Gemeente ignoreer sinode

Die volgende artikel het oorspronklik in Beeld verskyn.

***********

Gemeente ignoreer sinode

2006-05-23

Neels Jackson

Die NG gemeente Rant-en-Dal in Krugersdorp gaan voort met sy planne om mense wat ’n behoefte daaraan het, weer te doop ondanks versoeke van kerkleiers dat hulle daarmee moet wag.

Dr. Henk Gous, moderator van die NG Kerk in Wes-Transvaal, het tydens die pas afgelope sitting in Vanderbijlpark aan die sinode gesê die sinodale bestuurskommissie en die betrokke ringskommissie het met Rant-en-Dal se gemeenteleiers oor die planne gesprek gevoer.

Hulle het begrip vir die behoefte van mense in die gemeente wat ’n simbool wil hê van hul toewyding of hertoewyding aan die Here.

Die gemeenteleiers het aan hulle verduidelik dat die voorgenome tweede doop nie ’n herhaling is van die kerk se gebruiklike Christelike doop nie. Dis ’n belydenisdoop, soos wat Johannes die Doper gebruik het.

Gous het gesê daar is ander maniere, soos die gebruik van die nagmaal, waarmee mense hul toewyding aan God kan vier.

Hy het gesê die belydenisdoop van Johannes is uitgefaseer en dat dit beslis verwarring gaan skep. Hulle het dus die gemeente gevra om nie hul besluit as finaal te beskou nie, maar om te wag en saam met die breër kerk na ’n antwoord te soek. Ds. Jannie Pelser van Rant-en-Dal het by navraag gesê dat hulle nie gaan wag nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui