1 Timoteus 3:2,12 (wat beteken “die man van een vrou”)

1 Timoteus 3:2,12 word soms gebruik om te redeneer dat die Bybel baie duidelik poligamie verwerp. Hier volg die Afrikaans 53-vertaling:

AFR53: (2) ’n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig;
(12)Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer.

Die volgende vertalings sê dieselfde:

KJV:
(2) … the husband of one wife …
(12) … husbands of one wife …

ESV:
(2) … the husband of one wife …
(12) … the husband of one wife …

ABA:
(2) … Hy moet net een vrou hê. …
(12) … ’n Diaken moet net een vrou hê. …

Die Afrikaans 83-vertaling het dit egter vertaal as:

AFR83: (2)’n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig; (12)’n Diaken moet aan sy vrou getrou wees en sy kinders en sy eie huisgesin goed beheer.

Ook:

NIV:
(2) … faithful to his wife …
(12) … faithful to his wife …

NLV:
(2) … Hy moet aan sy vrou getrou wees …
(12) … moet getrou wees aan sy vrou …

Alhoewel die woorde van die AFR53, ABA, KJV, ESV nader aan die grondteks is, het Paulus waarskynlik nie hier iets oor poligamie probeer sê nie, maar dat ’n ouderling en diaken getrou moet wees aan hulle vrouens. In die tyd wat hierdie geskryf is, was poligamie baie skaars, omdat dit onwettig was in die Romeinse Ryk.

Indien die Grieks direk vertaal word, word gepraat van ’n “een-vrou man”. Dit verwys nie spesifiek na poligamie of egskeiding nie, maar eerder na ’n man wat bekend is daarvoor dat hy toegewyd is aan een vrou.

Dieselfde geld vir Titus 1:6.

Hiermee wil ek glad nie ’n lansie breek vir poligamie nie. Kom ons lees egter die Bybel soos die skrywer dit bedoel het.

Dit wys ook dat mens versigtig moet wees om verskillende vertalings te vinnig te kritiseer. Alhoewel die AFR53 vertaling nader aan die grondteks is, kan dit veroorsaak dat daar ander betekenisse ingelees word. In hierdie geval sou die skade nie so erg wees nie omdat dit algemeen aanvaar word dat poligamie ’n gebruik is wat ten alle koste vermy moet word. Die AFR83 vertaling (en NIV en NLV) is in hierdie geval waarskynlik ’n akkurater vertaling vir vandag.

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui