Raamwerk vir gay debat

Kyk ook:

Die volgende brief van prof Johan Janse van Rensburg het in Volksblad verskyn na aanleiding van die gay debat wat tans in die NG Kerk heers.

***********

Raamwerk vir gay debat

Dinsdag 1 September 2015, Volksblad

Die gay debat verwys. Die volgende stellings behoort die parameters van die diskoers aan te dui:

■Daar is geen deurslaggewende wetenskaplike bewyse dat die tekste in die Bybel wat oor homoseksualiteit handel, nie meer van toepassing is nie.

■Dit is onwaar dat gays nie in die debat belang stel nie, soos deur die talle skrywes van lesers bewys word.

■Die debat het veel omvangryker geword as die morele vraag na ’n gay lewenstyl. Daar is internasionale druk om die definisie van die huwelik uit te brei om ook gay huwelikke as Bybels te regverdig.

■Daar is geen bewys dat ’n gay geen gevind is nie en daar is selfs in navorsing ’n merkbare neiging om op ander aspekte van ’n homoseksuele lewenstyl te fokus.

■Die reg van gays om hul eie lewensbesluite te neem moet erken word. Nie almal is Christene nie en nie almal aanvaar die gesag van die Bybel nie.

Dit is egter onaanvaarbaar dat van die kerk verwag word om Bybelse uitsprake te ignoreer of te verander om gays ter wille te wees. Vryheid van geloof is immers ’n onvervreembare reg wat deur die Grondwet verskans word.

■Dit is die roeping van elkeen, veral van Christene, om alle mense met respek en billikheid te behandel. Die woorde van Lukas 6:31 is ook op gays van toepassing: Behandel almal soos julle sélf behandel wil word.

■Vanuit ’n Christelike perspektief val die klem nie op ’n gay lewenstyl as die grootste en onvergeeflike sonde nie, maar eerder op geloof om Jesus Christus as verlosser aan te neem. Dit is wat Paulus in 1 Korintiërs 6:9-11 bedoel.

■Ouers mag nie hul gay kinders verstoot nie en behoort hulle, sonder om só ’n lewenstyl goed te praat, onvoorwaardelik te aanvaar en lief te hê. Verwerping is nie ’n oplossing nie en veroorsaak net meer smart vir almal.

■Dit is dikwels gevaarlik om gay mense aan ’n soort terapie of godsdienstige praktyke te onderwerp om die oriëntering te probeer verander.

Dit is ewe onaanvaarbaar om te beweer so ’n gay lewenstyl is onomkeerbaar. Dramatiese getuienis van gays wat ’n wilsbesluit geneem het om hulle gay lewenstyl te laat vaar, bestaan. Navorsing het ook gevind die meeste gays verander meer as een keer van orëntering.

■Die kerk se versoek dat gays wat predikante wil word, selibaat moet lewe, is nie so ongewoon nie. Almal wat predikante wil word, moet hulle van gedrag weerhou wat vir sommige lidmate onaanvaarbaar is.

Dit moet ook onthou word dat baie meer mense as wat besef word, tot selibasie genoodsaak is: weduwees en wewenaars, enkellopendes wat nie ’n lewensmaat gekry het nie en gesonde mense wie se lewensmaat weens watter rede ook al nie tot seksuele omgang in staat is nie.

Prof. Johan Janse van Rensburg

Bloemfontein

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui