Kaders kom huis toe vir laaste rus

Kyk ook:

In die artikel hieronder word berig dat André Bartlett ’n tradisionele Afrika seremonie bygewoon. Sekere swart Suid-Afrikaners het in Tanzanië gesterf. Die familie in Suid-Afrika het na Tanzanië gegaan, hulle geeste opgeroep en in ’n kleipot met ’n wit lap bo-oor laat gaan om hulle na hulle laaste rusplek in Suid-Afrika te bring.

Dit is kommerwekkend dat Bartlett, ’n predikant van die NG Kerk, hierdie seremonies gaan bywoon het. Indien hy dit nie kritiseer nie, dan keur hy dit in effek goed.

*********

Kaders kom huis toe vir laaste rus | Beeld

26 September 2007

(Van Beeld gekopieer)

Dominic Chimhavi

‘n Afvaardiging van tradisionele en kerkleiers, sowel as familielede van gestorwe ANC-uitgewekenes, het verlede naweek na Tanzanië gereis om die geeste van diegene wat hier gesterf het, huis toe te bring. Dominic Chimhavi was daar.

Die afgelope 11 jaar onderneem familielede van Suid- Afrikaanse vryheidsvegters wat in Tanzanië gesterf het die lang reis na Morogoro in die suide van dié Afrika-staat om tradisionele rituele uit te voer en om hulde te bring aan hul geliefdes wat hier begrawe lê.

Vanjaar het ’n belangrike afvaardiging – onder wie kerkleiers dss. André Bartlett en Gift Moerane – dié reinigingseremonie bygewoon, aangesien dit die laaste keer is wat dit hier gehou sal word.

“Ná jare se gesprekke met die families het ons besluit om die geeste van die dooies van Tanzanië na ’n laaste rusplek in Suid-Afrika te vervoer,” verduidelik genl. Lehlohonolo Moloi, voorsitter van die Vryheidspark-trust.

“Dit sal simbolies na die Vryheidspark vervoer word, waar hulle finaal tot ruste sal kom.”

Altesame 25 mense het deelgeneem aan die seremonie by die Mazimbu-militêre basis in Morogoro, die vernaamste militêre basis van Apla en Umkhonto we Sizwe.

Daar is ook ander soortgelyke begraafplase buite Morogoro, soos by Iringa, Kangwa, Dakawa en Kinondoni net buite Dar es Salaam.

Tradisionele leiers van Suid-Afrika en Tanzanië het aan die seremonie deelgeneem volgens ’n eeue oue Afrika-tradisie waarin die geeste van die afgestorwenes eers tot rus moet kom voordat die families werklik hul rou-tydperk kan afsluit.

Die Tanzaniese tradisionele leiers het die eerste stap gegee deur die bloed van ’n bok en ’n hoender bo-oor die grafte te sprinkel.

Hulle het toe in fluisterstemme aan die geeste van die gestorwenes verduidelik dat hul familielede nou gekom het om hulle hier te kom haal sodat hulle in vrede by die huis sal kan rus.

Hierna het hul Suid-Afrikaanse eweknieë aan hulle ’n kleipot met ’n wit lap daaroor oorhandig, waarin die geeste simbolies geplaas is.

Die tradisionele seremonie het verlede Vrydagoggend begin en eers ná middernag geëindig.

Hierna het die religieuse leiers onder leiding van Bartlett hul plek ingeneem om vir die sukses van die rouseremonie te bid.

“Ek is baie verlig dat die proses afgehandel is,” het Bartlett, voorsitter van die Gautengse tak van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en dominee van die NG gemeente Aasvoëlkop in Johannesburg, gesê. “Dit is die laaste stadium van die genesing-, reiniging- en versoeningsproses deur Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde. Dít wat in die verlede gebeur het, moet ons verenig en nie verdeel nie.

“As die Kerk is ons ook deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap en ons moet ons deel bydra in die herdenking van die verlede. Ons moet ons mense herinner dat die vryheid wat ons vandag geniet, ander se lewens gekos het.”

Moerane, sekretaris van die Gautengse SARK, het ook gesê dit is belangrik dat die kerk by die seremonie verteenwoordig word.

Die Morogoro-seremonie is van die “ortodokse Afrika-manier van dinge doen”, meen hy.

“Dit is ’n belangrike stap wat die regering geneem het. Minstens is dié hoofstuk nou afgesluit. Die families kan nou rustig slaap.”

Moloi sê dat die seremonie die seën van die regering en van die families tuis het.

Sommige families wou wel die beendere van die gestorwenes laat opgrawe en huis toe vervoer, maar dit sou te duur wees, sê Moloi.

“Uiteindelik was daar konsensus om die geeste op te roep en hulle na Vryheidspark te vervoer.”

Mnr. Phumzile Nteyi se broer, Andile “Chuks” Nteyi, is hier begrawe.

Volgens Phumzile is hy opgewonde oor die hele proses.

“My broer, Andile, was ’n joernalis by die Cape Times. Hy het in Guguletu grootgeword en al het hy ’n relatief vervullende werk gehad, het hy die land in 1981 onverwags verlaat.

“Al was dit vir ons pynlik, was die familie nie te bekommerd nie, want ons het geweet hy is landuit weens sy politieke aktivisme.”

Drie jaar later het die skok gekom dat Andile in Tanzanië aan malaria gesterf het. “Die brief was geteken deur wyle comrade Alfred Nzo (voormalige minister van buitelandse sake),” sê Phumzile.

Die familie was egter nie tevrede met dié verduideliking nie en wou presies weet wat met hom gebeur het en of hy werklik dood is.

“Die rou is nooit afgehandel totdat jy sien waar hy begrawe is nie.”

Die familie het berusting gevind toe die SAUK in 1996, tydens die eerste herdenking in Tanzanië, beeldmateriaal van Andile se graf gewys het.

Nteyi sê hy is tevrede dat die geeste-oproep “volgens ons Afrika-kultuur” gedoen is en dat dit ook vir ander families wat nie daarheen kon reis nie, baie sal beteken.

Almal is egter nie ewe tevrede met dié seremonie nie.

Aan die buitewyke van Morogoro, in die rigting van die Mosambiekse grens, is ’n triestige plakkerskamp genaamd Dark City.

Dit is ’n plek sonder elektrisiteit of lopende water en van die sogenaamde huise val letterlik uitmekaar – ’n plek sonder hoop.

Omtrent die helfte van die mense wat hier woon is weduwees van die voormalige Umkontho we Sizwe- en Apla-vegters, met kinders.

Sedert 1991 het die vegters na Suid-Afrika begin terugkeer met die belofte dat hulle hul families sal kom haal.

Min van hulle het dié belofte gehou.

Jaar ná jaar sien dié vroue en kinders Suid-Afrikaanse amptenare by Morogoro bymekaarkom om te bid vir afgestorwenes, maar húlle word nie genooi nie.

“Ons is nie eens verlede naweek genooi nie, tog het ons met dié mense saamgebly,” sê me. Mzeru Mashaka, wie se kinders, Nomsa (21) en Thulani (17), ’n Suid-Afrikaanse pa het.

“Dinge is baie moeilik hier en ons het verwag dat die Suid-Afrikaanse regering dalk een of ander hulp sal verleen aan die families wat agtergebly het.”

Mashaka (45), soos die ander vroue hier, vrees dat dié finale seremonie hulle nou vir altyd aan hul eie lot oorlaat.

“Ek het ’n bietjie Zoeloe geleer en daarna uitgesien om in Suid-Afrika te gaan woon,” sê Mashaka, wat haar man 16 jaar laas gesien of van hom gehoor het.

Me. Monica Mathe, ’n verpleegster by die Solomon Mahlangu-hospitaal in die Mazimba-kamp, sê sy sukkel om haar dogter, Kgomotso (18), en seun, Benjamin (21), te onderhou. Soos Mashaka het sy nog nooit weer van haar vryheidsvegter-man gehoor nie en voel bitter oor wat met haar gebeur het.

Sommige van die kinders hier voel ook ontneem van ’n deel van hul geskiedenis en meen dié verbintenis met Suid-Afrika moet herstel word.

“Help my tog om my herkoms terug te vind. Ek wil gaan en herenig word met my pa. As hy gesterf het, dan wil ek na sy graf gaan,” pleit Kgomotso.

Die afgevaardigdes van die Vryheidspark-trust en mnr. Sindiso Mfenyana, Suid-Afrika se ambassadeur in Tanzanië, wou nie oor dié families kommentaar lewer nie en het gesê die doel van hul reis na Morogoro was bloot vir die reinigingseremonie.

Me. Mpherefere Mocwaledi, wat ook die seremonie bygewoon het, voel egter die regering kán meer doen vir die families wat hier agtergebly het.

Sy was diep geraak deur wat sy gesien het op die reis tussen Dar es Salaam en Morogoro.

“Hierdie mense (die vryheidsvegters) het regtig swaargekry. Ek wens mense by die huis weet meer van wat hulle deurgemaak om ons land te bevry.”

– Beeld

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui