Römer maan teen Bybelse pieng-pong

Hierdie artikel word geplaas ter wille van inligting. Hierdie wys weereens watter tipe mense die Universiteit van Pretoria se teologiese fakulteit kry om hulle studente toe te spreek. Dit herinner baie sterk aan Februarie 2010 toe George Claassen gekry is om die studente toe te spreek, maar toe gevra is dat ’n skeppingsleerder die studente kan toespreek, toe is dit vriendelik van die hand gewys. Kyk UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit.

*********

Römer maan teen Bybelse pieng-pong | Kerkbode

12 September 2019

Deur Neels Jackson

Die debat oor homoseksualiteit moenie begin by Levitikus 18 en 20 of Romeine 1 nie, maar by die idee van menseregte wat sy wortels in die Bybelse tradisie het.

So het prof Thomas Römer tydens ’n openbare lesing oor die Ou Testament en homoseksualiteit by die Universiteit van Pretoria gesê. Römer is ’n Duitse teo­loog, rektor van die Collège de France in Parys en sedert 2013 besoe­ken­de professor by Tukkies.

Hy het skerp kritiek uitgespreek op ’n Bybelgebruik wat enkele versies uithaal en dit as troefkaarte in ’n debat gebruik. Dan speel jy pieng-pong, want daar is altyd ’n ander vers om mee te antwoord, het hy gesê.

Hy het daarop gewys dat dit anachronisties is om die woord homoseksuali­teit in Bybelse konteks te gebruik, omdat dié woord eers in die 19de eeu geskep is.

Hy het ook gesê dat die Bybel verstaan moet word teen sy kulturele en ideologiese agtergrond. Levitikus 18 en 20 kom byvoorbeeld uit ’n wêreld waar­in slawerny en ongelykheid tussen mans en vroue aanvaar is.

Seks was iets tussen ’n aktiewe en pas­siewe persoon waarin die aktiewe per­soon domineer. Dit sou vernederend vir ’n man wees om die passiewe rol te vertolk.

Römer het daarop gewys dat iemand wat op grond van Levitikus 20:13 daarop aandring dat homoseksualiteit sonde is, dan ook op die doodstraf daarvoor moet aandring.

Oor die verhaal van Sodom en Gomorra het hy gesê dat dit eintlik niks met homoseksualiteit te doen het nie. Dis ’n verhaal oor seksuele geweld waardeur die inwoners van Sodom die besoekers wou verneder. Dit was ’n sken­ding van destydse reëls oor gasvryheid.

Römer het oor die vriendskap tussen Dawid en Jonatan gesê dat die verhaal baie dubbelsinnig is, maar dat daar tog aanduidings is dat die vriendskap as ’n liefdesverhouding gesien kan word.

In vraetyd was daar kritiek op Römer se gedagte dat die debat by menseregte moet begin. Hy het bevestig dat hy menseregte as ’n begrip met Bybelse wor­tels sien, maar gesê dit is net ’n voorstel dat die debat daar moet begin. Daar is ander moontlikhede ook.

Hy het egter gepleit vir ’n breër ge­sprek oor seksualiteit aangesien die idees oor seksualiteit wat tekste soos dié in Levitikus onderlê, nie net so na van­dag oorgedra kan word nie.

Kommentaar

Sarel Strydom
12 September 2019 at 15:10

Aan die Prof net die: Wat het van die Christendom in Duitsland geword en hoe aktief is dit. Hoeveel Kerke bestaan nog in Duitsland?

Andre
12 September 2019 at 15:18

Dink hy sal Dr Ralfh Barnard se insette waardeur.

van Leeuwen
14 September 2019 at 09:49

Ek verstaan nie hoe die prof nie die antwoorde op sy vrae ken nie. Ons stenig nie meer mense oor homoseksualiteit nie, ook nie kinders wat ongehoorsaam is aan hulle ouers nie, omdat ons leef in NT tyd. Waar Jesus vd vrou wat owerspel gepleeg het gesê het dat hy haar ook nie gaan stenig nie maar dat sy nie meer moet sondig nie.

Dat die feit dat die woord homoseksualiteit nie deur Paulus gebruik is nie – maar wel die Griekse woord daarvoor, wat almal in die vroeë kerk, wat ín daardie tyd en kultuur geleef het, en wat die Grieks verstaan het, presies geweet het wat Paulus bedoel het – as argument gebruik word. Paulus het ook gepraat van mans wat brand vir MEKAAR. Dus het dit niks met pederasterie of die “passiewe party” te doen nie. En die hoepels waardeur hy moet spring om Sodom se storie te as gebrek aan gasvryheid te verduidelik laat mens dronk. Ja, mense gaan soos malles hulleself in die huis probeer in forseer nádat hulle almal blindgeslaan is omdat Lot nie gásvry is nie!? Hulle is self nie vreeslik gasvry nie, is hulle. Nee professor, jou stories hou nie water nie en jy is óf oneerlik óf oningelig as ’n teoloog. Waaroor ek deesdae nie meer verbaas is nie.

Hierdie kommentaar verminder geensins die menswaardigheid van gay mense nie. Stem net nie saam met die lewenstyl nie, ogv die Bybel en 2000 nee, 3000 jaar se tradisie. Volwasse mense het die vryheid om te leef en te glo soos hulle wil. Net so wil ek ook nie vertel word dat die Woord nie beteken wat dit sê nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui