Dáárom lei NWU nie tokkelokke op

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Dáárom lei NWU nie tokkelokke op | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 5 Februarie 2023

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die Noordwes-Universiteit (NWU) se paaie gaan oor drie jaar skei.

Dit volg nadat die GKSA gister besluit het om nie ’n nuwe ooreenkoms met die universiteit te aanvaar nie.

Die NWU het vroeër reeds besluit om die ooreenkoms oor die opleiding van predikante vir die GKSA uit te faseer as die kerk nie bereid is om die nuwe ooreenkoms te onderteken nie. Die ooreenkoms sou bepaal het dat die universiteit die inhoud van die kurrikulum sou saamstel en die reg sou hê om teologiese dosente van sy keuse aan te stel.

Ds. Piet Venter, voorsitter van die algemene sinode se 2023-vergadering, sê dit beteken in soveel woorde dat die NWU wou besluit hoe teologiese professore hul tyd bestee.

“Hulle sou nie meer soos in die verlede effektief in diens van die kerk staan nie en teologiese studente sou nie noodwendig onderrig ontvang deur Gereformeerde professore of dosente nie. Hierdie voorwaardes is na die oordeel van die sinode nie in ooreenstemming met die skriftuurlike benadering tot teologiese opleiding van die GKSA se predikante nie.”

Volgens Venter het die GKSA gister besluit om ’n private hoër onderwysinstel­ling op te rig en volgens wetgewing te registreer sodat studente in die toekoms steeds geakkrediteerde teologiese opleiding kan ontvang.

Die GKSA se teologiese skool is in 1869 in Burgersdorp opgerig en het in 1904 Potchefstroom toe geskuif. Die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys het hieruit ontstaan.

Venter sê die GKSA het verskeie voorstelle aan die NWU gemaak, maar hulle kon nie tot ’n vergelyk kom nie.

Kommentaar

Hierdie skep ‘n uitstekende geleentheid om met Kairos Netwerk hande te vat en ‘n nuwe teologiese skool te begin of om saam aan te sluit by die AP Akademie. Kyk Kairos Netwerk Nuusbrief – 3 Des 2021 (Teologiese opleiding).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui