Satan in die Ou Testament – Gerda de Villiers

Die volgende kom uit die debat Gesprekke op strokiesnet/kerkbode oor Satan in die Ou Testament (nav Gerda de Villiers se artikel)

************

Gideon Aggenbag

Julie 2012

Ek maak graag enige opmerkings omtrent Gerda de Villiers se artikel “Satan in die Ou Testament” soos gepubliseer in http://teo.co.za/artikel/articles/473/1/Satan-in-die-Ou-Testament/Bladsy1.html.

Gerda “ondersoek die verskillende kontekste waar ‘satan’ in die Hebreeuse Bybel voorkom om meer duidelikheid oor die onderwerp te kry.” Sy sê (opsommenderwys) dat, waar die woord “satan” (Hebreeus “saw-tawn”) in die Ou Testament (OT) voorkom, dit meestal dui op ’n status, ’n rol of ’n pos wat ’n persoon beklee – “…dit kan ’n aardse mens of ’n hemelse wese aandui”. So ’n status, soos ’n “aanklaer” of “teenstander” (soos “satan” dan ook vertaal word) in bv die regspraktyk, was “’n werklike status. Dit was egter bloot tydelik, nie ’n permanente pos nie. Verskillende mense kon binne verskillende omstandighede as ‘aanklaer’ opgetree, maar as die saak afgehandel was, was die ‘aanklaer’ ook van sy status onthef.”.

Haar uiteindelike slotsom is “Maar of daar werklik ’n Satan is, dit wil sê ’n spesifieke wese met ’n persoonlike identiteit wat Satan heet, is egter te betwis.” Ons moet dus “versigtig wees om die latere duiwel van die Nuwe Testament en Christelike kerk in tekste in te lees. Want die Ou Testament ken hom nie. Sy stel dit dan ook: dit is “onwaarskynlik dat satan ’n eienaam kan wees”.

Die vraag is nou: As die Nuwe Testament (NT) nou van die duiwel as ’n (bonatuurlike) persoon by name Satan (Grieks: “satanas”) praat, moet ons dan aanvaar dat die OT hom (“sawtawn”) gladnie “ken” nie? In die NT is “die duiwel” en “die satan” so vervleg dat dit onmoontlik is om te ontken dat die duiwel Satan self is, en dat Satan ’n duiwel is – ’n bonatuurlike persoon.

In die NT kom die bepaalde lidwoord (“hô”) voor om ’n subjek se eienaam aan te dui, en dui Jesus net so gemaklik aan met “hô jêsoes” as wat dit Satan aandui met “hô satanas”. (As ons daarop aandring om l.g. met “die satan” te vertaal, waarom dan nie e.g. met “die jesus” nie?).

Omdat ruimte beperk is, wil ek graag volstaan met slegs een voorbeeld: die bok vir Asásel (die sondebok) van Lev.16. Nadat dié bok belaai is met die volk se ongeregtighede (wat Aäron bely het) word dit weggelei na die woestyn/wildernis – tradisioneel die woonplek van die duiwel – en daar gelaat word.

Hierdie “vooruit-skou” is deur Jesus vervul toe Hy by Sy doop die sonde van die wêreld op Homself geneem het (“opgetel en weggedra” het – Joh.1:29; Mat.3:15), en die Heilige Gees Hom weggelei het om deur die duiwel versoek te word (Mat.4:1). Hier, by Sy versoeking, word die die terme “versoeker”, “duiwel” en “satan” afwisselend gebruik om dieselfde persoon aan te dui (vv. 1,3,5,8,10,11).

Die term “duiwel” (Grieks: “diabolos”) word dan ook in Strong vertaal as “false accuser” (“valse aanklaer”) en verwys na die Hebreeuse “sawtawn” wat vertaal word as “aanklaer” of “teenstander”. Uit vele NT-tekste word dit duidelik dat Satan die opperste duiwel van die duiwels is, dat hy die identiteit van ’n bonatuurlike wese het en dat hy God se teenstander is.

Toegegee dat “satan” meermale in die OT voorkom as ’n natuurlike menslike teenstander. Dit beteken egter nie dat die opperste van die duiwels, by name Satan, nie óók in die OT voorkom nie – soos in die boek Job. Net omdat daar in sommige tekste mense duidelik mekaar se “teenstander” is of die rol/funksie van “aanklaer” vervul, beteken nie dat Satan nie ook by name daarin voorkom nie – net so min as wat ’n natuurlike persoon wat as ’n “verlosser” optree, sal verhinder dat Jesus as werklike persoon óók “Verlosser” genoem word nie.

Die NT verwys na Satan in dele soos Mt.4:1,5,8,10,11; Mk.4:15; Lk.10:18; 13:16; 22:3,31; Joh.13:27; Hand.5:13; 26:18; Rom.16:20; 1Kor.7:5; 2Kor.2:10; 12:7; 1Tes.2:18; 2Tes.2:9; 1Tim1:20; 5:15; Openb.2:9,13,24; 3:9; 12:9,2,7. (Let veral op l.g. gedeelte!) Met hierdie direkte NT-verwysings na die duiwel as Satan, kan l.g. se bestaan en werkinge in die OT sekerlik nie ontken word nie, want hy bestaan beslis alreeds lank voordat die OT geskryf is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui