiteit is radikaal verskillend van hoe die kerk (behoort) te dink. Ons moet hieroor indringende gesprek voer. Die veranderinge rondom seksualiteit kom nie uit ’n lees van die Bybel nie, maar weens druk uit die samelewing. Ons sal moet gesels daaroor.

2. Nog dieper, in die kerk gaan die reaksie op die kultuur bepaal word deur gesag wat die Bybel in ons lewe inneem (God se Woord of woorde van mense oor God). Kyk ons deur die bril van die Bybel na die lewe. Of kyk ons deur die bril van die lewe (die kultuur, die wetenskap) na die Bybel. Dit is ’n gesprek wat die toekoms van ons kerk sal bepaal.

3. Die impak van die liberalisme word geringgeskat. Bv, die historiese kritiek van die liberalisme is aanvanklik in 1986 afgewys, terwyl dit in 1990 en veral volledig 2002 geakkommodeer is. Die historiese kritiek is volledig ’n liberale teologie. Jy kan nie sê dat die kerk liberale teologie afwys en dan die historiese kritiek handhaaf nie.

4. Die gehegtheid aan ons belydenis is onder skoot, want die verskille veral oor dinge soos die bo-natuur, die verlossingsleer, die sondeleer en die antropologie word nie uitgepraat nie. Ons moet gesels oor die uitsprake oor die duiwel se bestaan al dan nie, oor die liggaamlike opstanding van Jesus al dan nie, oor die uitverkiesing versus die universalisme, oor die sondeval en wat sonde is, oor menswees en seksualiteit, en derglike dinge. Van die besluite die afgelope 35 jaar oor hierdie sake het beduidende verskille met die belydenisskrifte gebring.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui