Aanloop tot die besluit van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit 2015

Kyk ook:

Die besluit van Algemene Sinode oor homoseksualiteit het ’n vlaag van ontsteltenis deur die NG Kerk gestuur. As ’n mens mooi daaroor nadink, besef ’n mens dat dit nie net die besluit is wat tot die ontsteltenis aanleiding gee nie, maar dat dit die laaste druppel was wat die emmer laat oorloop het.

So dertig, veertig jaar gelede kon ’n mens reeds vreemde geluide in die kerk hoor. Dinge is gesê wat ’n mens laat besef het dat ’n aanslag op die Bybel as die onfeilbare Woord van God gemaak word.

Aanslag teen die Skrif

Die aanslag het klein begin. Eers was dit net Genesis 1. Daar is gesê dié hoofstuk moet nie so letterlik opgeneem word nie. Al wat dit wil sê, is dat God die Skepper is. Daarna is die aanslag uitgebrei na Genesis 1 tot 3. Dit is net ’n mite. Later is dit verder uitgebrei van Genesis 1 tot Genesis 11 en die uiteinde was dat die hele boek Genesis as ’n mite aanvaar moet word.

Jona bly toe later ook in die slag, want, sien, ’n vis kan nie ’n groot man insluk nie!

Aanslag teen Jesus Christus

Die volgende aanslag is teen die Here Jesus gemik.

Dit is nie waar dat Hy uit ’n maagd gebore is nie, is gesê, want Jesaja het gesê ’n jong dogter, ’n jong meisie sal swanger word.

Toe word die liggaamlike opstanding van die Here Jesus ontken. Hy het nie liggaamlik opgestaan nie, maar metafories. Dit het aanleiding gegee tot die heftige teenstand van Ferdie Mulder teen die dosente in Pretoria wat uiteindelik tot sy skorsing gelei het.

Aanslag teen Belydenisskrifte

Daarna is die aanslag teen die belydenisskrifte begin. Belhar moes toe die belydenis word wat deur kerk aanvaar moet word. Soos vereis deur die kerkorde, is die saak aan die gemeentes deurgegee om daaroor ’n besluit te neem. Die uitkoms was dat die kerk Belhar verwerp.

Op die afgelope sinode word besluit dat elke streeksinode afsonderlik kan besluit of hulle Belhar aanvaar of verwerp. En dit is die einde van die eenheid van die NG Kerk. Dit waarvoor oom Koot Vorster en oom Kosie Gericke so hard gewerk het om die eenheid van die NG Kerk in 1962 in die Algemene Sinode ’n werklikheid te laat word, word in 2015 versplinter.

Daarmee saam beoog die sinode om krities die Twaalf Artikels te beoordeel en dit te verander. Is dit moontlik omdat artikel 2 verander moet word, waar gesê word dat Jesus Christus uit die maagd Maria gebore is?

Aanslag teen kerk

Die volgende aanslag is teen die kerk gemik. Die Gereformeerde beginsel dat die plaaslike gemeente volledig kerk is, is al meer en meer vervang met die topstruktuur van die Sinode ten koste van die gemeentes. Die Sinode het al meer die hoofkantoor geword waarvan die gemeentes die takke is wat moet doen wat hoofkantoor sê.

Terselfdertyd word probeer om die skynbare eenheid van die kerk met dubbelslagtige besluite te bewaar. Neem byvoorbeeld die besluit oor die duiwel. Is daar ’n duiwel of is daar nie een nie? Elke lidmaat kan self besluit!

So ook die besluit oor homoseksualiteit. Elke kerkraad moet self die besluit in die praktyk toepas. Waartoe lei dit? Die allergrootste verwarring.

Intussen is kerkrade verklein en word hulle soos die direksies van maatskappye. So is daar ook nie meer ouderlinge en diakens nie terwyl Paulus telkens vir Timoteus die opdrag gegee het om in die verskillende gemeentes ouderlinge aan te stel.

Die predikant het nou professioneel geword. Huisbesoek word nie meer gedoen nie en as iemand iets met hulle wil bespreek, moet so ’n een die kerkkantoor skakel en ’n afspraak reël. So het hulle opgehou om VDM te wees, Verbi Divini Minister wat beteken Bedienaar van die Goddelike Woord. Hulle is nie meer diensknegte wat dien nie, maar het meesters geword.

Terug na Rome

Dit is ook verontrustend om te sien hoe die kerk al meer en meer na Rome terugkeer. Die alewige kerse het ’n kenmerkende beeld daarvan geword. Dit moet die gemeente glo herinner aan die lig van die Here Jesus. Intussen sê Jesus aan Sy volgelinge: ”Julle is die lig van die wêreld” terwyl Hy die lig is wat gekom het om in die duisternis te skyn en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Daar is gemeentes waar wydingswater by die ingang tot die kerkgebou beskikbaar is vir lidmate wat hulleself wil wy.

En die moderator van die sinode? Hy tree deesdae soos ’n Pous op om namens die kerk sy kerklike uitsprake te lewer.

Is u bewus daarvan dat die teologiese fakulteite nie meer Gereformeerd is nie? Ek het betroubaar verneem dat die teologiese fakulteit in die Vrystaat onlangs besluit het om nie meer Gereformeerd te wees nie. Die ander twee fakulteite is seker lankal nie meer Gereformeerd nie. En dit is die plekke waar die leraars opgelei word wat die Woord van die Here aan ons in die Nederduitse Gereformeerde Kerk moet bedien!

Teenkanting

Te midde van al hierdie afdwalinge het besware van tyd tot tyd die lig gesien, soos byvoorbeeld die boeke van Pieter Pelser. Besorgde lidmate en leraars het ook op ’n keer die boek “Die Trojaanse perd in die NG Kerk” gepubliseer.

Taak vandag

Onder hierdie omstandighede is die vraag: Wat staan ons wat die Bybel as die Woord van God aanvaar, te doen?

Heel eerste moet ons bid, aanhou bid todat die Here Sy wil aan ons bekend maak en dan moet ons gelowig aan Sy wil gehoorsaam wees.

In groepbespreking kan ons ook gerus aan die volgende ons aandag gee:

  1. Waarmee begin ons? Bybelstudie, huisgemeentes, eie eredienste met gebruik van die sakramente? Mag ek u iets vertel: Aan die begin van die jaar het Willem en Louisa Louw ons gevra of ons saam met hulle sal Bybelstudie doen, omdat hulle so ongelukkig was met die Woordbediening in dieNa Willem se dood, het ons daarmee voortgegaan. Toe vra Neels en Alta Britz of hulle by ons kan aansluit nadat hulle hul lidmaatskap in die gemeente opgesê het. Ons kom dus gereeld saam om die gemeenskap van die heiliges te beoefen.
  2. Moet ’n mens begin dink aan die vorming van ’n aparte kerk? Dit kan ons alleen oorweeg as die Here ons daartoe lei.
  3. Intussen is dit uiters belangrik dat ons ander lidmate van die kerk wat ook oor die sinodebesluit treur, op te spoor en hulle hande te vat en te ondersteun.
  4. Dit is ook belangrik dat ons met ontevredenes in die res van die land skakel om saam met hulle die regte pad te soek.

Mag die Here ons duidelik lei om Sy wil te ken en dit te gehoorsaam.

Hendrik van Rensburg VDM

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui