Brief aan dr Gerda de Villiers – Wynand Louw

Kyk ook:

Die volgende brief van Wynand Louw is verkort in Rapport geplaas onder die opskrif As jy in Jesus glo, moet jy Sy woorde glo:

Dr Gerda de Villiers, die Satan en Jesus (en Dr Ben du Toit)

Die berig “Is Satan die duiwel of ’n teenstander?” (Rapport, 29 Julie) het betrekking.

Dr Gerda de Villiers het lankal die tradisionele Christelike geloof verlaat. Sy is bekend daarvoor dat sy ontken dat Jesus in die Ou Testament voorspel word – en daarmee weerspreek sy Jesus se aansprake daarop dat Hy in die Ou Testament voorspel word direk. Dit is ’n blatante onkenning van Jesus se uniekheid en sy aansprake op bonatuurlike, Goddelike kennis.

Sy verklaar Jesus dus tot leuenaar of geestelik versteurde.

Daar is geen manier waarop iemand beweer dat hy IN Jesus glo as hy nie VIR Jesus glo nie.

Jesus het gesê dat Hy in die Ou Testament voorspel is. Om die teendeel te beweer en dan te beweer jy is enigsins ’n Christen (iemand wat IN Jesus glo) is dus bedrog.

Die selfde geld natuurlik vir die duiwel. Jesus het gesê die duiwel bestaan. As sy beweer Jesus was verkeerd – m.a.w. dat sy nie VIR Jesus glo nie – is dit afdoende bewys dat sy nie IN Jesus glo nie.

Die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis is duidelik dat die duiwel bestaan. De Villiers verwerp dus nie net Jesus as haar verlosser nie, sy verwerp ook die belydenisskrifte van die Nederduits Gereformeerde Kerk.

Die vraag is, waarom is sy in diens van die teologiese departement by Tukkies, en is sy ook betrokke by die opleiding van kwekelinge van die NG Kerk?

Ek het hierdie vraag in persoonlike gesprek aan Prof Nelus Niemandt gevra. Hy het geantwoord dat sy ’n universiteits aanstelling was en nie deur die kerk aangestel is nie. Op hierdie manier het hy die kerk van alle blaam vir die feit dat sy kwekelinge van die NG Kerk help oplei onthef. Volgens hom is haar kontak met studente ook redelik beperk.

Dit klink werklik baie hol in die lig van die Kerkorde se bepaling, ek haal aan: “Elke kuratorium dra sorg vir, beheer en hou toesig oor die opleiding en die voortgesette opleiding van evangeliedienaars”. Indien die kuratorium beheer en toesig het oor die opleiding van studente van die NG Kerk het, kan prof Niemandt eenvoudig nie maar net sy skouers optrek oor wie die universiteit dan sou aanstel om ons kwekelinge op te lei nie.

Die kuratorium het ’n duidelike opdrag om beheer en toesig oor opleiding te hou.

Die onstellende is egter dat daar ander teoloë by Tukkies is wat ook openlik die Bybelse boodkap verwerp, wat baie meer met studente kontak het as Dr de Villiers.

Prof Julian Muller propageer panenteïsme in die openbaar. Hierdie leer dat die mens in wese God is, is ’n direkte weerspreking van die Bybel en ’n blatante verwerping van die evangelie. Tog is Muller onlangs bevorder tot visie-dekaan van die teologiedepartement.

Wat gaan hier aan?

Dit is moeilik om nie tot die gevolgtrekking te kom dat daar ’n doelbewuste plan is om mense wat die evangelie verwerp en vir ’n vreemde teologie verruil, in sleutelposte in die NG Kerk verwelkom word nie.

Wat die tugsaak teen Dr Ben du Toit betref:

Die Algemene Sinode van 2011 se besluit om dwaalleer ten opsigte van die duiwel in die kerk toe te laat was onwettig. Dit is reeds op die Hoëveld Sinode aangespreek en die saak is op die volgende Algemene Sinode se agenda. Ons kan maar net vertrou dat die volgende Algemene Sinode hierdie fout sal regstel.

Dr du Toit se enigste verweer teen die klag van dwaalleer was die besluit van die Algemene Sinode van 2011.

Die ondersoekkommissie het tydens die ondersoek bewys dat hulle uitermatig bevooroordeeld was ten gunste van Dr du Toit. Dit is op grond hiervan dat ek my aan die verrigtinge onttrek het en appèl aangeteken het teen hulle besluit. Die gronde vir appèl is dus “ ’n redelike vrees vir vooroordeel aan die kant van die ondersoekkommissie.”

Vriendelike groete

Dr Wynand Louw

Melkbosstrand

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui