Kuratorium reik verklaring uit – God is ook ’n vrou

Vir agtergrond, kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.

My kommentaar is in [rooi-bruin blokhakies]. Kyk ook kommentaar onderaan.

*******

Kuratorium reik verklaring uit

16 April 2021

Na aanleiding van kommentaar op sosiale media oor die onlangse legitimasiegeleentheid van diensleraars reik die dagbestuur van die Kuratorium van die Sinode van Wes-Kaapland die volgende verklaring uit.

Die legitimasiegeleentheid het op 29 Maart 2021 by die NG Gemeente Stellenbosch-Wes plaasgevind. Veral die Facebook-plasing van ds. Stefaan de Jager getiteld Gender- en Prisma Afgode het heelwat gesprek ontlok en daar is ’n berig op Netwerk24 gepubliseer onder die opskrif: Herrie oor verwysing na God as vroulik, ’n “prisma” (14 April 2021).

Die dagbestuur neem kennis van die gesprek en berig en bevestig dat gesprek oor sake In die kerk verwelkom word. Volgens dr Frederick Marais, skriba van die kuratorium, lei gesprekke tot beter insig oor aangeleenthede. Die dagbestuur verwys na ’n onlangse besluit van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) wat in November 2019 spesifiek oor gesprek op sosiale media geneem is. Hierdie besluit moet ook gelees word saam met die gedragkode wat deur die 2019 Algemene Sinode goedgekeur is:

1. Die ASM neem met groot besorgdheid kennis van die wyse waarop daar in kerklike gesprekke en veral op sosiale media op kwetsende en etiketterende manier oor mense gepraat word.

2. Die ASM doen ’n beroep op alle lidmate, ampsdraers en kerkvergaderings om hulle te weerhou van uitsprake wat getuig van liefdeloosheid — en wat selfs grens aan haatspraak, skeurmakery, verdagmaking en valse getuienis.

3. Die ASM versoek dat alle lidmate, ampsdraers en kerkvergaderings hulle verbind tot gesprekke wat gekenmerk word deur die Christelike waardes van respek, luister, omarming — en bowenal, liefde.

Die dagbestuur is van oordeel dat die strekking en aard van die ds. De Jager se plasing bogenoemde etos oortree het. Daar is ook kennis geneem dat ds. De Jager ook nie, soos gebruiklik in kerklike gesprekke, met die betrokke kollega óf die Kuratorium, wat hy in die plasing direk aanhaal en beskuldig, persoonlik gekontak of inligting ter verheldering by hulle probeer inwin het nie. [Kommentaar: Dit help nie om op hierdie stadium, nadat Frederick Marais reeds die twee dames op Facebook verdedig het, te redeneer dat Stefaan die kuratorium eers persoonlik moes kontak nie. Dit bewys dat dit nie sou gehelp het nie. Ons weet mos nou al – daar is ’n vasgelooptheid tussen behoudendes en liberales in die NG Kerk. Geen koffiegesprek sal help nie.] Ds. De Jager beskuldig die twee leraars wat in die diens opgetree het herhaaldelik van “afgodery”. Iets wat hy ook later volgens die berig op Netwerk24 bevestig in sy verwysing na die oortreding van die tweede gebod – jy mag nie afgode dien nie. So ’n beskuldiging is van die ergste aanklagte wat leraars of lidmate teenoor mekaar kan maak.

[Kommentaar: Dit is inderdaad ’n erge beskuldiging, maar is dit nie presies wat gedoen word nie? Kyk Welkom by Bou-‘n-God.]

Die dagbestuur betreur dit dat ’n leraar van die kerk ’n beskuldiging van hierdie aard publiek maak sonder om enige poging aan te wend om die konteks of bedoeling agter woorde en stellings te verstaan. [Kommentaar: “Dat God drie-enig háár verbond bevestig. Of hóm. Hoe ookal jy dit sien.” Dit is duidelik genoeg wat die bedoeling is.] Dit is ’n duidelike afwyking van die etos van die ASM se besluit en die goedgekeurde gedragkode van die kerk.

Voorts word die beskuldiging van “afgodery” gemaak omdat daar in die preek gesê is God kan “manlik of vroulik” wees en in ’n gebed die metafoor van ’n prisma gebruik is in ’n verwysing na God. Ds. de Jager koppel die metafoor van die prisma aan Hindoeïsme. Die Bybel praat oor God in ’n manlike én ’n vroulike vorm. Dit is ook bekend dat deur die geskiedenis van die kerk dikwels na God verwys word met vroulike of manlike eienskappe. Dit is verder so dat ons nie oor God kan praat sonder om metafore te gebruik nie en dat die kerk nog altyd ook met behulp van eietydse metafore die Bybelse verhaal van God beskryf het. [Kommentaar: Om na God te verwys as “haar” is nie ’n metafoor nie. Dit is om God vroulik te maak. As iemand sê: “Daardie man sorg vir sy kinders net so goed soos ’n vrou dit sou doen”, beteken dit nie die man is ’n vrou en dat jy na hom in die vroulike kan verwys nie. Hy bly ’n man.]

Die dagbestuur is van oordeel dat die beskuldigings van ds. De Jager ongegrond, kwaadwillig en verdagmakend is. In die verdere bespreking van die saak, koppel ds. De Jager sy beskuldigings aan “liberale teologiese opleiding”. [Kommentaar: Kyk NGK teologiese fakulteite laat ’n slagveld agter.] In later kommentaar praat hy van “gender behepte dwaalleraars”, “postmoderne liberale teologie”. Hy sê onder andere “ons kan hierdie verrotting kerkkaping noem”. Ds. de Jager skep op hierdie manier ’n narratief van agterdog sonder dat hy op enige manier met die Kuratorium in gesprek getree het. Die Kuratorium sal graag met hom in gesprek tree oor vrae en oor bekommernisse, maar nie op sosiale media nie, reken dr. Marais. [Kommentaar: So ’n gesprek sal totale tydmors wees. “Vasgelooptheid“, onthou jy?]

Dit het die dagbestuur ook opgeval dat daar in die meegaande kommentaar oor ds. De Jager se plasings sprake is van erge seksistiese en neerhalende verwysings teenoor vroue. Seksisme en enige vorm van neerhalende verwysing na vroue is reeds verskeie kere deur die NG Kerk afgewys. “Die dagbestuur sal die Ring van Humansdorp versoek om ds. De Jager te vra om sy plasings oor hierdie aangeleentheid te verwyder en verskoning te vra vir die verdagmakery en wanpersepsies wat hy hiermee geskep het, asook die onregverdige leed wat hy die betrokke kollegas aangedoen het,” sluit dr. Marais af.

Uitgereik deur ds. Peet Bester (voorsitter) en dr. Frederick Marais (skriba) namens die dagbestuur van die Kuratorium, Sinode van Wes-Kaapland.

Vir enige verdere navrae kan dr. Marais gekontak word by jfm@sun.ac.za of 021 808 3381.

Kommentaar

Smuts van Rensburg

Vriende, ek lê wakker omdat die reaksie van Frederick Marais en Peet Bester namens die kuratorium my nog net meer ontstel. Hul reaksie is op die kritiek wat uitgespreek is oor wat by die legitimasie geleentheid gebeur het – die kritiek op die verwysing na die geslag van God in die preek (“manlik of vroulik, hoe jy dit ook al sien”) en die gebed tot “heilige prisma”. Die skrywe van Marais/Bester fokus spesifiek op die kritiek van Stefaan de Jager en verdagmakery op sosiale media. In die skrywe beroep Marais/Bester hulle op die reëls wat die AS neergelê het vir kommunikasie in die kerk, spesifiek op sosiale media. Op grond van hierdie reëls wil die skrywe hoogheilig en uit ’n onaantasbare magsposisie sê: Niemand mag van ons verskil nie. Enige kritiek of verskil van mening, word as verdagmakery geklassifiseer. Marais/Bester handel met die wyse van kritiek, maar glad nie met die inhoud van die kritiek nie.

Die inhoud van die kritiek handel oor 1) die verwysing in die preek na die geslag van God en 2) die gebed tot heilige prisma. Daaroor moet gepraat word. (Sjoe, hartseer, tragies dat ons in ’n gereformeerde kerk enigsins daaroor moet praat – asof die Bybel, en die belydenisskrifte op grond van die Bybel, nie reeds met ons daaroor gepraat het nie.)

Wat my verder ontstel is Marais se reaksie op kritiek oor gebeure by die legitimasie geleentheid (Netwerk 24). Marais verdedig wat gebeur/gesê is deur te sê dat studente geleer word om vrae te vra en nuut te dink. Juis dít is die kritiek – dat teologiese studente geleer word om die Heilige Skrif te bevraagteken, en nie om in onderdanigheid en aanbidding daarvoor te buig nie. Juis dit is die kritiek – dat studente geleer word om nuut te dink, en nie om op grond van die Woord alleen oor God te dink nie. Hiermee help die belydenisskrifte ons, en dit is waaroor teologiese studente onderrig moet word. Dít is juis waaroor die kuratorium van die NGK moet waghou – dat studente geleer word om die Woord te verstaan en verkondig in ooreenstemming met die belydenis van die kerk. Ja, natuurlik kan studente geleer word om vrae te vra en nuut te dink oor die wyse van bediening in verskillende kontekste, maar nooit mag studente geleer word om vrae te vra oor die gesagvolle uitsprake van die Skrif nie, en om nuut te dink oor God – asof God weer uitgedink moet word nie.

Boonop nooi Kerkbode lesers nou om oor hulle Godsverstaan deel te neem aan die gesprek.

Terug by die legitimasie geleentheid self:

Daar moet gesprek gevoer word oor die prediker se verwysing/bewoording i.s. God se geslag – Vader, Moeder, hoe jy dit ook al sien. Juis dít is die probleem – “hoe jy dit ook al sien”. Dit gaan nie oor mý siening van God nie, dit gaan oor wat die Skrif ons leer, naamlik dat God ons Hemelse Vader is, en dat Hy Hom soos ’n (moeder)hen ontferm oor sy kuikens.

Daar moet ook gesprek gevoer word oor die gebed tot “heilige prisma”. Word daar een maal in die Skrif na die Drie-enige God verwys as “heilige prisma”? Leer Jesus self ons dan nie om ons Vader in die hemel in sy (Jesus se) heilige Naam aan te roep nie?

Marais/Bester, ek vra mooi, en ek bid ernstig – hoor die inhoud van die kritiek. En hoor die pleitstem van huilendes, dat die Woord alleen ons Godsbeeld moet vorm, en dat ons moet leer om te bid soos die Woord, soos Jesus self ons leer. Hoor ook ons herinnering, dat die kuratorium die gewigtige opdrag het om te waak oor die opleiding van teologiese studente – nie om krities en nuut oor God te dink nie, maar om toegerus te word om as bedienaars van die Goddelike Woord alleen mense in verskillende kontekste te bedien.

2 thoughts on “Kuratorium reik verklaring uit – God is ook ’n vrou”

  1. Dit maak my naar. Elke Tom, Dick en Harry, wat die siening huldig dat God ook in die Bybel as vroulik uitgebeeld word, gebruik Jesus se woorde in Lukas 13:34 “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!” (Vgl.Jes31:5)
    Hierdie metafoor maak God net so min vroulik as wat dit Hom dierlik maak! Dit dui bloot daarop dat Hy hulle wou beskerm. As dit hulle redenasievlak is, moet mens seker verstaan dat die Bybel vir hulle ’n geslote boek is. (Vgl Jes 29:13-14)

  2. die wereld rebeleer teen God ,Jesus en die Huilige Gees se manlikheid . vrou ken jou plek volgens die Bybel , jy is vir die man geskape nie hy vir jou

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui