Verkeerde perd opgesaal

Verkeerde perd opgesaal | Kerkbode

Kerkbode, 4 Februarie 2011

Daar is geen Trojaanse perd in die NG Kerk nie en ook geen “kanker van evolusie” nie. Dit is onwaar dat evolusie ’n vrot appel in die kis is wat die NG Kerk bedreig.

So sê dr Mike Smuts, ’n voormalige moderator van die NG Kerk Noordelike Sinode (toe nog die Sinode van Noord-Transvaal). Dr Smuts het ’n uitgebreide kommentaar geskryf oor die omstrede boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk wat deur beswaarde lidmate geskryf is. Dié lidmate is kreasioniste wat glo God het die aarde in letterlik ses dae geskape.

Dr Smuts beskuldig die skrywers daarvan dat die indrukke wat hulle oor bepaalde sake skep, misleidend is en dat dit nie met die waarheid strook nie. Dit is veral die manier waarop die wetenskap “geweld aangedoen word” wat dr Smuts ontstel. Hy vergelyk dit met oud-president Thabo Mbeki se minagting vir die mening van gerespekteerde wetenskaplikes tydens die vigsdebat. Dr Smuts ontken dat wetenskaplike bevindinge ten opsigte van evolusie noodwendig in stryd is met die Bybel. Die tipering dat die wetenskap ’n “ongelowige uitkyk” het, is volgens hom misplaas. “Christene wat evolusie as ‘maar net ’n teorie’ afmaak, ignoreer die konsensus van die oorgrote meerderheid van wetenskaplikes,” sê dr Smuts.

Een van die boek se medeskrywers, dr Henrietta Klaasing, meen egter daar is talle voorbeelde in die Bybel waar konsensus of die meerderheid juis nié gevolg is nie. Sy het gevra of die Bybel nie meer gesag vir die NG Kerk behoort te dra as internasionale menings nie.

Volgens dr Smuts hoef die Bybel en die wetenskap nie in botsing met mekaar te wees nie. “Geloof lê buite die veld van die wetenskap.” Dr Smuts wys daarop dat dit nie die eerste keer is dat wetenskaplike bevindinge ’n heroorweging van die verstaan van die Bybel noodsaak nie. Galileo se bevindings dat die son nie om die aarde draai nie, het reeds in die 16de eeu groot konsternasie veroorsaak. Selfs die kerkvader Augustinus het sy twyfel uitgespreek oor die letterlike verstaan van die skepping in ses dae soos ons dit ken, sê dr Smuts. Nog een van die boek se medewerkers, ds Gideon Aggenbag, skryf in ’n brief op Kerkbode se webwerf: “Die evolusie-hipotese wat valslik wetenskap genoem word, staan lynreg teenoor dít wat die Bybel verkondig.”

Dr Smuts se kommentaar kan gelees word by: http://ngkok.co.za/vbo/2010-Verslae/trojaanse_perd_mike_smuts.pdf – jean@tydskrifte.co.za

Brief aan gedrukte Kerkbode

Hennie Mouton het die volgende brief aan Kerkbode geskryf en is aanvanklik nie geplaas nie, maar later wel (kyk hier vir meer oor hierdie aangeleentheid).

*************

Stortvloed reaksie op ‘Trojaanse perd’ – 2011/03/03

http://www.kerkbode.co.za/GedrukteBrieweLees.asp?type=1&ID=1429&Start=0&Offset=15&number=12

Sedert die eerste en enigste wettige weergawe van Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme op 1 Desember 2010 verskyn het, was daar wye reaksie – landswyd en van al drie susterskerke, en selfs van Kanada en ’n Nederlandse aanlynkoerant. Inderwaarheid was daar al reaksie voor die tyd, want ’n verouderde, foutiewe en onwettige e-kopie is kwaadwillig voortydig versprei. Die eerste reaksies in die media, van Kletskerk tot selfs swaargewigte in die NG Kerk, was oënskynlik deur mense wat die boek nie behoorlik (of glad nie) gelees het nie. Dr. Mike Smuts se resensie was tot dusver die mees omvattende (en beste) negatiewe kommentaar. Positiewe reaksie het egter die negatiewe by verre oorskadu, veral namate verkope van die boek toegeneem het (teen ’n tempo waarvoor ons die Here baie dankbaar is). Soms het dit selfs gelyk of die twee kampe nie van dieselfde boek praat nie – so baie het hul kommentare verskil.

Meeste van bogenoemde kommentare – positief en negatief, met die skrywers se antwoorde daarop – kan op www.glodiebybel.co.za gelees word (’n betreklik nuwe webwerf, wat ook heelwat ander interessante inligting bevat).

Een van die sake, wat baie duidelik na vore kom uit die radikaal verskillende reaksies op die boek, gaan oor uiteenlopende opvattinge oor die érns van die aangespreekte probleme. Terwyl die boek aandui waartoe postmodernistiese teologie (byvoorbeeld) kan lei en dikwels reeds gelei het (gesien in die lig van die radikale uitsprake van sommiges), verdedig die opponente van die boek dikwels die gematigde, grotendeels onskadelike weergawes van postmodernisme. En dan met ’n houding van: “Wat is nou fout hiermee?” Die onaanvaarbaarheid van die gevaarlike en God-onterende weergawes daarvan – soos die boek met voorbeelde duidelik demonstreer – word grotendeels geïgnoreer . Dieselfde patroon herhaal hom ook in ander gevalle. Dit plaas ’n groot vraagteken oor die eerlikheid van sulke kommentare en resensies wat in werklikheid die proses belemmer om by God se waarhede vir die NG Kerk uit te kom. Om gewone gelowige lidmate en predikante se stemme só te probeer stilmaak, is nie tot opbou van die Kerk nie.

Kommentaar op Kerkbode aanlyn:

Die volgende is kommentaar op artikel “Verkeerde perd opgesaal” wat op Kerkbode aanlyn verskyn het:

Trojaanse perde
2011/02/05

’n Uitstekende kommentaar waarmee ek saamstem.

Wie kan rondborstig en hooghartig daarop roem dat hy of sy oor alle inligting en wysheid beskik betreffende menslike genetika, die skep van lewe en die werking van die menslike brein?

Laat ons beskeie bly en mekaar se sieninge respekteer.

Stel voor lesers lees die volle sestien bladsye kommentaar te http://ngkok.co.za/vbo/2010-Verslae/trojaanse_perd_mike_smuts.pdf – Johann Basson

Die Trojaanse Perd
2011/02/06

Baie dankie: Ek was voor die moeilike keuse gestel as “redakteur” van ons gemeente (N.G.Winterhoek, Uitenhage) se weeklikse nuusbrief om hierdie boek aan lidmate te adverteer. Ek het lont geruik met die titel al, eers die leraar/hoofouderling betrek, en besluit daarteen; dié besluit het selfs ’n brief in Die Burger ontketen, hoeka deur een van die medeskrywers van die boek, ’n lidmaat in ons gemeente. “Saved by the Bell!” U skrywe is pragtig duidelik, soos ek dit ook verstaan. – Dr. F.E. de Villiers

Medeskrywer
2011/02/07

Net ’n klein regstellinkie op dr. de Villiers se bydrae: Geeneen van die medeskrywers van die boek is lidmaat van u gemeente (N.G.Winterhoek) nie. Ons beskou dit maar as ’n glipsie!
– Ds. Gideon Aggenbag

Replieke
2011/02/07

Ek probeer hierdie kommentaar maar weer plaas, aangesien my vorige een nooit verskyn het nie.

Replieke op dr. Mike Smuts se resensie van die boek, is te vinde op www.glodiebybel.co.za. Ek dink dis niks minder as billik om mense net daarna ook te verwys nie. Ongelukkig het dr. Smuts in sekere opsigte strooipoppe opgestel en probeer afskiet.

Lesers mag die kommentaar van ’n Nuwe Hervormer ook insiggewend vind. Sy opsomming van die standpunte in die boek is in verskeie opsigte akkurater as dié van dr. Smuts.
– Dr. Hennie Mouton

Geloof en wetenskap vervleg
2011/02/07

Dit is nie so eenvoudig om te sê dat geloof buite die veld van die wetenskap lê nie, veral wanneer dit kom by interpratiewe wetenskappe. Iets soos onstaansgeskiedenis is ’n projeksie, en maak gebruik van hipotese’s, voorveronderstellings en aannames, wat ekwivalent is aan geloof. Evolusionisme kan nie bestaan sonder hierdie geloofs-basisse nie.

Die vergelyking met Galileo is ook onvanpas, aangesien die bybel nie ’n plat aarde verkondig nie. Dit is ’n karikatuur wat deur sommige gemaak word, en word meestal gebaseer op misinterpretasies van terme soos “fondasies”, “pilare” en “hoeke” (van die aarde) wat metafories gebruik word. Daar was wel mense in die geskiedenis wat in ’n plat aarde geglo het, maar dit is nie wat die bybel leer nie. – Vergrootglas

@ Johann Basson
2011/02/07

Johann, ek is tog in die versoeking om een en ander oor jou opmerkings te sê:

Jy laat dadelik blyk dat jy nog gladnie die boek self gelees het nie. Ek dink dit is nie so mooi om beskuldigings te maak teen die skrywers van ’n boek wat jy nog nooit gelees het nie. Dit is ook nie so wys om jou tot sulke etiketering te laat lei deur ’n derdehandse verteller daaroor nie – al is die verteller se statuur en aansien ook wat.

Indien jy wel die boek (noukeurig) gelees het, sou jy opgemerk het dat die skrywers die waarheid en gesag van die Woord van God wil verdedig, en dat hulle nêrens in die proses “hooghartig daarop roem” dat hulle kennis die finale sê het nie. Hulle oortuigings omtrent die Woord van God is egter finaal en ononderhandelbaar.

Jy impliseer dat enige skrywer/skryfster wat oor sy/haar oortuigings skryf, per se “…hooghartig daarop roem dat hy of sy oor alle inligting en wysheid beskik…”. Is dit regverdig? Hoe sou enigiemand dan ’n boek kon skryf?

Jy skryf: “Laat ons beskeie bly en mekaar se sieninge respekteer”. Jy doen dit self nie – al het jy geen eerstehandse kennis van ons standpunte nie. Jy het in goedertrou aanvaar dat dr. Smuts dit gedoen het. Fout!!

Ons enigste vaste standpunt en geloof is dat die Bybel God se onfeilbare Woord is, en te midde van jou misverstand wil ek graag glo dat jy dit ook glo. Indien my/ons passievolle oortuiging dat die Woord van God absolute gesag het, verkeerd is, dan is ek/ons verkeerd – met trots! Dan het ek/ons ten minste God se Woord probeer gehoorsaam soos Hy dit uitspel in (.o.a.) Eseg.3:17-21 en Mark.8:38.

As so ’n uitruil van gedagtes en oortuigings ontaard in ’n onvolwasse afkrakery en etiketering (as die man gespeel word i.p.v. die bal), is dit nie meer gesonde debat nie.

In enige bespreking gun ek ander mense hulle mening en ek bereid om daarna te luister, dit te oorweeg en miskien daaruit te leer. Maar as dit ontaard in etiketering en afkrakery (die man speel, en nie die bal nie) is dit nie nie meer volwasse debat nie en kan ons nie meer by mekaar leer nie.

Ek wil tog die hoop uitspreek dat jy die boek sal lees, en ek dink jy saal verras wees. Ek wil raai dat, eers wanneer jy wel die boek “noukeurig nagegaan” het soos dr. Smuts dit van homself beweer, jy miskien jammer sal voel oor wat jy geskryf het. As jy ’n boek wil bestel, kan jy my kontak – jy weet mos waar om my te kry. – Ds. Gideon Aggenbag

Geloof en wetenskap vervleg
2011/02/07

Wetenskap het ook ’n “geloofs-” aspek, veral ontstaanswetenskap, want projeksies in die verlede word gemaak, en dit berus dikwels op aannames/geloof. Onstaanswetenskap is dus nie in ’n vakuum nie, maar verbonde aan die voorveronderstellings van die wetenskaplike. – Vergrootglas

Sesduisend jaar
2011/02/08

Dalk sal ds Aggenbag my verkwalik omdat ek die boek nie gelees het nie. Volgens een berig beveel die outeurs/opstellers egter aan dat kerkrade min of meer vereis dat voornemende predikante aanvaar dat die aarde sowat sesduisend jaar oud is (skeppingsdatum, volgens Biskop Ussher en verfyn deur iemand anders, glo om en by negeuur die oggend van 23 Oktober 4004 vC). Dit is moeilik om te glo dat enigiemand so ’n onsinnige vereiste sou stel, maar as dit wel in die boek staan, sal ek regtig nie moeite doen en tyd afstaan om dit te lees nie. – Louis van Ryneveld

Trojaanse perdevleis
2011/02/09

Trojaanse perdevleis vul nie leë mae nie.

Die Suid-Afrikaanse jeug maak ’n groot deel uit van ons bevolking. En daar heers groot werkloosheid en wanhoop onder hulle. Kennis moet geneem word van die gebeure in Tunisië en Egipte en die rol van die internet en media aldaar.

Wêreldkompetisie en werkloosheid staar Suid-Afrikaners in die oë. Kom ons neem hande en fokus ons tyd en energie op opvoeding, die werwing van vaardighede vir broodwinning, die skep van werksgeleenthede en die bevordering van entrepreneurskap. Waar en hoe figureer die NG Kerk in hierdie prentjie? Hoe kan die NG Kerk en die Staat saamwerk om hierdie harde realiteite aan te spreek? Of gaan ons met ons trojaanse perdjies deur die gemeenskap gesyrangeer word?

Trojaanse perdevleis vul nie leë mae nie. – Johann Basson

Hoof fokuspunte
2011/02/09

Nee Louis, om Genesis te glo as letterlike waarheid is nie gestel as ’n vereiste in die boek nie, maar as ’n voorstel. As jy om daardie rede nie kennis wil neem van die hoof fokuspunte (wat nie sesdagskepping of die ouderdom van die aarde is nie), is dit maar jou keuse. Ons glo wel die hervertolking van Genesis om iets anders te beteken as die direkte woorde, is een van die oorsake vir die ernstige probleme wat vandag in die NG Kerk bestaan, maar selfs al glo jy nie dis een van die oorsake nie, sou die probleme self jou geïnteresseer het as jy die NG Kerk se toekoms as Christelike kerk van belang ag. Jy is tog mos in staat om jouself nie so deur een vooroordeel te laat verblind, dat jy nie die meriete van die ander hoofsake kan raaksien nie?

Johann, die tydelike is ook belangrik, maar die ewige is belangriker. – Dr. Hennie Mouton

My resensie van die boek
2011/02/09

Ds. Gideon Aggenbag het gereageer op my resensie van die boek. Ek het hom toe geantwoord by (http://www.nuwe-hervorming.org.za/wiki/trojaanse-perd-ng-kerk#comment-2646), maar het nog geen kommentaar van hom terug ontvang nie. Dieselfde boekresensie kan ook gelees word by (http://www.spiritualiteit.co.za/boek-die-trojaanse-perd-in-die-ng-kerk.php). – Jaco Steyn

Aan Louis van Ryneveld
2011/02/09

Louis, lees maar eerder eers self die boek. Ons het dit nooit aanbeveel as ’n “vereiste” nie. Dus het jou voorgevoel jou nie in die steek gelaat nie. – Daniel Louw

Aan Johann Basson
2011/02/09

Johann, die dinge wat jy noem mag baie belangrik wees, maar dit is nie naasteby so belangrik as om siele vir Christus te wen nie, want 80 jaar op aarde is baie kort invergelyking met ’n ewigheid in die hemel of hel. Liberales voel dit nie nodig om siele vir Christus te wen nie en daarom het ons die boek geskryf. – Daniel Louw

Ds Aggenbach moet aftree
2011/02/10

As ’n jong persoon, sou ek graag wou opkyk na iemand soos Ds. Aggenbach. Maar, sy optrede stel my teleur.

Sy skrywes en sarkastiese kommentaar kom neer op skeurmakery en dit is skadelik vir die Kerk.

Dit is my mening dat iemand in die Oos-Kaapse Sinode vir Ds Aggenbach behoort aan te kla van verdagmakery en dat sy preekbevoegdheid in die NG Kerk hom moontlik ontneem moet word. – Francois de Vos

Trojaanse Perdevleis
2011/02/10

Ek stem saam met Johan Basson se skrywe van 9 Feb 2011. Ek dink lidmate en leraars wat hulle bemoei met kwessies soos Trojaanse perde die Kerk na-binne-gekeer maak, wat veroorsaak dat die Kerk so vasgevang word in interne debat, dat die Kerk naderhand nie meer die energie het om wel na buite ’n verskil te maak waar dit tel nie.

Ek herinner myself aan ’n frase in ’n ou Nagmaalsformulier wat persone wat skeurmakery veroorsaak, veroordeel. Sou gesagdraers of bevoegde vergaderings in die NG Kerk nie dalk so iets kon ondersoek teen sommige outeurs van “Trojaanse perd”-boek nie? Dalk selfs crimen injuria aangesien die NG Kerk se naam pertinent genoem is en verdag gemaak word? Is iemand soos Ds Aggenbach, as ’n emeritus/ pensioenaris van die NG Kerk, nie in elk geval nog, kragtens sy legitimasie-eed, kontraktureel verbind aan die Kerkorde waarvolgens daar voorgeskrewe prosedures is om dogmatiese ontevredenheid te hanteer nie, eerder as om homself dadelik tot die openbare opinie te wend wat uiteindelik skadelik is nie? Sou iemand soos Ds Aggenbach nie dalk onder tug geplaas kon word omdat hy nie daardie prosedures gevolg het nie? – F Bakkes

Lewensvrae
2011/02/11

Welke mens kan die koördinate van sy huis in die heelal van alle heelalle op welke oomblik van tyd van alle tye aangee? Welke mens weet presies hoe werk sy eie menslike genetika, hormone en brein op enige oomblik in tyd? Welke mens kan elemente van die periodieke tabel neem en ’n lewende wurm daarvan maak?

Wie kan bewys dat daar ’n god is? Wie kan bewys dat daar is nie ’n god is nie? Welke onomstootlike bewyse is nodig om die mens te beweeg om in Christus se evangelie te glo, veral as hy honger is? Nie eens Christus kon al sy toeskouers en aanhoorders daartoe oorreed om die evangelie te omhels nie.

Hierdie vrae bring mens by die begrip “geloof” as ’n vertroue in ’n bepaalde siening. Wat is jou sieninge van die lewe waarin jy glo? En dit is hier waar ons in nederigheid en met wedersydse respek gedagtes behoort te ruil oor die kwelvrae waarop ons as mense antwoorde soek.

Derhalwe glo ek dat elke mens moet glo in wat hy goed vind. Ek glo die internet gaan die kerkgroepe wêreldwyd tot in hul fondamente skud. Al hoe meer mense begin vir hulself dink en nie deur ander laat voorskryf wat en waarin hulle moet glo nie. Is my geliefde NG Kerk gereed vir die vloedgolwe van verskillende lewenssieninge wat op die internet aankom? Is ons ware vrydenkers en reformiste? – Johann Basson

Die Trojaanse Perd in die NGK
2011/02/11

As ons gesinsdokter, en ook as professionele medikus, het ek alleen die grootste agting vir dr.F.E.de Villiers. Dit vrywaar hom egter nie van tipies-menslike feilbaarheid in sy oordeel nie. Sy feilbaarheid kom juis aan die lig in sy kommentaar op die “Trojaanse Perd” (2011/02/06).

Kom ons stel sy kommentaar in perspektief. Dit was ek, as lidmaat van die NG Gemeente Uitenhage-Winterhoek, wat die versoek aan hom (as redakteur van die gemeenteblad) gerig het om die voorsiene verskyning van dié boek vooraf onder die aandag van gemeentelede te bring.

Wanneer hy sê: “Ek het lont geruik met die titel al…”, gaan daar vir my ’n onbekende dimensie van hom as mede-gelowige oop, maar dit net so terloops. Oor die feit dat ek dié versoek tot hom (en deur hom ook tot die leraar en leier-ouderling) gerig het, is ek beslis nie jammer nie; dat dit wel geweier is, daaroor is ek baie jammer vir die onthalwe van potensieel oningeligte gemeentelede.

Wanneer De Villiers sê: “…dié besluit het selfs ’n brief in “Die Burger” ontketen…”, is hy reg. In my brief, “Bang beursies sal uit kerk padgee” (24.11.2010),sê ek na aanleiding van die gemelde weiering van die boekbekendstelling, onder meer: “So word lidmate daarvan weerhou om sélf te oordeel of sodanige kritiek geregverdig is of nie.” (Vir my volledige brief, sien gerus waterswaarrusis.blogspot.com onder die indeling KERK.)

Wanneer De Villiers verder sê: “…’n brief in “Die Burger” ontketen, hoeka deur een van die medeskrywers van die boek,’n lidmaat in die gemeente…”, dan is hy weereens reg as hy beweer dat ek ’n lidmaat van die gemeente is, maar dit is ’n absoluut blatante onwaarheid (‘n leuen) dat ek ’n medeskrywer van die boek is. Hy suig dit uit sy duim, en sodoende lewer hy dan ook bewys van sy eie tipies-menslike feilbaarheid. Waar kom hy daaraan? Dit is tog ’n onwaarheid wat baie maklik uitgewys kan word!

Ek wil graag die volgende twee vrae aan dr. De Villiers (ook die leraar en die ouderling)stel:

1. Het hy (hulle) al self die ter sprake boek gelees? Indien nie, maak hy (hulle) hom (hulle) beslis skuldig aan vooroordeel deur hom (hulle)alleen op die uiters eensydige kommentaar van dr. Mike Smuts te beroep.
2. Een van die (telefoniese) redes wat dr. De Villiers aan my voorgehou het oor waarom die bekendstelling van die “Trojaanse Perd” nie in ons gemeentebrief opgeneem kon word nie, is dat nie hy óf die leraar óf die leier-ouderling dié boek nog ter hand gehad het nie.

Nou wil ek maar net weet: Die bekendstellingspamflette van die sogenaamde “Tutu Kinderbybel vir kinders” (‘n publikasie van CLF), wat na ’n erediens by ons kerkdeure uitgedeel is, het dié drie here dié Bybel vooraf onder oë gehad?

Weet hierdie drie here wat die grote Tutu alles van God kwytraak? Lees gerus Errol Naidoo se artikel: “Praat die Kerk die Taal van Babilon?”, in Juig! Tydskrif van 22 Julie 2010. Hierin sê Naidoo: “Hy (Tutu) het nou al male sonder tal Bybelse konsepte soos geestelike weergeboorte, redding deur Jesus Christus alleen, sondebelydenis en straf as absolute twak afgemaak. Tutu het selfs so ver gegaan as om die term “homofobies”…te gebruik om die God van die Hemel te dreig…(en) gesê dat hy beslis nie ’n “homofobiese” God sal dien nie.” Beskik dié drie here oor dié kennis aangaande Tutu, en/of vertrou hulle hom blindelings met sy “Bybel”, maar die skrywers van die “Trojaanse Perd” word nie vertrou nie? Kan hulle dié optrede motiveer?

Ek verneem graag die antwoorde van die drie gemelde here op die voorafgaande vrae.

As Christengelowige vind ek berusting daarin dat ek my nie, primêr, aan mense moet verantwoord nie, maar wel aan die Drieënige God, Skepper van die hemel en die aarde.

– Dr.T.C.Breitenbach

@ Francois de Vos
2011/02/12

@ Francois de Vos

Francois,

Dit is jammer dat jy my “skrywe en kommentaar” ervaar as sarkasties. Ek kan jou verseker dat dit nie my styl is nie. Wanneer ons skryf, het ons nie lyftaal, stemtoon ens. tot ons beskikking nie – net blote geskrewe feite en standpunte. Nou is dit jammer dat jy nie een aanhaling maak wat aantoon wat ek geskryf het wat sarkasties was nie. Wat ek geskryf het, is na die beste van my wete korrek. Geeneen van my skrywes is gemik op verdagmakery en/of skeuring in die kerk nie. Alles wat ek geskryf het (sover ek kan onthou) was direk en indirek bedoel om dwaalleringe en die afkrakery van die gesag van God se Woord te bestry. Dít beskou ek as my plig voor God. As die uitwys en besktryding van dwaalleinge wat die gesag van die Woord aantas, verdagmakery is, is ek ’n verdagmaker par excellence – en met trots.

Ek kan jou ongelukkig nie verder antwoord nie, want jy het versuim om jou beskuldigings te staaf. Kan jy asb. spesifiseer waar/hoe ek sarkasties was of verdagmakery of skeuring gepropageer het? Om feite te stel is allermins verdagmakery of sarkasme.

Ek wil vertrou dat jy ook die Woord van God liefhet en bereid is om vir die gesag en waarheid daarvan standpunt in te neem. Is dit só? Om hierdie Woord en die evangelie daarin vervat, suiwer en reguit te verkondig, is my passie. Ek wil daarom baie graag aanbeveel dat jy ons webblad (www.glodiebybel.co.za) sal besoek en kennis neem van sommige feite. Lees ook gerus my antwoord aan F. Bakkes onder hierdie kommentare. Groetnis.

– Ds. Gideon Aggenbag

@ F. Bakkes
2011/02/12

Mnr./me Bakkes, ek sal probeer om nie te herhaal wat ek onder hierdie kommentare aan Francois de Vos geskryf het nie. Lees dit gerus.

Ek stem saam met Johann se kommentaar van 9 Februarie – behalwe die laaste sin. Alles wat hy daar sê is waar en prysenswaardig. Dit beteken egter nie dat ons, waar die gesag van God se onfeilbare Woord afgekraak word en die inhoud daarvan afgemaak word as onwaar en onbetroubaar, maar net kan of mag ignoreer nie. Dit is nie ’n geval van net die een (Johann se pleidooie) of die ander (Bybelse gesag) nie, maar altwee. Ons kan nie oogklappe aansit en opheffingswerk doen, en die oneer wat God aangedoen word, ignoreer nie.

Waar dwaalleringe gepropageer word, mag die kerk van Jesus Christus nie net eenvoudig stilbly nie. Om die suiwerheid van die evangelie te verdedig, is nie skeurmakery nie. Dít kan eerder aan die deur gelê word van dié wat ’n valse leer in die kerk indra. Lees gerus in hierdie verband ons boek wat jy meld, asook ons repliek op dr. Mike Smuts se resensie op www.glodiebybel.co.za.

Ek wil jou graag verskoon dat jy jouself nie eers vergewis het van die ware toedrag van sake voordat jy my aangeklae het van verdagmakery en skeurmakery nie, en dat jy wil hê dat ek onder tug geplaas word nie. (Dit gebeur in elk geval lankal nie meer in die NG Kerk nie. Sien onder kenmerke van die ware kerk by NGB Artikel 29.)

Ek het my nie “dadelik tot die openbare opinie” gewend nie. Ek verduidelik: Op 23-24 Junie 2009 het die Moderamen van die Algemene Sinode te Carmelite vergader en ’n amptelike standpunt uitgereik waarin hulle, sover ek dit kan verstaan, wonderbare, Goddelike skeppingsmag nie ter sprake is nie en dat die skepping maar net ’n natuurlike ontwikkeling behels het. Hulle verklaring lui o.a.: “Oor hoedat hierdie skepping egter tot stand gekom het, asook die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel en funksioneer, kan ons as gelowiges ons net verwonder.”

Ek het altesaam drie eposse aan die moderatuur gerig. Geen antwoord is gegee op my vrae nie. Die laaste epos wat ek van dr. Kobus Gerber, skriba van die moderatuur, ontvang het, was dat my (laaste?) brief op hulle vergadering gehanteer sal word op 21 Januarie 2010. Op 3 Maart 2010 het ek weer navrae gedoen by dr. Gerber en gevra wat hulle besluit het, maar tot op datum het ek geen antwoorde op enige van my navrae gekry nie.

Op Kerkbode se aanlyn briewekolom sowel as in die sekulêre pers is menige van my briewe wat beswaar maak teen die aantasting van Skrifgesag, nie geplaas nie. Dít is een van die redes waarom ons die betrokke boek geskryf het. Selfs hier by hierdie kommentare, is ’n goeie antwoord (op 6 Februarie) op die betrokke berig geblokkeer en nie geplaas nie. Navrae daaroor het ook geen vrug opgelewer nie. In geeneen van hierdie skrywes het ek kru taal, sarkasme of onwaarhede kwytgeraak nie. Dit skyn asof breë veralgemenings, etiketering en beledigings welkom is, maar nie feite (insluitend dié wat hoëprofiel persone in die verleentheid mag stel) nie.

Ek het ’n vermoede dat geeneen van julle ons boek gelees het nie, maar wel dr. Mike Smuts se resensie – wat heelwat verdraaiïngs en onwaarhede omtrent die betrokke boek bevat. Dit word duidelik uiteengesit in ons antwoord daarop, op ons webwerf, www.glodiebybel.co.za.

Nee, mnr/me Bakkes, geen tugverhoor sou enige gronde teen my hê nie. Ek bly staan by die waarheid, totale gesag en die onfeilbare Woord van God, en ek sal aanhou daarvoor stry.

Groetnis. – Ds. Gideon Aggenbag

@Jaco Steyn
2011/02/12

Jaco, ek sien jy klae omdat ek nie op jou skrywe op jou webwerf gereageer het nie. Ek ken nie jou webwerf nie, daarom het ek gaan kyk. Jy skrywe: “Ek doen myself beslis nié voor as ’n Bybelgelowige nie en glo gevolglik ook nie dat ek Jesus Christus nodig het (vir my persoonlike verlossing en saligmaking) nie.” Jy laat blyk dat jy ’n baie deeglike kennis van die Bybel het. Daarom is daar niks wat ek jou meer vir jou kan sê nie. – Ds. Gideon Aggenbag

Verdagmakers, kortpadvatters?
2011/02/13

Francois de Vos, die vraag is of ons boek verdagmakery, of bekendmaking met ’n duidelik oproep tot verandering, gedoen het. Daar is ’n verskil – ’n reuse verskil.

Die punt is dat meeste van die aanhalings wat ons in die boek gebruik het, van skrywes van die betrokke persone kom wat hulle reeds in die openbaar gemaak het – soos in boeke, op webwerwe, in koerantberigte ensovoorts. Hul onbybelse beïnvloeding is orals sigbaar.

Ek is bevrees om die regte kanale al die pad te gevolg het, sou min of meer so sinneloos gewees het as om vir die regering ’n briefie te stuur oor pres. Zuma se onaanvaarbare onlangse uitlatings betreffende ANC-lidmaatskap wat glo ’n plek in die hemel verseker. Nee, die kerk het in die openbaar verklarings uitgereik (VGK, SARK, NG Kerk en die GKSA) want dit is die beste menslike manier om die omvang van die ongelukkigheid te demonstreer en hopelik ’n substansiële effek te hê. Ons het byvoorbeeld langs die regte kanale klagtes ingedien oor wat op die amptelike NG-webwerf se Diversiteitsforum aan die gang is. Dit is verwys na dr. Ben du Toit – maar hy is deel van die probleem! Uiteraard het daar niks van gekom nie. Nog ’n voorbeeld is ds. Gideon Aggenbag wat deur die Ring van Cradock en direkte e-posse aan Moderamenlede probeer uitvind het wat die Algemene Sinode se siening oor evolusie is. Dr. Kobus Gerber het hom die besluit van die Moderamen van Junie 2009 gestuur. Opvolgende skrywes en vrae van hom het op niks uitgeloop nie. Hoofstuk 8 van ons boek oor die ongelyke speelveld, wys ook waarom die amptelike kanale te volg uiters onwaarskynlik enige sukses sal hê. Soortgelyk kan mens vra: Watter ANC-minister sou die klagte teen pres. Zuma hanteer het, en indien wel enigeen, wat sou die uitslag gewees het? Die antwoord is voor die hand liggend.

Prof. Piet Strauss het hom by verskeie geleenthede al oor die belangrikheid van Bybelse waarhede uitgespreek, onder andere indirek deur sy verklaring dat hy nie evolusie aanvaar nie. Hieroor is ons baie dankbaar. Die opvolgende openbare reaksies deur die Moderamen via prof. Nelus Niemand het egter die probleem bevestig – om ’n klagte aanhangig te maak in ’n struktuur waar die leierskap tot ’n groot mate deel van die probleem is, is redelik sinneloos. – Dr. Hennie Mouton

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui