Mediaverklaring: GKSA teologiese opleiding

Mediaverklaring: GKSA teologiese opleiding

TSP, NWU se paaie skei oor drie jaar

Die GKSA het op Sinode 2018 verskeie opdragte aan die Kuratore insake teologiese opleiding gegee, onder meer om voort te gaan met onderhandelinge met die NWU oor die opleiding van studente van die GKSA in die teologie.

Hierdie opdrag het gevolg nadat verskeie regulatoriese en wetswysigings meegebring het dat die NWU ’n nuwe ooreenkoms daar wou stel. Die kuratore het verskeie konsepte aan die NWU voorgehou, maar daar kon nie tot ’n vergelyk gekom word nie. Die nuwe ooreenkoms waarop die NWU wou skik sou o.m. inhou dat die inhoud van die leerplan vir teologiese opleiding geheel in die hande van die NWU sal val.

Voorts sal die teologiese professore se tyd aan die NWU behoort en slegs met vergunning by die GKSA aangewend kan word. Teologiese studente sal ook nie noodwendig onderrig ontvang deur Gereformeerde professore of dosente nie aangesien die GKSA geen inspraak sou hê in die aanstelling van professore soos ooreengekom in die huidige ooreen koms nie.

Hierdie voorwaardes is na die oordeel van die Sinode nie in lyn met die Skriftuurlike benadering tot teologiese opleiding wat die opleiding van die GKSA se predikante ten grondslag lê nie.

Die NWU het ook skriftelik kennis gegee dat indien die GKSA nie die nuwe ooreenkoms staande die pas afgelope sinode 2023 onderteken nie, is die NWU van voorneme om die bestaande ooreenkoms van 2006 op te sê. Die GKSA het besluit om nie die voorgestelde ooreenkoms te onderteken nie en het kennis geneem van die NWU se voorneme.

Praktiese gevolge van hierdie besluit is dat die bestaande ooreenkoms met die NWU oor 3 jaar tot ’n einde sal kom en dat daar dan alternatiewe wyse van opleiding in plek moet wees. Vir hierdie doel het die GKSA besluit om ’n privaat hoër onderwys instelling op te rig en volgens wetgewing te registreer waar studente in die toekoms geakkrediteerde teologiese opleiding kan ontvang. Die naam van hierdie instelling is Die Gereformeerde Teologiese Akademie.

Die Sinode het die vertroue uitgespreek dat soos dit sowat 150 jaar gelede was toe die Teologiese Skool te Burgersdorp gestig is, die seënende Hand van die Here ook oor hierdie werk sal wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui