Akademia: Vrae oor die rol wat godsdiens speel

*******

Akademia: Vrae oor die rol wat godsdiens speel | Netwerk24

Carryn-Ann Nel

11 Maart 2015

Moet Akademia in sy strewe om ’n “Afrikaanse Harvard” te word inklusiewe of Calvinistiese Christelike waardes navolg?

Dit was Dinsdag een van die besprekingspunte op ’n simposium wat deur verteenwoordigers van die wyer Afrikaanse gemeenskap bygewoon is. Die simposium is by die Voortrekkermonument aangebied.

Die onderwerp was Akademia se strewe om op dieselfde vlak te wees as die Amerikaanse topuniversiteit Harvard.

Akademia is vier jaar gelede gestig en bied tans twee BCom-graadkursusse (ondernemingsbestuur en bestuursrekeningkunde) aan. Vanjaar gaan nog drie graadkursusse voorgelê word vir akkreditasie.

Prof. Danie Goosen van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het gepraat oor die idee van ’n gemeenskapsuniversiteit wat nie in diens moet wees van die staat nie en wat ook nie net studente oplei om produkte van die ekonomie te wees nie.

Goosen het voorgestel dat Akademia op ’n Christelike grondslag moet funksioneer.

Daarna is verskillende standpunte gelug oor die inhoud van kursusse met ’n Christelike grondslag. Sommige gehoorlede het gemeen dit moet ’n Calvinistiese inhoud hê en ander voel dit moet ’n inklusiewe Christelike karakter hê.

Kerneels Lourens, prokureur en taalaktivis, het gesê hy spreek hom sterk uit ten gunste van Christelike beginsels by ’n gemeenskapsuniversiteit. “Daar moet teruggegaan word na die bron van Christelike beginsels.”

Prof. Koos Malan, ’n professor in regte aan die Universiteit van Pretoria (UP), se standpunt was dat dit inklusief moet wees van al die denkstrome van die gemeenskap waarin so ’n universiteit is.

Prof. Wannie Carstens, direkteur van die taalskool van die Noordwes-Universiteit, het gesê die universiteit se hoekstene moet primêr op gehalte rus.

“Die universiteit het die potensiaal om ’n Harvard te word, maar ons moet weet dis ’n oop universiteit en sy enigste onderskeidende kriterium is Afrikaans. Dit moenie primêr gaan oor Christelike beginsels nie – daar is ander mense wat dit doen. Die oomblik wanneer jy dit doen, beperk jy. Ons fokus moet op die regte plek wees.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui