Die gode maak jou mal voordat hulle jou vernietig

Die volgende is op Kletskerk geskryf deur Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode, die NG Kerk se amptelike koerant.

Die wyse waarop Jean sommige mense aanvat is skokkend.

*********

Die gode maak jou mal voordat hulle jou vernietig

2011-01-04

Deur Jean Oosthuizen

Net sodra ek gedink het die klompie geloofsverkramptes het hulle self oortref dan kom hulle met ’n nuwe juweel tevore wat hulle as een of ander sonde kan inspan om ander gelowiges te verketter.

Die slag is hulle aan die teem omdat die webmeester van die NG Kerk se diversiteitsforum, Charles Malan, in sy nuwejaarswense aan die forum verwys na ’n gedig van Fanie Olivier waarin daar van ’n dolosgooier gepraat word.

Charles skryf op die forum:

Ons kan bloot bespiegel en ons vrae vra, want die toekoms is in die Diversiteitskepper se hande en sy verbeelding, ook sy humor oor ons as sy skepsels, is eindeloos. Hiermee weer ’n boodskappie van Fanie Olivier oor die nuwe jaar oor die dolosgooier wat die toekoms peil:

hy gooi die bene kyk hoe hulle self
‘n lê gaan kry. deur sy skrefiesoë delf
hy dan na dieper sin, maar dis verniet:
hawu! daar’s net die mooiste goed vir 2011

Vir alle lesers en ondersteuners van die diversiteitstaakspan en –forum: daar’s net die mooiste goed vir 2011 voor ons!

Hieroor is die selfaangestelde wagters op Sionmure hewig in opstand. Ant Hetta Klaagster [Henrietta Klaasing] en ou doom Aggies [Gideon Aggenbag] het hulle trojaanse perdjies behoorlik opgesaal om hierdie nuwe windmeulens met mening storm te loop. Ta Hetta het selfs ’n klaagbrief brief aan Kerkbode geskryf waarin sy te velde trek oor die gedolosgooierey op die kerk se forum.

Tant Anna skryf sy verwerp dolosgooiery met minagting! “Dit is met skok en ontsteltenis dat ek op die NGK se webwerf & Diversiteitsforum moet lees dat daar na dolosse verwys word tov leiding vir hierdiejaar !,” skryf ’n ontstoke ta Anna. Sy meen die gediggie tas God se eer gruwelik aan en sy “Heerlike Naam” word voor die wêreld gelaster.

James Maré wil hê die kerk moet terugkeer tot sy volle mandaat wat hy sommer self so saam met die dolosse opklits. “Mag die vloek van die dolosgooier ons nooit in 2011 tref nie; maar mag 2011 die jaar wees waarin die NG Kerk sal terugkeer tot haar volle mandaat – die mandaat soos Jesus dit self persoonlik gestel het: “Mag hulle aan U toegewy wees deur die Waarheid. U Woord is die Waarheid”.

En ou doom Gideon Aggies is ewe boos vir die dolosse.

Geen wonder hulle sê die gode maak jou mal voordat hulle jou vernietig nie. As ’n gediggie oor dollosse nou al die wagters op Sionsmure so ontstel is dit darem laat in die dag.

Ek ken ’n hele klompie behoudende mense in die kerk. Maar daar is ’n yslike verskil tussen behoudend en aartsverkramp. Hierdie is nie opreg behoudendes nie. Dit is niks anders as ’n klompie heethoofdige perdebouers wat prober om ’n lendelam Trojaanse perd staande te hou nie.

Kameraad was heeltemal in die kol toe hy op die draad oor die Trojaanse perd gesê het die groepie is besig met wanvoorstellings oor die kerk se eie geskiedenis.
Kameraad wrote:

Kan jy sien wat hulle doen, hulle vertrap ons almal se verlede om die voet in die deur te kry vir hul poging tot radikalisering. Baie Bybelstories het ook so ’n verdraaiing ondergaan met die tyd, soos die boek van Daniël.

Mens wonder wat sê hulle van Adam Small se gedig ; Die Here het geskommel
“Die Here het geskommel
en die dice het verkeerd geval vi’ ons,
daai’s maar al”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui