Kerkbode briewe – 4 Maart 2016

Kyk ook:

Die volgende twee briewe het in Kerkbode, 4 Maart 2016 verskyn:

************

God verwag gehoorsaamheid

Jan Louw van Reitz skryf:

Kerkbode (22 Januarie) [kyk hieronder in die bylaag] sê daar is wysheid nodig om die meningsverskil in die NG Kerk te hanteer en bring daarmee saam ook gehoorsaamheid en insig om reg te doen, te berde.

Ons lees in 1 Konings 13 hoe ’n man van God ’n belangrike boodskap op dramatiese wyse aan die koning oorgedra het. ’n Ou profeet vra die man toe om eers by hom te kom eet. Die man van God het geantwoord: “Nee, die woord van die Here aan my was uitdruklik: Ek mag in hierdie plek geen kos eet of water drink nie.”

Die profeet het egter vir die man gesê: “Ek is ook ’n profeet net soos jy en ’n engel het op bevel van die Here vir my gesê: Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en sy dors les!”

Die man van God het hom laat mislei en hy het by die profeet gaan eet. Op pad huis toe het ’n leeu die man van God doodgemaak. Die leeu het saam met die man se donkie wag gestaan by die liggaam van die man van God. Dit was vir die mense van Bet-El ’n teken dat God stiptelike gehoorsaamheid van mense in sy diens verwag.

Die Eenjaarbybel se kommentaar oor die gedeelte is as volg: U moet altyd vertrou op wat die Skrif sê en nie op die dinge wat volgens die mense reg en waar is nie.

Paulus sê: Al sou ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref! (Gal 1:8).

Dit is die erns van die situasie waarmee die NG Kerk in hierdie dae moet rekening hou as ons praat van gehoorsaamheid om reg te doen.

[Verdere kommentaar deur Daniel Louw: As ’n mens vir Jesus direk kon vra vir raad oor hierdie saak is ek oortuig daarvan dat Hy sou geantwoord het: “Wat sê die skrif?” Toe Jesus op aarde was het Hy meermale na die Skrif verwys met tipiese woorde soos: “Daar staan ook geskrywe…” (gaan soek die woord “geskrywe” in die vier evangelies en sien hoeveel keer Jesus so praat). As ons God se wysheid soek in hierdie verband, moet ons dit in die Bybel gaan soek. Ek die Bybel is baie duidelik oor hierdie kwessie, nie soos sommiges beweer nie.]

Kom ons bid

PJ en D Botha, J en AS Marais en JH en M Lombard van Mosselbaai skryf:

Ons is lojale NG lidmate wat vir baie jare die Here Jesus binne die kerk met toewyding dien.

Tans is ons baie hartseer en ontnugter oor Skrifhantering in die kerk. Dit is in stryd met wat tot nou toe in die kerk en by ons kweekskole geleer is, veral met betrekking tot die huwelik.

Dit bring die geborgenheid van ’n geloofstuiste vir baie lidmate nou in gedrang. Ons sien binne ons families en vriendekringe hoe van ons mees toegewyde lidmate en jongmense wat die Here Jesus liefhet die kerk verlaat en elders ’n geestelike tuiste soek.

Eskalasie in egskeiding by predikante en geestelike leiers lei tot diepe hartseer en ’n gebrek aan vertroue in die kerk as voorbeeld van die Christelike huwelik.

Hiermee saam is ons skaam dat die NG Kerk se degradering van die Christelike huwelik jongmense al meer dryf tot saamwoon en buitehuwelikse seks.

Baie ouers vertrou ook nie hul kinders vir geestelike onderrig aan die kerk toe nie. Die ergste is dat dit lyk of die Heilige Gees so bedroef word dat Hy Homself al hoe meer aan van die kerklike strukture onttrek.

Vanweë die vreemde, vir ons onbybelse, standpunte en uitsprake van dosente is daar ’n groeiende wantroue in die kerk met betrekking tot die opleiding van studente by al drie teologiese fakulteite.

Voordat die NG Kerk se sout heeltemal laf word en sy lig verder verdof, kom ons bid.

O Heilige Gees, besoek u kerk!

Bylaag: Uit Kerkbode, 22 Januarie 2016

Wysheid

Aan die begin van 2016 kan die NG Kerk by koning Salomo gaan kers opsteek.

Toe God vir Salomo sê: “Vra wat Ek jou moet gee,” het Salomo volgens 2 Kronieke 1:10 gesê: “Gee my nou wysheid en kennis dat ek hierdie volk reg kan lei …”

Volgens 1 Konings 3:9, vra Salomo: “Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê …” God som dié versoek ’n paar verse verder op as een om “insig in wat reg is”, en dan gee God vir Salomo wysheid en insig.

Met die sterk meningsverskille in die NG Kerk oor selfdegeslagverbintenisse en met emosies wat daaroor opvlam, is dit wat die NG Kerk nou nodig het: wysheid, insig in wat reg is, gehoorsaamheid om te doen wat reg is.

As ’n bydrae tot die soeke na wat reg is, na die wysheid om te onderskei wat God se wil is, bring Kerkbode in die eerste tien uitgawes van die jaar (en dalk word dit meer) ’n reeks bydraes tot die gay-debat.

In die meer as sestien jaar sedert die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland die saak in 1999 bespreek het, het daar verskeie sleutelaspekte na vore gekom waaroor die
menings uiteenloop. Kerkbode het ’n reeks van hierdie aspekte geïdentifiseer en telkens twee skrywers – een ten gunste van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag, en een wat daarteen gekant is – gevra om die betrokke aspek te bespreek.

Lesers word genooi om hierop te reageer in briewe van nie langer as 300 woorde nie.

Die gedagte is om die vlak van die debat te probeer lig bokant dié van persoonlike aanvalle en emosionele verwyte tot waar ons die sake self rustig kan oorweeg. Uiteindelik is die doel om uit te kom by “insig in wat reg is” en konsensus daarom te bou.

Mag die Here genadig wees en dit aan die NG Kerk skenk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui