Gereformeerde Kerke verbreek bande met NWU

*******

Gereformeerde Kerke verbreek bande met NWU | Maroela Media

9 Februarie 2023

Megan Swart

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) sal finaal sy bande met die Noordwes-Universiteit (NWU) verbreek wanneer die partye se bestaande ooreenkoms oor drie jaar tot ʼn einde kom.

Die skeiding kom ná die GKSA se besluit om nie ʼn nuwe ooreenkoms met die universiteit te onderteken nie. Die NWU was van voorneme om in ieder geval nie die vennootskap voort te sit, sou die GKSA nie die nuwe ooreenkoms aanvaar nie.

Die GKSA en die NWU is al lank in onderhandelinge gewikkel oor die formele verhouding tussen die partye wat betref die opleiding van predikante vir die GKSA en of gereformeerde professore by die NWU se personeel ingesluit moet word.

Die laaste strooi was skynbaar toe die NWU daarop aandring om beheer te neem van die teologiese leerplan, asook die aanstelling van personeel om die onderrig te fasiliteer.

Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, het by navraag aan Maroela Media gesê dat die onderhandelinge voortspruit uit die feit dat die laaste ooreenkoms tussen die partye, soos dit in 2006 gesluit is, “ʼn onhoudbare situasie geskep het ingevolge die voorskrifte van die Wet op Hoër Onderwys”.

“Ons het die GKSA sedert 2013 behoorlik ingelig dat die Raad op Hoër Onderwys (RHO) die NWU op voorwaardes geplaas het, om te verseker dat die diensvlakooreenkomste wat die NWU gesluit het, nie die voorskrifte van die Wet op Hoër Onderwys oortree nie,” sê hy.

“Die onderhandelingsproses het eers momentum gekry ná die ontvangs van ʼn brief van die RHO in Desember 2015, wat aangedui het dat die universiteit alleen verantwoordelikheid neem vir die instansie en die bestuur van sy onderrig- en leeraanbieding, asook die assesserings en die akademiese ondersteuning wat aan studente gelewer word – en dat nie een hiervan aan ʼn derde party uitgekontrakteer mag word nie.”

Hierdie skrywe het meegebring dat die NWU ʼn nuwe ooreenkoms wou daarstel. Die ooreenkoms sou insluit dat die leerplan vir teologiese opleiding aan die universiteit onderhewig is, asook die aanstelling van nuwe professore of dosente.

Die GKSA het in ʼn verklaring gesê ondanks die uitgebreide onderhandelinge kon daar nie ʼn ooreenkoms bereik word nie.

“Die voorwaardes wat gestel is, is na die oordeel van die Sinode nie in ooreenstemming met die skriftuurlike benadering tot teologiese opleiding wat die opleiding van die GKSA se predikante ten grondslag lê nie,” lui die verklaring.

Volgens Jacobs wag die universiteit nou op ʼn formele kennisgewing van die GKSA se besluit, waarna die pad vorentoe in die uitvoering van die 2006-ooreenkoms bepaal sal word.

“Hoewel die NWU die langdurige verhouding met die GKSA koester, is ons gebonde aan reëls en regulasies soos vervat in die Wet op Hoër Onderwys.”

Tot die afgelope naweek het geen eerstejaarstudente vir dié program, naamlik vir studente van die GKSA, vir 2023 ingeskryf nie.

“Die syfers vir studente wat vir hierdie program inskryf, het drasties afgeneem oor die afgelope paar jaar,” het Jacobs bygevoeg.

Die GKSA is egter nie ontmoedig nie en het aangekondig dat hy ʼn nuwe private hoër onderwysinstelling sal oprig en registreer. Studente sal in die toekoms by die Gereformeerde Teologiese Akademie geakkrediteerde teologiese opleiding ontvang.

Kommentare

Samuel

Dit sal ‘n totale ramp wees as die NWU kon besluit oor die leerplanne vir teologiese opleiding. Dit is goeie nuus dat die GKSA sy eie akademie gaan stig.

Hettie

Dit is weer eens , as dit vir ons is ,doen dit self !

Republikein in die Wes Kaap

Pretoria, Stellenbosch en Free State se teologiese fakulteite het die pad lank terug byster geraak.

Hendrik

Volpunte vir die GKSA – so keer julle dat dwaalleër binnesypel.

Andrew

Steek kers op by Academia en Orania. Afrikaaners moet maar oor die Potch ding kom, jul mos gesien wat met Stellenbosch gebeur het, spaar jou kinders. Maar elkeen kies vir homself.

1 thought on “Gereformeerde Kerke verbreek bande met NWU”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui