Sinode van Wes-Kaapland: Afgevaardigdes wil kerkorde by Algemene Sinode wysig om pad vir Belhar te baan

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Sinode van Wes-Kaapland: Afgevaardigdes wil kerkorde by Algemene Sinode wysig om pad vir Belhar te baan – Kerkbode

12 Mei 2023

In ’n sinodale streek waar die Belydenis van Belhar reeds “diep gewortel is”, het afgevaardigdes by die Sinode van Wes-Kaapland gestoei met kerkordelike en wetlike beperkings vir die verruiming van die bestaande belydenisgrondslag (Formuliere van Eenheid).

“Ons kan die res van die dag praat oor die meriete van Belhar en ons gaan bly saamstem daaroor,” het ds Marinus Theron, die moderator, in ’n stadium tydens die anderhalfuurlange bespreking gesê in ’n poging om daarop te wys dat die gesprek nie gaan oor die woorde in die belydenisskrif nie, maar oor die ingewikkelde kerkregtelike gang daarvan.

Die aktuarius, ds Charl Stander, het die aanloop tot bespreking van ’n mosie geraam deur ’n twaalfbladverslag deur te lees. Daarna het Theron gesprek vir deelname van die vloer oopgestel.

Die mosie wat uiteindelik ingestem is (sien onderaan die berig), kies ’n proses om die kerkorde te probeer verander en speel die bal na die Algemene Sinode, wat in Oktober ontmoet. Die voorgestelde verandering gaan oor artikel 44 van die Kerkorde, wat sommige, soos ds Marietjie Steyn van Groote Kerk, meen dit onmoontlik maak om te reformeer. Steyn en ander wou sien dat hierdie sinode ’n ander opsie (artikel 35) volg wat volgens die aktuarius “regsonseker” is. Ds Riaan de Villiers van die Groote Kerk en ander het die dringendheid in konteks gestel: “Ons het hier ’n belydenisskrif … ’n gedekoloniseerde belydenis, ’n geleentheid om te sê ons is ’n kerk in Afrika, ons erken die foute van die verlede … Ons wil ’n nuwe pad stap. As ons artikel 44 gaan aktiveer … dit is prosesse wat hoeveel jaar gaan vat … 50, 100, ek weet nie. Op die oomblik gee art 35 vir ons ruimte om dit te doen …”

Ds Helgaard Pretorius het risiko en kerkordelike probleme gekoppel aan art 35 erken. “Maar wat as ons binne die ruimte wat die kerkorde tans vir ons gee, die geloofstap neem?” wou hy weet. “Laat ons die kerkorde en die ruimte wat dit vir ons gee soos dit tans daar is gebruik om sigbaar te bely en Belhar deel te maak van ons belydenisgrondslag en dan die kerkordelike uitdagings wat daar is, te hanteer.”

Ander afgevaardigdes met spreekbeurte het vrae en/of besware gehad rondom aspekte soos die “sonder dwang-beginsel” (dat belydenisse nie afgedwing kan word nie) asook die demokratiese element – dat stemming as ’t ware teologie voorsê.

In die laaste bydrae van die vloer, het ds Braam Coetzee vertel van die eenwording van die NG en VG gemeentes op Bredasdorp, waar hy woon. Hulle beleef dat eenheid “onder” begin. Dit begin nie by kerkordes nie. “Ek kom van ’n konserwatiewe gemeenskap in die Vrystaat, maar my hart het verander,” het hy vertel en bygevoeg hulle eenwording het gebeur ten spyte daarvan dat hulle NG kerkraad nie in 2018 die Belydenis van Belhar wou aanvaar nie. “Maar ons het vir mekaar gesê ons wil een wees en dit begin by ons hart.”

Die bespreking kom met nog vars in die geheue hoe besoekende kerkleiers die vorige dag herhaaldelik hulle waardering uitgespreek het vir alles wat hierdie streeksinode oor die afgelope jare doen vir kerkeenheid tussen gelowiges van verskillende rasse.

Soos dr Llewellyn McMaster, uittredende moderator van die VGK, dit gestel het, “daar is ’n stokkie om aan te gee”. Hierop het Theron as nuwe moderator namens die streeksinode se leierskap geantwoord dat hulle nie “die stokkie sal laat val nie”.

  • Die Algemene Sinode het reeds bevind dat die Belhar Belydenis nie in stryd is met die Skrif en die formuliere van Eenheid nie.
  • Die Belydenis van Belhar het in September 1982 as konsepbelydenis beslag gekry tydens die sinode van die NG Sendingkerk. By die sinode van 1986 is dié belydenis as volwaardige belydenisskrif van die NGSK aanvaar en later ook van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), volgens eCKE.

Hieronder is die besluit soos goedgekeur op 12 Mei.

Besluit 16 (A26, §1.13)

Die moderamen stel daarom as volg voor, naamlik dat:

  1. Die Sinode ’n beskrywingspunt indien by die Algemene Sinode van 2023 met die oog op die wysiging van Artikel 44 van die Kerkorde;
  2. ’n Proses deur die Algemene Sinode begin word om Artikel 44 van die Kerkorde te wysig, sodat dit vir die deelnemende sinodes moontlik sal wees om op ’n kerkordelike wyse ander belydenisskrifte te aanvaar sonder om hulle of hulle gemeentes se posisie in die NG Kerk of in die Algemene Sinode te kompromitteer;
  3. Die Regskommissie van die Sinode van Wes-Kaapland versoek word om in oorleg met die moderatuur ’n konsepbeskrywingspunt voor te berei vir goedkeuring tydens ’n spesiale elektroniese vergadering van die moderamen, om by die Algemene Sinode van 2023 te dien, met die oog op die wysiging van Artikel 44 van die Kerkorde;
  4. Die Sinode besluit dat, sodra die Algemene Sinode dit kerkordelik moontlik maak dat haar deelnemende sinodes selfstandig nog belydenisskrifte kan aanvaar, die Moderamen ’n eendagsinode van die Sinode van Wes-Kaapland sal saamroep met die oog op ’n besluit om die Belydenis van Belhar te bely.

Kyk ook:

Video-beeld van die afgelope sinode

Kommentaar

Johann Ernst

Die Kaapse Kerk moet behoorlike kerkordelike advies inwin voordat die sinode besluite neem wat nie uitvoerbaar is nie. Artikel 44 het met die wysiging van die bestaande belydenisse, die drie ekumeniese en drie gereformeerde belydenisse te doen. Dit het in die verlede gebeur toe “neergedaal na die hel” met “ter helle neergedaal” gewysig is, ook “opstanding van die vlees” met “opstanding van die liggaam”. Artikel 1 het met die wysiging van die belydenisgrondslag te doen, en soos die hof gesê het ‘n verandering in kerklike identiteit. Die Artikel 1 proses kon nie die artikel gewysig kry nie en so is dit nou. Die Kaapse Kerk sal uit algemene sinodale verband moet tree om te kry wat die sinode soek en die gemeentes sal moet instem. Laasgenoemde wil Nelis J van Renburg nie en hy het al in 2015 na ‘n kortpad gesoek. Die enigste ander uitweg is dat gemeentes met verlies aan naam en eiendom uit verband met die Kaapse Kerk tree en verband met die VGKSA opneem, maar met al die ou geld in die Kaapse Kerk sal die “wit kerk” weens bevoorregting nie daarvan afstand wil doen nie. Hulle sal liewer hulle brood aan albei kante gebotter wil hê en ander teen hulle sin in die proses met hulle wil saamneem. As Nelis J van Rensburg en diegene wat soos hy oor Belhar voel, Belhar wil bely, kan hulle vandag nog oorgaan na die VGKSA en in praktyk uitvoer wat hulle predik.

Daniel Louw

Dit is uiters ironies dat vrydenkendes en behoudendes in die NG Kerk eintlik paaie wil skei (skeur), maar hulle eie reëls verhoed dat dit kan gebeur.

Tydens die Koinonia Sinode (3-4 Mei) is genoem dat Kairos Netwerk die ASM al in die verlede genader het om in mediasie te gaan, maar die ASM het bloot reageer met: “gebruik die bestaande strukture en kerkordelike weë”. Miskien is daar tog ‘n goeie rede vir beide partye om wel in mediasie te gaan. Beide partye wil iets hê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui