Fanie Snyman: Jesaja 53 geen voorspelling van Jesus

Kyk ook:

Die artikel “Teoloog in spervuur oor teks se uitleg ‘Goddelike inspirasie aangetas?'” hieronder het in Beeld verskyn na ’n artikel deur Fanie Snyman.

Onder hierdie artikel het Ds JG du Plessis kommentaar gelewer oor sy artikel.

‘n Enkele kommentaar: Dit is baie duidelik dat die Nuwe Testamentiese skrywers geglo het dat Jesaja 53 ’n voorspelling op Jesus was. Dit is eintlik baie arrogant om te dink dat ons, wat 2000 later leef, beter weet as die skrywers van daardie tyd. Snyman en andere (soos Gerda de Villiers) verlaat hulleself op baie beperkte kennis om hierdie tipe gevolgtrekkings te maak. Dit is om die minste te sê, onbybels.

**********

Teoloog in spervuur oor teks se uitleg ‘Goddelike inspirasie aangetas?’

Neels Jackson

Beeld, 1999-07-20

Nog ’n teoloog bevind hom in ’n spervuur van kritiek na aanleiding van sy verklaring van ’n bekende Bybelgedeelte.

Prof. Fanie Snyman van die departement Ou Testament aan die Vrystaatse Universiteit het vroeër vanjaar in ’n rubriek in Die Kerkbode, koerant van die NG Kerk, onder meer geskryf Jesaja 53 is “geen direkte voorspelling van Jesus Christus se geboorte nie”.

Lesers, onder wie predikante, het skerp hierop gereageer.

Ds. J.G. du Plessis van Jeffreysbaai het sy “skok en verbasing” hieroor uitgespreek en vra of dit nie ’n direkte aantasting is van die Goddelike inspirasie van die Skrif nie.

Ds. Danie Haasbroek van Wingate Park het gesê Snyman hou nie rekening daarmee dat die Heilige Gees ook die Ou Testament geïnspireer het nie. Hy skryf dié gedeelte verwys nét na Christus en hy is jammer dat die woorde “hy” en “hom” in die nuwe Afrikaanse vertaling met klein lettertjies geskryf word.

Snyman het in Die Kerkbode se rubriek Vraebus ’n “paar opmerkings” oor Jes. 53 gemaak nadat ’n lidmaat wou weet hoe dié stuk verstaan moet word.

Hy het onder meer gesê die betrokke gedeelte kom uit die tydperk van die Babiloniese ballingskap toe ou verlossingsverhale soos die uittog uit Egipte gebruik is om die volk te bemoedig.

Moses was die sentrale karakter van die uittog en hy is die agtergrond waarteen die kneg-van-die-Here-liedere in Jes. 40-55 verstaan moet word.

Wie presies die kneg is, is nie sonder meer duidelik nie. In van die liedere is die kneg ’n individu, maar in ander is dit die volk in die geheel. Dis die beste om nie een van die twee moontlikhede te kies nie, maar om liewer te sê die kneg is die volk en die gelowiges binne die volk.

In die Nuwe Testament en by terugskouing deur die vroeë kerk is Jesus Christus in die kneg herken. Dit hou egter nie daar op nie en gelowiges en individue het vandag steeds die taak om kneg van die Here te wees.

Snyman is op ’n studiebesoek aan België en was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Prof. Pieter Potgieter, dekaan van die fakulteit teologie aan die Vrystaatse Universiteit, het gesê die debat raak ’n moeilike en gespesialiseerde veld. Sy standpunt is dat as die Nuwe Testament so ’n spesifieke verwysing is, is die deel inderdaad op Christus van toepassing.

Dat daar egter meer as een verwysing in die teks sit, word algemeen deur teoloë aanvaar.

In die fakulteit het hulle as teoloë al dikwels met mekaar gepraat oor hul Skrifbeskouing en hy het in die reël nie ’n probleem met Snyman se sienings nie.

Oor dié geval wil hy hom egter nie kategories uitlaat voordat hy die saak deeglik bestudeer het nie.

**********

SKRIFKRITIEK: Verklaring van Jesaja 53

Ds JG du Plessis van Da Gamaweg 59, Jeffreysbaai, skryf in DIE KERKBODE van 2 Julie oor die bogenoemde as volg:

Met skok en verbasing het ek in die uitgawe van Die Kerkbode van 21 Mei 1999 die verklaring van prof Fanie Snyman gelees oor wie nou eintlik die Kneg van die Here in Jesaja 53 is. Stellinge soos: “Die boodskap van Jesaja 53 sien nie op Jesus Christus nie …” en “Jesaja 53 is dus geen voorspelling van Jesus Christus se geboorte nie …” bring ernstige vrae na vore.

Is dit nie ’n direkte aantasting van die goddelike inspirasie van die Skrif nie? Sonder om te huiwer, word aan Moses die ereplek toegeken as kneg van die Here, omdat hy dan ook deur mense verag is en Israeliete baie oor hom gekla het. Terloops, prof Snyman verwys na Matteus 8 en Handelinge 8. Die Nuwe-Testamentiese kerk sou dan by wyse van terugskouing in die figuur van Jesaja 53, Jesus raakgesien het.

Sal prof Snyman asseblief vir ons sê wanneer Moses ter wille van ons deurboor is? Hoe kon daar deur Moses se wonde vir ons genesing gekom het? Wanneer was hy (Moses) die regverdige wat baie mense regverdig sal maak? Wanneer is hy soos ’n lam na die slagplek gelei, of verbrysel of is sy lewe as skuldoffer gegee?

Is Matteus 8 en Handelinge 8 nie die uitdruklike uitleg van die Heilige Gees self nie? Die Heilige Gees stuur vir Filippus en gebruik hom om vir die Etiopiër te sê van wie die profeet in Jesaja 53 praat. En, let wel, op grond van sy uitleg word die Etiopër gered!

Is dit so ’n probleem om te aanvaar dat die Heilige Gees meer as vyfhonderd jaar gelede reeds deur die profete al die heerlike dinge oor die Messias kon aankondig? Soos ook al die ander voorspellings oor die lyding van Jesus in onder andere Psalms 22 en 31. Ook al die voorspellings oor die geboorte van Jesus – wat deur al vier die evangeliste so aanvaar en vertolk word?

Waarom nou genoemde voorspelling afwater en Jesus slegs by terugskouing daarin lees? Ek is oortuig dat menige gelowige Bybelleser saam met my diep ongelukkig voel oor ’n uitleg wat ons, myns insiens, beroof van die gewyde bekoring en kragtige sinspeling op die Persoon van Jesus en sy plaasbekledende lyding in Jesaja 53. As ek dit lees, hoef ek dit nie te lees via ’n terugskouing nie, maar in dieselfde lig van die Heilige Gees waarin Filippus dit gelees en verklaar het, naamlik die Kneg van die Here is Jesus Christus!

Bronne:

  1. “Is Jesus die Kneg van Jesja 53?”, Die Kerkbode 162(13) 21 Mei 1999, 4;
  2. JG du Plessis: “Diè verklaring van Jesaja 53 skep probleme.” Die Kerkbode 163(1) 9 Julie 1999, 5.
  3. Sien ook die briewe in Die Kerkbode 163(2) 16 Julie 1999, 5
  4. Fanie Snyman: “Moenie dat ons mekaar verdag maak as ons oor Jesaja 53 verskil nie.” Die Kerkbode 163(6), 27 Augustus 1999, 6.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui