Strand-gemeente los NG Kerk

*******

Strand-gemeente los NG Kerk | Rapport

Johan Eybers

11 Februarie 2024

Die Strand-gemeente in die Wes-Kaap is die sesde gemeente in die NG Kerk wat die “onafwendbare” besluit geneem het om sy kerkverband op te skort.

Luidens ’n brief waarin hy die aankondiging gemaak het, is dit omdat daar “nie bekering en berou” en ’n “terugkeer na die Woord van God” by die sinodevergadering in Oktober gebeur het nie. Dié gemeente se aankondiging volg op die algemene sinode (AS) se besluit in Oktober om art. 32 van die Kerkorde te wysig sodat gemeentes nie meer geografies saamgestel hoef te wees nie. Dié besluit is geneem om gemeentes wat nie gay-huwelike wil bevestig nie, toe te laat om by streeksinodes in te skakel wat hul siening deel.

Die Tafelberg-gemeente in Kaapstad se middestad was die eerste gemeente wat hom in Junie losgemaak het van die AS. Die Leeuwberg-, Vanstadensrus- en Kestell-gemeente in die Vrystaat het daarna hul kerkverband opgeskort.

Hulle is gevolg deur die Kempton Krag en Die Strand-gemeente wat hulle onderskeidelik in Desember en in die middel van Januarie van die AS losgemaak het.

Die Strand-gemeente se brief aan die AS en die plaaslike ring lui dat sy aanvanklike dolering (om te rou) “ná twee en ’n half hartseer jare nie op bekering en berou uitgeloop het nie”.

Die Strand-gemeente sê hy skort sy verband op met die ring van Somerset-Wes, die sinode van Wes- en Suid-Kaapland en die AS, “insluitend eweredige bydraes omdat so ’n stap voor God in die lig van sy Woord regverdig kan word”. “Die gemeente sal wel direkte bydraes maak tot barmhartigheid en evangelisasie.”

Volgens die brief is die gemeente “nie van voorneme om as ’n onafhanklike gemeente te bly voortbestaan nie” en sal hy bly soek na NG gemeentes, ringe en sinodes met wie daar in verband getree kan word.

Ds. Frikkie van Niekerk, leraar van Die Strand-gemeente, sê die kerkraad is van mening dat die AS se 2023-besluit om art. 32 van die Kerkorde te wysig niksseggend is en ’n poging om tyd te wen. Dit behels ’n administratiewe rompslomp vir gemeentes sonder ’n gewaarborgde uitkoms.

Volgens Van Niekerk gee dit verder nie erkenning aan gemeentes se reg om selfstandig te besluit by wie hulle wil inskakel nie. Hy sê die gemeente het ses gesinne verloor toe hy in 2021 besluit het om te doleer en dat hy 40 gesinne bygekry het. “Diegene wat wou gaan, het reeds in 2021 geloop en ons het geen teenkanting gekry toe ons in Januarie besluit het om ons kerkverband op te skort nie.”

Volgens hom het heelpartye gesinne in naburige dorpe soos Bettysbaai, Somerset-Wes en Stellenbosch intussen by hulle aangesluit. Hy sê gesinne wat van verder af kom, is deel van sogenaamde omgee-groepe wat saam na die gemeente se dienste op YouTube kyk en elke tweede week saamry om dienste by die kerk by te woon.

Volgens van Niekerk kry hy tans heelwat navrae van gemeentes wat hul kerkverband wil opskort, maar onseker is oor die impak daarvan op hul status in die kerk, hul voorregte, regte, besittings en die behoud van hul naam.

“Ek glo heelwat gemeentes gaan ons voorbeeld volg omdat hulle sien dit is moontlik om sonder enige probleme weg te breek.”

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Koinonia-sinode en Kairos-netwerk vir behoudende gemeentes, sê hulle verwag dat meer gemeentes dié voorbeeld gaan volg wanneer hul konsepdokument oor die saak volgende week op ’n spesiale vergadering goedgekeur word en weer na gemeentes teruggestuur word.

Gemeentes is tot aan die einde van Januarie tyd gegee om terugvoering te gee oor hul konsepdokument.

Volgens die Koinonia-sinode se dokument oor “die pad vorentoe ná afloop van die sinodevergadering” is hul uitgangspunt om “nie meer deel van ’n kerkverband te wees nie waarin die Woord van God nie meer suiwer verkondig word nie”. Hiervolgens weier hulle “om weer slawe te word van dwaalleer en kerklike hiërargie” en is “klaar met die AS, asook ander kerkvergaderings wat nog wil voorgee dat hulle die NG Kerk verteenwoordig”.

Theo Danzfuss, lid van die Koinonia- sinodale diensgroep, sê hulle probeer hierdeur keer dat gemeentes heeltemal wegbreek uit die NG Kerk omdat hulle nie die AS ondersteun of hulle daarmee vereenselwig nie. “Ons kan nie vir gemeentes sê wat om te doen nie. Die Koinonia-sinode beweeg wel in die rigting om ons kerkverband op te skort om te wys hoe ernstig ons hieroor is.”

Lees Hanlie Retief se onderhoud met die NG Kerk se moderator, ds. Jan Lubbe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui