Persverklaring: Kairos Netwerk reageer op queer profeet konferensie

Vir die agtergrond hiervan, kyk Opsomming: Queering the prophet conference, Stellenbosch 2022.

Kyk ook Queer-teologie by Maties “’n krisis vir die kerk’” waar Rapport hieroor berig.

*********

Persverklaring – 18 Februarie 2022

DIE NGK EN SY TEOLOË IN DIEP (OORLEWINGS)KRISIS

Baie lojale NGK-lidmate, gemeentes, predikante en gebalanseerde groeperinge asook die Kairos Netwerk(KN) het in die afgelope week met baie groot skok en verbasing kennis geneem van die “Queer-teologie Konferensie” wat binnekort by die Fakulteit Teologie by Stellenbosch plaasvind.

Dit dui waarskynlik op ’n baie diep krisis, selfs ’n oorlewingskrisis in die NGK en ook in die geledere van sy teoloë. Daar is skynbaar ’n baie groot geskarrel in die hoenderhok van die NGK-leierskap en binne sinodale strukture. Ons as gebalanseerdes wys graag op die volgende baie kommerwekkende ontwikkelinge, asook enkele rigtinggewende stippellyne in hierdie krisis, voordat tot enkele gevolgtrekkings gekom word:

KOMMERWEKKENDE ONTWIKKELINGE

Die feit dat die Fakulteit Teologie by Stellenbosch waar ook NGK -studente opgelei word, nie gehuiwer het om ’n konferensie oor “Queering the Prophet (Jonah)” tussen 16-18 Maart aan te bied nie, wek baie groot kommer. Ernstige vrae sal aan die Bestuur van hierdie Fakulteit gerig moet word hoe hierdie eensydige ideologiese gelade tema hoegenaamd toegelaat kon word. Akademiese vryheid versus akademiese verantwoordelikheid is hoegenaamd nie ’n verskoning om dit te verduidelik nie.

Vervolgens sal baie ernstige vrae aan die NGK Kuratorium(=toesigliggaam) van die Fakulteit Teologie en hul voorsitter Frederick Marais gerig moet word oor die waarskynlike seën wat hulle oor die konferensie uitgespreek het.

Ook die Moderamen van die Wes-Kaapse Sinode sal vrae moet beantwoord oor die feit dat hulle die konferensie skynbaar aanvanklik met vrymoedigheid op hul webwerf geadverteer en gepropageer het, maar ook toe kort daarna as moontlike skade-beheer van hul webwerf verwyder het.

Hiernaas sal ook die Gender Studiegroep asook die Beyers Naude Sentrum vir Publieke Teologie verduidelikings moet voorsien, want hierdie konferensie plaas beide hierdie instellinge onder baie groot akademiese verdenking. Die tema van hierdie konferensie staan naamlik duidelik in die teken van eensydige teologisering waar kwessies soos kritiese ras-teorie en (wit)mags-diskoerse aan die orde van die dag is. Sulke diskoerse dui dikwels op ’n moontlike onderskrywing van Marxisties ideologiese denke. Die lens waardeur hierdie konferensie na die Bybel wil kyk en wat selfs ook in die betrokke US Fakulteit Teologie gedoseer word, is onomwonde ’n eensydige Queer-lens

‘n Voormalige moderator van die NGK, prof Nelus Niemandt is tans besonder sterk op die verdediging en het hom onlangs skerp teenoor KN as profetiese stem uitgelaat as dat die Netwerk ’n “Neulpot van Ontevredenes” is wat nie oop is vir reformasie nie. Dis juis hier waar hy ’n groot fout maak, want dis dan juis die NGK en sy leierskap wat in sy eie woorde “nie oop is vir reformasie nie”. Hiermee wys hy eintlik as die skynbare huidige spook-woordvoerder van die ASM, hoe hulle onderrok van frustrasie en ongeduld uithang, en dat hulle eintlik nie veel konstruktiefs of positiefs in die huidige krisis-gesprek wil indra nie.

Die feit dat ’n senior professor in Ou Testament by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch naamlik Louis Jonker hom van hierdie konferensie gedistansieer het, is uiters betekenisvol en merkwaardig. Hy meen tereg dat hierdie konferensie ’n a-historiese benadering tot Bybelinterpretasie verteenwoordig. Hy meen dat die eie konteks (van gender-eensydiges) Bybelinterpretasie inkleur, iets wat ons ook in apartheidsteologie gesien het. Die foutiewe aanname wat Jonker en ook die Queer- konferensie organiseerders egter maak dat die uitleg-teologie wat KN sou aanwend eensydig is en sy goeie keuses vir beter en meer gebalanseerde toekomstige teologiese opleiding foutief is, is van alle waarheid ontbloot. KN en andere roep juis op tot verantwoordelike Bybeluitleg. Jonker is bekend daarvoor dat hy ’n noue band as teoloog met die kerk probeer handhaaf. Sy distansiëring van hierdie konferensie dui waarskynlik op ’n gat wat in die dyk van die NGK begin ontwikkel

RIGTINGGEWENDE STIPPELLYNE VORENTOE

Verantwoordelike hermeneutiek oftewel die gebalanseerde verstaan van die Bybelse teks is in enige teologiese fakulteit en in enige welmenende kerk van kritiese belang. Ons oortuiging is dat die Bybelse teks grammaties-histories verstaan moet word. Om met ’n gelade “Queer hermeneutiek”(=verstaanswyse) na die Bybelse teks te kom is uiters gevaarlik en kan eintlik op niks anders eindig as ’n uitsiglose doodloopstraat nie.

Om die Bybelse teks te probeer verstaan moet ’n mens eksegese beoefen dws ’n mens moet die teks uitlê. Die “Queer hermeneutiek” doen niks anders as om ’n gender-ideologie in die teks in te dra nie en uiteindelik inlegkunde te beoefen nie. Dis die dwaasste moontlike manier om met ’n teks om te gaan.

Die Queer-teologie soos gevisualiseer deur die Stellenbosch-konferensie is eintlik ook niks anders as ’n modegier en ’n tydsgees-matige manipulasie van die teks nie. Dit hou beslis niks goeds in nie, en plaas die LGBTIQ+ diskoers asook die Fakulteit Teologie by US onder verdere groot verdenking. Trouens met hierdie konferensie word die eensydige LGBTIQ+ diskoers in die NGK gelukkig ’n gevoelige nekslag toegedien, en die diskoers wat nou erg gekontamineer is sal nie gou weer uit hierdie selfgemaakte graf herrys nie.

GEVOLGTREKKINGS

Die leierskap van die Fakulteit Teologie by US is dus in ’n krisis gedompel, en is ’n verskoning aan die breë NGK en die akademie verskuldig.

Die leierskap van die NGK asook die NGK Moderamen van die Wes-Kaapse Sinode is eweneens in ’n baie diep krisis gedompel. Hulle moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar dat hulle die LGBTIQ+ debat vroeg en laat gestimuleer het, en nou pluk hulle die wrange vrugte van hierdie eensydige tipe teologie met die stilswyende aanvaarding van ’n bedenklike teologiese konferensie. Eintlik sal die leierskap van die NGK nie uit hierdie krisis kan kom as hulle nie besluit om langs die weg van skuldbelydenis teenoor die kerk in al sy geledinge asook alle lidmate te kom oor al die eensydighede wat gedurende die afgelope dekades in die NGK ingesluip het.

Indien die NGK-leierskap en al sy geledinge nie tot hierdie punt van skuldbelydenis en hartgrondige reformasie kom nie, sal dit moontlik nie ongegrond wees om te wonder of die NGK finaal in die rigting van ’n valse kerk beweeg nie.

Nou is die vraag maar net of die NGK en sy leierskap enersyds hierdie baie diep krisis gaan aanspreek, en of die leierskap andersyds deur sy eie toedoen die NGK onherroeplik in twee gaan skeur?

Anton Knoetze

Namens Kairos Netwerk bestuur

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui