‘Queering the prophet’: Verklaring deur kuratorium

Vir agtergrond oor hierdie artikel, kyk Opsomming: Queering the prophet conference, Stellenbosch 2022.

*******

‘Queering the prophet’: Verklaring deur kuratorium | Kerkbode

18 Februarie 2022

Verklaring van die dagbestuur van die kuratorium van die Wes-Kaap op 18 Februarie 2022

Die konferensie Queering the prophet van die Gendereenheid by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch is ter sake:

  1. Die dagbestuur het kennis geneem van bogenoemde konferensie en die wye gesprek wat daaroor op sosiale media en in Kerkbode plaasvind. Ons maak die volgende verklaring hieroor.
  2. Die dagbestuur het begrip vir die ontsteltenis wat daar by baie lidmate ontstaan het rakende die tema van die konferensie, “Queering the prophet”, en dit hoor as ’n provokatiewe titel. Dit is duidelik dat die begrip “queering” in akademiese kringe en by die algemene kerkpubliek verskillende betekenisse oproep. In akademiese kringe staan dit in verband met ’n poging om begrip te ontwikkel vir mense wat anders as ekself is of wat vir my vreemd oorkom. In ’n artikel in Kerkbode word dit verder verduidelik. “Queer hermeneutiek” vra dat die leser in die lees van die Bybel hierdie ander stemme innooi om saam die Bybel te lees en so die verstaan van die Bybel te verryk. Vir ’n groot deel van die kerklike publiek roep die begrip “queer hermeneutiek” en ’n tema soos “Queering the prophet” ander betekenisvelde op wat in verband staan met seksueel promiskue gedrag. Daar is tans in die kerk diep meningsverskille oor seksualiteit tot op die punt van kerkskeuring wat veroorsaak dat mense mekaar byna nie meer kan of selfs wil hoor nie.
  1. Lede van die dagbestuur het op uitnodiging ’n gesprek met die dekaan, prof Reggie Nel, en ander lede van die Fakulteit Teologie hieroor gehad. Ons is dankbaar vir die openhartige gesprek en sien hierdie as ’n geleentheid om die band met die fakulteit te verstewig. Ons erken die feit dat die kerk en fakulteit in ’n verhouding is waar ons mekaar respekteer vir elkeen se eie unieke rol. Die dagbestuur vra die fakulteit om ook die taal van die kerklike publiek in ag te neem wanneer hulle kommunikeer. Ons erken die akademiese vryheid van die fakulteit, maar vra ook vir die fakulteit om die diversiteit van standpunte in die kerk in berekening te bring. Vryheid staan nie los van verantwoordelikheid nie.
  2. Die fakulteit het aan ons verduidelik dat dit ’n akademiese konferensie van die Gendereenheid van die Beyers Naude Sentrum vir Publieke Teologie is, waar ’n diversiteit van perspektiewe ingenooi word. Die doel van die konferensie is juis om opponerende standpunte in te nooi ter wille van verheldering.
  3. Die NG Kerk is ten gunste van ’n oop en insluitende gesprek en daarom neem ons ook deel aan akademiese gesprekke waar daar uit die aard van die saak verskil van mening is. Ons wil graag deelneem aan gesprekke wat polarisering teenwerk en voorkom dat mense buite hoorafstand van mekaar kom. Die saak wat die konferensie aanspreek, naamlik om sensitiwiteit te ontwikkel om buitestanders in te nooi in gesprek, is ’n evangeliese saak.
  4. Die dagbestuur het intussen ook kennis geneem van prof Louis Jonker se brief in Kerkbode oor die konferensie, waarin hy sy bekommernis uitspreek oor die a-historiese aard van “queer hermeneutiek” en hom daarom van die konferensie distansieer. Die dagbestuur bevestig dat die lees van die Bybel in die lig van die historiese konteks waarin dit ontstaan het, sodat die tyd- en kultuurbetrokkenheid daarvan verreken kan word, in die uitleg daarvan uiters belangrik is. Om dié rede moedig die dagbestuur die kritiese gesprek tussen verskillende hermeneutiese invalshoeke op die Bybel, asook tussen diegene wat dieselfde invalshoek (onder andere Queer hermeneutiek) verskillend toepas, aan ten einde ons verstaan van die Bybel te verdiep. Ons sal met die NG Kerk se dosenteraad hieroor in gesprek tree.
  5. Ons vra ook vir die kerklike publiek om die ASM se protokol oor sosiale media te eerbiedig. Ons wil opnuut waarsku teen reaksies sonder om met die betrokke partye te praat. Sulke reaksies lei gewoonlik tot ’n wanvoorstelling van die saak. Doelbewuste vertekening en verdagmakery gaan egter nog verder en is skadelik vir die kerk en moet stopgesit word. Ons is oortuig dat dit altyd beter is om met mekaar te praat op soek na egte gesprek. Die dagbestuur bly hiertoe verbind.

1 thought on “‘Queering the prophet’: Verklaring deur kuratorium”

  1. “Die doel van die konferensie is juis om opponerende standpunte in te nooi ter wille van verheldering.”

    Hulle dink dat hulle “verhelder”, maar hulle verblind hulleself.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui