Selfdegeslagbesluit: ‘Diversiteit is ’n gawe’

Kyk ook:

Kyk AS2019, die belydenisskrifte en geloofsbelydenisse waarin Henrietta Klaasing kommentaar lewer oor hierdie berig.

**********

Selfdegeslagbesluit: ‘Diversiteit is ’n gawe’ | Kerkbode

8 Oktober 2019

Deur Neels Jackson

Die NG Kerk se Algemene Sinode het Dinsdagaand ’n besluit aanvaar wat ruimte bied vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Kerkrade, ringe en sinodes het die reg om self te besluit watter standpunt hulle hieroor wil inneem. Dr Frederick Marais van die Wes-Kaapse sinode het die wens uitgespreek dat die kerk met hierdie besluit sal ophou om ’n geveg met mekaar te voer en dat verskillende standpunte gerespekteer sal word. Hy het ’n medesinodeganger aangehaal en gesê diversiteit en verskillende standpunte mag lyk soos ’n verleentheid, maar dit is ’n gawe.

Die Algemene Sinode gaan ook ’n span saamstel wat die besluit met die verskillende streeksinodes gaan deurwerk sodat almal verstaan wat die besluit presies behels.

Die besluit is geneem nadat die vorige besluit wat in 2015 geneem is, ter syde gestel is omdat die verkeerde prosedure met die neem daarvan gevolg is. Daarna is ’n beskrywingspunt van die Wes-Kaapse Sinode bespreek en met enkele wysigings aanvaar.

Die besluit bely dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisskrifte. Hierdie eenheid verbrokkel nie as daar verskille oor die hantering en uitleg van die Bybel is nie.

Die Algemene Sinode het hom verbind tot voortgesette gesprekke en gemeentes aangemoedig om ook ruimte vir gesprek te skep.

Kerkrade word aangemoedig om in die verkiesing van mense tot die ampte lidmate se doop, roeping, spiritualiteit en getuienis oor leer en lewe in ag te neem, maar nie ras, geslag of klas of seksuele oriëntasie of identiteit nie.

Die sleutelwoord van hierdie besluit is egter “moedig aan”. Dit bind kerkrade nie. By die legitimasie van teologiestudente moet aspekte van hulle geestelike lewe ook in ag geneem word, maar nie ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie nie.

Die Algemene Sinode het ook die verloop van die debat en besluite die afgelope paar jaar in die kerk betreur en gay mense en hulle families verskoning gevra vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het.

Die besluit gee erkenning aan verskillende standpunte oor die bevestiging van gay paartjies in burgerlike verbintenisse en bevestig die ruimte vir almal om volgens eie oortuiging op te tree.

Daar moet daarom nou ’n formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse opgestel word.

Die Algemene Sinode het ook die verloop van die debat en besluite die afgelope paar jaar in die kerk betreur en gay mense en hulle families verskoning gevra vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het.

Die kerk gaan ook voort met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op die volgende sinode.

Insette vanuit die lokaal vóór die stemproses

Tientalle sinodegangers het tot laat Dinsdagaand die geleentheid gebruik om insette van die vloer te lewer vóór die stemming in ’n gesprek wat altesaam byna ses ure geduur het. Voor die aandete-breek was die reaksie oorwegend positief. Later in die aand het besorgdes hulle stemme laat hoor – veral oor hoe gemeentes op die besluit sal reageer. Hier volg ’n paar aanhalings soos aangeteken deur die Kerkbode-span. (Daar was ook ’n regstreekse video-uitsending van die hele proses).

Leon Fourie van Outjo in Namibië: As ek Sondag op die vliegtuig klim terug huis toe, het my hele gemeente al gelees oor die besluit. Ek daag by my heel eerste gemeente op. Ek pleit by die sinode omdat ek ’n jong leraar is. Ek vra vir hulp. Ons benodig hulp. Want soos die ding nou op die tafel lê is dit ongelooflik mooi. Ek kan nie fout vind met die voorstel nie. Maar hy kort ’n praktiese sy.

Gys Loubser van Boksburg: Ons hoor ons moet versigtig wees. Ek dink die Wes-Kaapse voorstel is min of meer so versigtig as wat jy kan wees, daarom wil ek die voorstel ondersteun. Ons as gemeente het vroeër vanjaar besluit ons gaan geensins onderskeid tref nie. Ons het ’n paar mense verloor, maar ons is ook ryker met ’n nuwe groep mense.

Johan Koen van Burgersfort: Ek kan nie vir hierdie besluit stem nie. Volgens my verstaan van die Bybel is dit nie vir my aanvaarbaar nie. Ek kom ook van ’n plattelandse gemeente. Na 2015 het ons ook ’n klomp lidmate verloor. Dierbare mense … Ons staan by ’n kruispad. Ek wens ek kan op ’n manier die tyd terugdraai en stop voor ons die besluite geneem het. Om voort te gaan met dié tipe besluite gaan ons net dieper en dieper in die moeilikheid kom.

Jampie Nel, Bellville: ’n Oom het vir my kom sê het hy kan nie die Here loof nie, omdat die orrelis met ʼn man getroud is. Ons is in ’n wêreld wat morsig is. Dit gaan net moeiliker raak. Ek dink hierdie is ’n ongelooflike voorstel. Dit gaan ons ook op ander terreine help. Ek is verskriklik dankbaar dat ons nie die Woord soos 2 000 jaar gelede verstaan nie. Dan sou ons nou slawe gehad het en vroue nie ’n plek gehad het nie.

Riaan van Zyl, Bethlehem: Ek praat vanaand met ’n rein hart. Ek wil teen die voorstel praat as ewemens, nie as medemens nie. Ons is deel van ’n liggaam van Çhristus. Wanneer een lid ly, ly die hele liggaam. Ek was self op die markplein in die lewe. As ek na die voorstel kyk, kan ek nie saamstem met die voorstel nie.

Egbert Steyn, Oos-Kaap: Ek is nie bereid om gelowiges te vervreem wat anders as ek glo nie – ek vra dat ons ruimte skep vir dié wat anders as ons glo.

Ernst Coetzee, Namibië: Die huwelik is ’n sakrament, een man en een vrou. Ek kan nie myself vereenselwig met hierdie voorstel nie.

Sandra Leeuwner, Wes-Kaap: My hart is stukkend. Ek kan nie verstaan hoe daar soveel verdeeldheid kan wees as ons dieselfde Here liefhet nie. Hoe kan ons dieselfde Woord lees en so verskil? Ons moet ook glo dat die Gees oortuigings in almal se hart sal bring. Die Here sal self vir ons die antwoorde gee. Daarom ondersteun ek ook die verslag. Ek staan nie hier in oortuiging nie, maar in totale afhanklikheid van God. – Bykomede verslaggewing deur Conette le Roux

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui