Skeiding van Teologiese Skool en NWU ‘hartseer, maar beginselsaak’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Skeiding van Teologiese Skool en NWU ‘hartseer, maar beginselsaak’ | Netwerk24

Susan Cilliers

14 Februarie 2023

Die emosies was oorweldigend toe afgevaardigdes na die algemene sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) einde Januarie hoor die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Teologiese Skool in Potchefstroom se paaie gaan ná meer as 100 jaar heel moontlik skei.

Dit is omdat wetgewing oor hoër onderwys dit toenemend moeilik vir die NWU gemaak het om ’n balans te handhaaf tussen die Teologiese Skool se selfstandigheid en sy verbondenheid aan die universiteit as ’n sekulêre instelling.

Die Teologiese Skool, waar Gereformeerde predikante opgelei word, het in 1869 in Burgersdorp in die Oos-Kaap tot stand gekom. Dis in 1905 na Potchefstroom verskuif. Die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) het uit die skool ontstaan. In 2004 het die Christelike grondslag weggeval toe die universiteit met die Universiteit van Bophuthatswana saamgesmelt en die NWU tot stand gekom het.

“Dit was ’n baie hartseer oomblik vir predikante en ouderlinge toe hulle by die onlangse sinodesitting hoor ons paaie met die universiteit gaan heel moontlik skei,” sê ds. Piet Venter, ondervoorsitter van die skool se kuratore, wat verantwoordelik is vir die opleiding van die kerk se predikante. Hy was ook voorsitter van die GKSA se sinode einde Januarie. “Die Teologiese Skool het diep bande met die (destydse) Puk. Daar is egter ook ’n gevoel van opgewondenheid omdat ons weer van voor af kan begin en opbou, soos 150 jaar gelede.”

Dr. Gerard Meijer, wat ook by die kuratore betrokke is, sê die verbreking van bande met die NWU is “ingrypend” en dat dit swaar op lidmate se gemoed rus. Die GKSA en die PU vir CHO het in 1945 ’n ooreenkoms aangegaan dat voornemende Gereformeerde predikante aan die Teologiese Skool by die universiteit studeer.

“Die kerk het professore beroep, wat die universiteit dan aangestel het. Die professore het ook die kurrikulum saamgestel,” verduidelik Meijer.

Dié ooreenkoms het tot in 2006 gegeld, waarna ’n nuwe ooreenkoms aangegaan is. Daarna het nuwe wetgewing die bepalings van die 2006-ooreenkoms onmoontlik gemaak en aanleiding gegee tot die onderhandelinge vir ’n ander ooreenkoms. Die kuratorium van die skool het as ’n moontlike alternatiewe wyse van opleiding toe ’n private hoëronderwysinstansie genaamd die Gereformeerde Teologiese Akademie (GTA) geregistreer.

Ingevolge die jongste ooreenkoms wat die kerke met die NWU wou ooreenkom wou die GKSA steeds die fasette van die opleiding saamstel en met die NWU daaroor onderhandel. Die NWU het die GKSA egter op 29 Januarie vanjaar ingelig hy kan nie meer met die onderhandelinge (hieroor) voortgaan nie en daar kon nie ooreengekom word op die nuwe ooreenkoms waarvoor daar die afgelope vyf jaar onderhandel is nie.

“Die universiteit sê dus nou die professore, studente en kurrikulum is hulle s’n. Dit is vir ons onaanvaarbaar,” sê Meijer.

Die 2006-ooreenkoms geld nog vir drie jaar. Die GKSA het egter nou reeds met die proses begin om die akademie by die verskillende akkreditasie-owerhede te registreer. Die nuwe akademie sal steeds op dieselfde perseel in Potchefstroom wees waar dit nou is omdat die geboue, biblioteek en heelwat van die toerusting aan die GKSA behoort.

Die skool met sy akademie is die enigste plek in Suid-Afrika waar Gereformeerde predikante opgelei word, maar studente landwyd kan deur middel van afstandonderrig hier opgelei word.

Venter hoop die situasie kan steeds beredder word. “Ons sal aanhou praat met die NWU. Wetgewing plaas die universiteit wel in ’n onmoontlike situasie, want hulle kan nie een dogma bo ’n ander bevoordeel nie.”

Volgens Venter is daar ’n afname in die aantal studente wat teologie studeer. “Tans het ons net 32 studente. Die rede vir die afname is hoofsaaklik ekonomies van aard omdat plattelandse gemeenskappe nie meer predikante kan bekostig nie. Dit skrik voornemende teologie-studente af. Die sinode het daarom besluit om in beginsel ruimte te skep vir ’n sogenaamde tentmakerbediening, waar predikante toegelaat word om ’n ander beroep te volg en deeltyds te preek.”

Studente se mening
Frikkie Deysel, ’n finalejaar-teologiestudent, sê die oorgrote meerderheid van die studente, wat hy almal goed ken, is positief oor die skeiding van die skool en die NWU se paaie. “Ons is dankbaar die Here gee nou vir ons die geleentheid om suiwer (in ons leer) te bly en ’n instansie met ’n Christelike grondslag te bou. Dit sal dit moontlik maak om onsself steeds fundamenteel met die Woord te kan belyn.”Xolisa Matrose, ook ’n finalejaar-teologiestudent, meen dit is beter dat die skool en NWU se paaie skei. “Die universiteit as ’n sekulêre instelling sou egter teoreties gesproke iemand in die skool kon aanstel wat reg gekwalifiseerd is, maar nie noodwendig gelowig is nie. My troos is dat dieselfde God wat toegesien het dat die skool 150 jaar gelede gestig is, ons nou weer sal help om ’n nuwe een te bou.”

‘Wetgewing dwing NWU om ooreenkoms met Gereformeerde Kerk te beëindig’

Die Noordwes-Universiteit (NWU) koester en heg baie waarde aan sy lang verhouding met die Gereformeerde Kerk, maar hy is ook genoodsaak om die reëls en regulasies in die wetgewing oor hoër onderwys te eerbiedig.

Volgens Louis Jacobs, direkteur van korporatiewe kommunikasie aan die NWU, is die universiteit al ’n geruime tyd in gesprek met die uitvoerende komitee van kuratore van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) oor die formele verhouding tussen die universiteit en kerk oor die opleiding van gereformeerde predikante. Die onderhandelinge gaan onder meer oor die aanstelling van professore.

“Die laaste ooreenkoms wat in 2006 aangegaan is, het ’n onhoudbare situasie geskep wat die voorskrifte van die Wet op Hoër Onderwys betref. Ons lig die GKSA al sedert 2013 in dat die raad op hoër onderwys die NWU op terme geplaas het om seker te maak dat ons diensooreenkomste nie strydig met die wet is nie.

“Die raad het ons in Desember 2015 ook ingelig dat hoëronderwysinstellings alleen verantwoordelik vir leer en onderrig, assesserings en akademiese ondersteuning aan studente moet wees. Nie enige van hierdie funksies mag deur ’n derde party (van buite) verskaf word nie.”

Jacobs sê die universiteit het sedertdien met die GKSA onderhandel om tot ’n vergelyk oor die verhouding tussen die partye in die lig van die 2015-opdrag te kom.

“Die partye het in Februarie verlede jaar op ’n tussentydse diensooreenkoms ooreengekom. Die GKSA se kuratore is versoek om die voorgestelde ooreenkoms in Januarie vanjaar aan die algemene sinode voor te lê. Die NWU het in Junie 2022 aan die kuratore geskryf en die konsepooreenkoms van Februarie 2022 bevestig.

“Ons het in dié skrywe ook formeel versoek dat die kuratore die voorgestelde ooreenkoms aan die algemene sinode voorlê, en aangedui dat die NWU van voorneme is om die 2006-ooreenkoms te beëindig.”

’n Brief sal vandeesmaand nog aan die kuratore gestuur word om formeel kennis te gee dat die 2006-ooreenkoms beëindig sal word.

“Ons wag nou vir ’n formele kennisgewing van die GKSA se kuratore oor die kwessie. Die NWU sal in die lig daarvan werk aan hoe die proses vorentoe geformaliseer sal word om die 2006-ooreenkoms uit te faseer, en om moontlike alternatiewe te oorweeg.”

Volgens Jacobs het geen eerstejaarstudente sedert die afgelope naweek vir ’n graad in teologie ingeskryf nie. “Die aantal studente wat die afgelope paar jaar vir die program inskryf het, het drasties afgeneem.”

Kommentaar

‘n Mens kan net ‘n mens se hoed afhaal vir die Gereformeerde Kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui