Adrio König en opstanding

Kyk ook:

*******

Adrio König en opstanding | Kerkbode

Kerkbode, 23 Mei 2006

Dr André Bartlett, NG Gemeente Aasvoëlkop, skryf: EK was verbaas oor prof Adrio König se resensie van Julian Müller se boek Opstanding (Kerkbode, 12 Mei 2006).

Die rede vir my verbasing is dat ek nog altyd onder die indruk verkeer het dat König basies dieselfde taal as Müller gebruik in sy nadenke en besinning oor die opstanding. Om dit te illustreer haal ek enkele grepe aan uit sy boek Jesus die Laaste. Gelowig Nagedink oor die Einde (NG Kerkboekhandel, 1980):

“Hier gaan dit nou oor dinge waarvan ons geen ervaring of analogieë het nie . . . In die apokaliptiek kom juis analogielose, radikaal nuwe dinge ter sprake. Vandaar dan ook die vreemde en soms haas onvoorspelbare beelde waarin die boodskap gehul word. (123)

“As die opstanding van Christus analogieloos is, kan dit nie ten volle begryp of verduidelik word nie. Dit is in beginsel onmoontlik om iets ten volle te verduidelik as daar geen voorbeelde bestaan waarmee dit verduidelik kan word nie. Trouens, die begrip ‘opstanding’ is klaar ’n metafoor, dws ’n beknopte vergelyking. (123)

“Ons kan nie anders as om in beelde daaroor te praat nie, omdat dit in beginsel analogieloos is, maar dan is ons beperk tot hoofsaaklik negatiewe kennis, dus eerder wat dit nie is nie, as wat dit is. (124)

Met verwysing na 1 Kor 15 sê König: “‘Veral Paulus het probeer om iets meer hieroor te sê deur die opstandingsliggaam met die aardse gestorwe liggaam te vergelyk . . . Dit is egter opvallend dat ook hy hoofsaaklik negatief hieroor skryf. Uit die vergelyking is dit duidelik dat ons uit die aard van ons huidige liggaam niks kan aflei oor die aard van die opstandingsliggaam nie… . Ons weet nie hoe die opstandingsliggaam sal lyk nie (vgl 1 Joh 3:2!), maar ons weet dit sal radikaal anders, ja, teenoorgesteld wees aan die aardse liggaam.” (124)

’n Mens sou letterlik tientalle aanhalings uit die boek van Müller kon maak wat basiese ooreenstemming toon met hierdie gedeeltes uit die boek van König.

In die hoofstuk waaruit bogenoemde aanhalings kom, beklemtoon König ook die historiese, liggaamlike en kontinuïteitsaspekte, maar in geheel gesien skryf hy oor die misterie van die opstanding op ‘n wyse wat in wese dieselfde is as wat Müller dit doen. Ongelukkig hoor ’n mens nie dieselfde klanke in sy resensie nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui