10 vrae aan Fanie Snyman

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Kerkbode, 21 Augustus 2015 verskyn.

*********

Fanie Snyman, dekaan van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat, se kommentaar oor Maleagi in die internasionale reeks Historical Commentaries on the Old Testament (HCOT) het pas verskyn. Frits Gaum het met hom onder meer hieroor gesels.

1 Wie is jy, Fanie?

Ek is ’n gelowige wat hoe langer hoe meer leef vanuit die genade van God in Jesus Christus. Ek is ’n dominee van die NG Kerk wat Ou-Testamentikus geword het en ek beskou dit nog steeds as een van die wonderlike dinge wat met my gebeur het dat dit waarvan ek hou – om tekste uit die Ou Testament noukeurig te lees – my beroep geword het. Maar ek is ook man van ’n vrou, pa van drie kinders, skoonpa van drie skoondogters en oupa van vier kleinkinders. En ek is lief vir die natuur.

2 Baie geluk met die verskyning van jou kommentaar oor Maleagi in die internasionale reeks Historical Commentaries on the Old Testament (HCOT). Waarom juis Maleagi?

Interessant genoeg, die heel eerste stukkie Hebreeus wat ek gelees het, was Maleagi 1:1. Ek het later ’n proefskrif oor Maleagi geskryf en van toe af ’n belangstelling in die profetiese literatuur van die Ou Testament bly behou. Ek het bly publiseer oor die boek Maleagi en so het dit gebeur dat die redaksie van HCOT my gevra het om die kommentaar op die boek vir die kommentaarreeks te skryf.

3 Wat, sou jy sê, is die kernboodskap van Maleagi?

Ek dink daar is vier aksente in die boek. Die boek openbaar God aan ons as die God van liefde wat as Vader en Koning steeds met sy volk in gesprek tree; praat oor gelowiges se aanbidding van God; sê hoe gelowiges teenoor ander mense behoort op te tree; bied ’n uitsig op ’n toekoms wat God gaan bring.

4 Wat sê dit vir vandag?

Die boek gee aan ons ’n unieke insig op die tergende vraag wat ons altyd in die teologie bly vra: Wie is God? Die aksent van die boek is belangrik vir vandag vir wat ek sou noem ’n geïntegreerde spiritualiteit. In Maleagi word die verhouding met God en die verhouding met mense voortdurend naas mekaar hanteer – op so ’n manier dat daar geen spanning tussen die twee dimensies van gelowigwees is nie. Gelowiges se verhouding met God is belangrik en word weerspieël in die manier waarop God aanbid word. Tegelykertyd word gelowiges se verhouding met mense aangespreek as net so belangrik – soms in dieselfde perikoop. Gelowiges is ook mense wat toekomsgerig behoort te lewe en dit is wat Maleagi ook beklemtoon.

5 Wat is anders in die huidige insigte in die boek Maleagi as dié van voorheen?

’n Stuk of 30 jaar gelede is die boek Maleagi gesien as gefragmenteerd; geleerdes het moeite gehad om samehang in die boek te vind. Vandag is geleerdes baie meer oortuig van die eenheid van die boek en dat daar inderdaad ’n kohesie tussen die paragrawe van die boek bestaan. In plaas van die gefragmenteerdheid van die teks word die eenheid en samehang van die boek veel meer beklemtoon. Geleerdes is ook al hoe meer daarvan oortuig dat die boek gou ná die aanvanklike uitsprake van die profeet skriftelik neerslag gevind het.

6 Is daar ’n wesenlike verskil tussen die “Christelike” siening van die boek Maleagi en dié van hedendaagse Joodse geleerdes?

Die antwoord op jou vraag is ’n “ja” en ’n “nee”. Aan die een kant is daar regtig nie verskille tussen die Joodse en Christelike geleerdes nie. Aan die ander kant is daar tog ook Christelike geleerdes wat sekere tekste (soos Maleagi 3:1) eskatologies as verwysend na die koms van Jesus Christus interpreteer. [Dit is duidelik dat Fanie Snyman nie een van daardie is wat glo dat dit eskatalogies na die koms van Jesus verwys nie – kyk Fanie Snyman: Jesaja 53 geen voorspelling van Jesus.]

7 Jy is dekaan van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Hoe lyk die toekoms van teologie as akademiese dissipline aan ons universiteite?

Daar is vandag net vier volwaardige teologiese fakulteite in Suid-Afrika benewens ’n aantal teologiese departemente aan universiteite. Teologie as akademiese dissipline het dus onder druk gekom. Teoloë werk egter hard om aan te toon hoe belangrik navorsing in die teologie vir SuidAfrika is. Teoloë lewer nasionaal en internasionaal wesenlike bydraes waarsonder ons oneindig armer sou wees.

8 UV het ’n paar jaar gelede die verwysing na God uit die universiteit se leuse verwyder[1]. Wat is jou mening daaroor?

Die leuse van uV was In Deo sapientiae lux. Wetenskapsbeoefening is egter nie altyd feilloos nie. Wetenskaplikes maak in hulle navorsing foute. Om te beweer dat die lig van die wysheid in God is, is dalk ’n raps oormoedig, want daar is ook wysheid wat die wetenskap voortbring wat nie te rym is met “in God” nie. Die huidige leuse, In veritas sapientiae lux, is, wat my betref, ’n veel meer gepaste en beskeie leuse binne ’n akademiese en wetenskaplike konteks waar ons soekers na die waarheid is.

9 Wat is die posisie van Afrikaans aan die UV?

UV volg ’n parallelmedium-taalbeleid wat beteken dat alles aan die universiteit tweetalig aangebied word, insluitende lesings, studiehandleidings, eksamenvraestelle, agendas en notules van vergaderings. Waar dit verkies word, word tolkdienste aangebied vir persone wat dit moeilik of onmoontlik vind om in Afrikaans of Engels te volg. Daar is pas ’n taalkomitee benoem wat die taalbeleid weer in oënskou neem.

10 Wat bekommer jou die meeste in die huidige Suid-Afrika?

Armoede, werkloosheid – wat eintlik twee kante van dieselfde munt is: wie werk het, hoef nie brandarm te wees nie. Misdaad – wat ook verband hou met armoede en werkloosheid: wie nie arm is nie, hoef nie te steel nie. Gebrekkige dienslewering. En ons het ’n leierskapsprobleem. Ek bly egter hoopvol. Genl Jan Smuts het gesê die ergste gebeur nooit in Suid-Afrika nie …

[Dus is hy nie te bekommerd oor die geestelike welstand van die land en die kerk nie. Armoede is belangriker. En tog het Jesus in Markus 14:7 gesê: “Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie.” Daaruit is dit tog baie duidelik dat die geestelike dinge baie belangriker as die fisiese is.]

Voetnotas

[1] Kyk ‘God’ uit Kovsies se leuse gehaal.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui