US Woordfees 2015: Kan God eensydig wees?

Die volgende artikel het op Litnet verskyn.

************

US Woordfees 2015: Kan God eensydig wees?

Jean Oosthuizen

2015-03-11

Is God ’n man of ’n vrou? En kan God dalk selfs gay wees? Of moet mens na God verwys as “dit”? Dit is van die vrae waarmee feesgangers dié week reguit by die US Woordfees gekonfronteer is tydens die Stellenbosch Moederkerk se gespreksreeks “Geloof op die markplein”.

God is Vader, bely gelowiges. Die Bybel het in ’n patriargale samelewing tot stand gekom. In watter mate bepaal uitgediende, godsdienstige verskanste idees oor gender en verhoudingsrolle nog hoe ons samelewing vandag gedefinieer word? Is daar ruimte vir ’n manlike en vroulike identiteit? En kan die Joods-Christelike tradisie ons help – of is dit van die wal in die sloot?

Volgens die paneel wat aan die bespreking deelgeneem het, is God hoogstens ’n metafoor. God het nie ’n penis nie. Of het God ’n penis? het een van die paneellede, Julie Claassens, al by geleentheid van haar studente vir wie sy klas gee, gehoor. Die gespreksleier was Johan van der Merwe van die Moedergemeente en die ander twee deelnemers was Louise du Toit van US se Filosofie-departement en die gay NG-proponent Laurie Gaum.

Volgens Du Toit het die situasie van vroue op talle terreine van die lewe oor die afgelope dekades verbeter. Daar is egter sommige terreine, soos seksuele geweld, waar vroue selfs groter slagoffers geword het as voorheen.

Daarom is dit belangrik hoe ons oor God dink, het Du Toit gesê. Sy sê vroulike seksualiteit word steeds as sondig gesien. Dit is iets waaroor die godsdiens diep en ernstig sal moet nadink. Mens kan nie sommer ligweg daaroor gaan nie. Terwyl die Katolieke tradisie die rol van die vrou in sommige opsigte meer krediet gee (soos vir Moeder Maria) is die Protestantse tradisie volgens haar steeds baie patriargaal.

Oor die vraag of God eensydig is, het sy gesê alle uitsprake oor God is menslike kommunikasie. Dit mis eintlik die teiken. Alle uitsprake oor God is metaforiese uitsprake. Sy het gewaarsku teen die fundamentalistiese sienings van sekere godsdiensgroepe wat God net as manlik uitbeeld.

Die geloofsgemeenskap moet sy onvermoë om oor God te praat erken, het sy gesê.

Julie Claassen, wat hier en daar van Du Toit verskil het, het egter saamgestem dat daar ander maniere ontgin moet word om oor God te dink.

In ooreenstemming met ander sprekers in die God-debat tydens vanjaar se US Woordfees het sy ook klem gelê op God as metafoor.

Toe die teoloog Julian Müller vroeër in die week tydens ’n ander godsdiensgesprek gevra is of Jesus letterlik die seun van God is, het Müller ook verkies om in metaforiese taal van God te praat. Ook wanneer hy na Jesus verwys het as God se seun. So ook die filosoof Anton van Niekerk.

Vir Laurie Gaum moet God ook in ’n metaforiese sin gay kan wees om met hom te kan identifiseer. Mens kan God nie met woorde beskryf nie, het Gaum gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui