Dosente se ‘onskuld is nie net tegnies’

Kyk ook:

*******

Dosente se ‘onskuld is nie net tegnies’ | Kerkbode

Kerkbode, 14 September 2007

Prof Dirk Human van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP) is verlede jaar ongekwalifiseerd onskuldig bevind aan dwaalleer. Dit was nie net ’n tegniese be- vinding nie.

Dié versekering van die Ring van Pretoria-Faerie Glen volg nadat ’n lid van die ring se ondersoekliggaam, prof Adrio König, in die radioprogram Oop Gesprek op RSG gesê het: “Dit help nie om nou te sê een of twee sake is ondersoek en die mense was onskuldig nie, dit was tegniese goed daardie gewees.”

Die voorsitter van die Ring van Pretoria-Faerie Glen se Ringsdienstaad, ds JC van Rooyen, sê enige menings wat uitgespreek word na afloop van die ondersoekliggaam se bevindings is die persoonlike standpunt van so individu en weerspieël nie die ring se standpunt nie. (Lees die ring se volledige verklaring by www.kerkbode.co.za)

Prof Human het aan Kerkbode gesê enigeen wat die uitsprake van die onderskeie ringsondersoeke lees, sal sien die uitsprake het nie oor tegniese punte gehandel nie en dat die betrokke dosente onskuldig aan leerdwalings was.

Prof König sê prof Human is onskuldig bevind omdat hy ’n dokument onderteken het waarin die liggaamlike opstanding van Jesus drie keer bely word. Hy is dus “inhoudelik” vrygespreek, het prof König aan Kerkbode gesê.

@ Daar bestaan ook ongelukkigheid by UP se Kuratorium oor bewerings dat teologiestudente by Tukkies sonder begeleiding in ’n Boeddhistiese tempel moes mediteer.

Volgens ’n transkripsie van 29 Julie 2007 se Oop Gesprek het prof König gesê daar loop ’n storie in die kerk rond dat daar van teologiese studente verwag is om sonder leiding in ’n Boeddhistiese tempel te mediteer. Prof König sê hy het die saak langer as ’n jaar gelede in ’n gesprek met die Kuratorium geopper, maar nooit ’n verduideliking gekry nie.

Die predikant vir teologiese opleiding by die Kuratorium, dr Flip du Toit, het aan Kerkbode gesê die saak is twee maande na die voorval op 11 Julie verlede jaar afgehandel. Die beweerde voorval het nie in ’n Boeddhistiese tempel plaasgevind nie, maar by ’n Katolieke sentrum buite Pretoria waar verskeie kommissies van die kerk al vergaderings gehou het.

In die een lokaal was ’n beeld of skets van Boeddhistiese aard. Die afsluiting van een dag se verrigtinge het in die aand in hierdie lokaal plaasgevind. Dit het een van die studente gepla.en hy het dit onder die aandag van die Kuratorium gebring.

Dr Du Toit sê die saak is met die predikant wat vir die betrokke aand verantwoordelik was, bespreek en hy het sy verskoning aangebied indien die lokaal tot verkeerde persepsies by die student aanleiding gegee het.

– jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui